Die enigste vroulike finalis van Solidariteit Helpende Hand se Entrepreneurskompetisie is gister aangekondig as wenner van die landwye kompetisie wat gerig is op hoërskoolleerders.

Simoné Schoeman, het reeds haar eie fotografiebesigheid waar sy ʼn verskeidenheid bekostigbare pakkette beskikbaar stel waaruit kliënte kan kies.

Simoné het weggestap met ʼn kontantprys van R15 000 om in haar besigheid te belê, asook R15 000 vir haar skool wat vir entrepreneursontwikkeling aangewend sal word.

Louis van der Watt was die gasspreker by die prysoorhandigingsgeleentheid wat by Solidariteit se hoofkantoor in Centurion gehou is.

Die vyf finaliste van Solidariteit Helpende Hand se Entrepreneurskompetisie is gister deur Atterbury Trust verras met ‘n bonus van ‘n R5 000 kontantprys elk!

Atterbury se Louis van der Watt saam met die vyf finaliste

Atterbury se Louis van der Watt saam met die vyf finaliste

Die vyf finaliste was Dricus Oerlemans van Hoërskool Menlopark in Pretoria, Mervyn Roos van Hoërskool Boland Landbou in die Paarl, Simonè Schoeman van Hoërskool Merensky in Tzaneen, Jean-Pierre Bosch van Hoërskool Die Anker in Brakpan en Nico Brayshaw van Hoërskool Heilbron.

Dricus, ‘n graad 10-leerder, het sy eie voëlboerdery waar hy spesies soos ringnekke, lagduifies, African Grey papagaaie, wedvlugduiwe, budgies, vinkies en nog baie ander verkoop. Hy vertel dat hy al met voëltjies boer vandat hy ses jaar oud was, maar dat sy boerdery sedertdien so uitgebrei het dat hy vandag ‘n hele aantal hokke vol voëls besit. “Voëls is duur om aan te koop en ‘n jong outjie soos ek het nie altyd daardie soort kapitaal nie!” lag hy. “Maar met baie trane, geduld en harde werk is ek vandag trots op my besigheid.”

Mervyn vertel dat hy sy stokperdjie tot ʼn besigheid ontwikkel het. Volgens hom is daar ʼn groot behoefte aan vars plaaseiers van ʼn hoë gehalte in sy omgewing. “Plaaseiers in die winkels is duur en soms waterig en oud. Ek het hier ʼn geleentheid gesien om van die oortollige eiers wat ons nie in ons huis gebruik nie aan vriende en familie te verkoop. Tot my verbasing kon ek nie voorbly met al die bestellings nie en moes ek dus ʼn volhoubare sakeplan hiervoor ontwikkel.”

Jean-Pierre Bosch het sy handwerkvernuf ingespan om deur sy besigheid, Noah’s Handcrafts, houtprodukte soos plantbokse, speseryrakke, koffietafels, wynrakke, gereedskapkiste en speelgoed teen bekostigbare pryse te vervaardig.

Nico se besigheid behels kommersiële handel met springmielies en vrugtesapysies wat hy aan sy skool se snoepie, sy maats en aan Voortrekkerkampe se snoepies verkoop. Hy verkoop ook die springmielies by karnavalle, waar hy dit in sakkies verpak met verskillende geure waarvan sy kliënte hou.

HH_Entrepr_nooi