Wat leer die wêreld se taalgeskiedenis ons oor die toekoms van Afrikaans?

Wat leer die wêreld se taalgeskiedenis ons oor die toekoms van Afrikaans?

Afrikaans is een van net vier tale wat in die twintigste eeu kon moderniseer tot ’n volle funksionele taal, en dit was die sterkste letterkundige taal in SA in die 90s, as die volumes van produksie as maatstaf gebruik word, skryf Solidariteit se Flip Buys op Maroela Media se webwerf. Die taal se posisie het helaas vinnig begin verswak, so ons moet leer uit die internasionale taalervaring en die navorsing van toptaalkundigers, meen hy. Daar is 21 “taalwetmatighede” is ’n opsomming van die belangrikste taallesse soos dit uit internasionale navorsing en gevallestudies blyk.

1. Taalverskuiwing na ’n wêreldtaal bedreig kleiner tale
Die grootste gevaar vir ’n betreklike klein taal is die geleidelike taalverskuiwing na ’n wêreldtaal soos Engels toe – gewoonlik ná ’n oorgangstydperk van tweetaligheid. Taalsosioloë soos Jean Laponce en prof. Jaap Steyn voer aan dat die grootste faktor wat taalverskuiwing veroorsaak die gebrek aan ’n taalgebied is waarin dit die moedertaal van die grootste meerderheid inwoners vorm.

2. Tweetalig word eentalig
Die Franssprekende taalsosioloog, Jean Laponce, waarsku dat ’n tweetalige skool of universiteit bloot die skyn van taalgelykheid skep. Tweetaligheid in ’n opvoedkundige instelling is in die praktyk ’n oorgangsproses na taalinlywing en uiteindelik na eentaligheid in die wêreldtaal.

3. Hoër taalfunksies is noodsaaklik vir taaloorlewing
Die handhawing van ’n taal se hoër funksies is bepalend vir die toekoms van enige taal. Dit behels die amptelike gebruik van ’n taal in die staatsdiens, geregshowe, universiteite, skole en die handel. Kom ’n taal nie in sy hoër of formele funksies tot sy reg nie, ondermyn dit gaandeweg ook die taal se laer of informele funksies, soos die algemene gebruik van die taal by die huis. Hierdie vraagstuk bied besondere uitdagings as die voorstanders van die kleiner taal uitgesluit is van politieke mag omdat die magshebbers die beheer oor die hoër funksies uitoefen. Die bekende opvatting dat Afrikaans sal oorleef solank dit net in ons harte is, gepraat word en ’n vriendelike taal is, verreken nie en onderskat die bestaansvoorwaardes vir taaloorlewing.

4. Taalproduksie bepaal taalverbruik
Die belangrikste teenstelling met die stand van Afrikaans is dat, hoewel taalverbruik skynbaar floreer, taalproduksie kwyn. Daar is die afgelope jare ‘n groot oplweing in die informele funksies soos Afrikaanse musiek, kunstefeeste en ligte leesstof. Sonder produksie is verbruik egter nie volhoubaar nie. Met taalproduksie word verwys na universiteite 
en skole waar ’n nuwe geslag Afrikaanssprekendes opgelei word en waar Afrikaans as wetenskaps-, tegnologie-,
literêre en vaktaal verder ontwikkel word.

5. Taalmedia is die belangrikste vermenigvuldiger
Die media is ’n noodsaaklike “vermenigvuldiger” van taal en taalinstellings. Die media bied aan mense ’n leefwêreld in hul eie taal en bind ’n taalgemeenskap saam. Die media kan hul gebruikers inlig, opvoed en vermaak. Dit is ’n vermenigvuldiger van Afrikaanse instellings se werk en kan byvoorbeeld Afrikaanse skole bevorder, Afrikaanse koopkrag mobiliseer, steun werf vir Afrikaanse projekte en ’n Afrikaanse lewe moontlik maak.

6. Onderwys en opleiding kweek die volgende geslag sprekers
Dit is ironies dat diegene wat tydens die Soweto-opstande van 1976 teen Afrikaans as die taal van die verdrukker in verset gekom het, nou geesdriftig die taal van die grootste koloniale moondheid in die onlangse geskiedenis ondersteun. Die politieke ideologie van nasiebou is vir die bewindhebbers belangriker as die gevolge van hierdie opvoedkundige taalmishandeling van miljoene swart kinders. Suid-Afrika is moontlik nou die enigste land ter wêreld waar dit van sy kinders verwag word om hul huistaal te laat vaar.

Moedertaalonderrig is nie net ’n taalbeginsel nie, maar veral ook ’n opvoedkundige beginsel. Daar is genoegsame bewyse dat jongmense ten beste kennis in hul eie taal opdoen, wat hulle dan terselfdertyd in staat stel om hierdie kennis ook doeltreffend in ’n ander taal toe te pas.

Dr. Rolf Stumpf het, toe hy president van die RGN was, met verwysing na die goeie uitslae van Afrikaanse moedertaalskole teenoor ander openbare skole gesê dat ons land eerder ’n taalprobleem as ’n onderwysprobleem het. Die Zimbabwiese geleerde, Tembo Dlodlo, het al in 1997 gewaarsku dat Afrika “wetenskaplik, ekonomies en tegnologies agterlik” sal bly, tensy skole kinders se moedertale as onderrigmedium begin gebruik.

Universiteite is egter net so belangrik. Prof. Lawrence Schlemmer het dit treffend saamgevat: “Die grootste gevaar vir Afrikaans is: As dit as universiteitstaal verswak of verdwyn, sou dit die ondergang van Afrikaans as wetenskapstaal, as vaktaal, as taal van intellektuele omgang, en ook as letterkundige taal beteken. Baie tale het al op grondvlak oorleef, maar kon nie voluit leef in al hul taalfunksies nie. Daar is min twyfel dat Afrikaans in sportstadions, kafees, kroeë, en sit- en slaapkamers gaan oorleef. Maar wie gaan dit ernstig opneem as dit nie op intellektuele en professionele vlak oorleef nie? Soos die meeste ander inheemse Afrikatale sal Afrikaans in so ’n geval onthoof wees.”

Taalhistorikus Prof. Herman Giliomee het ook gewaarsku dat die verengelsing van eertydse Afrikaanse universiteite vir Afrikaans rampspoedig kan wees. Hy meen dat sonder Afrikaanse universiteite, wat ’n Afrikaanse kultuurkarakter dra, daar nie veel kans is dat Afrikaans as taal met hoër funksies kan voortbestaan nie. Dit sal volgens hom ook lei tot die verengelsing van die Afrikaner-elite.

7. Ekonomiese waarde van ’n taal is noodsaaklik vir oorlewing
Dit is noodsaaklik dat ’n taal ook ’n ekonomiese waarde het wat beteken dat mense ook in hul moedertaal moet kan werk of ekonomies aktief moet kan wees. Dit sluit natuurlik die beheersing van ’n wêreldtaal soos Engels saam met hul moedertaal in. Dit is insiggewend dat die Indiese grondwet bepalings bevat wat taalkennis ’n voorvereiste maak vir indiensneming in bepaalde provinsies van die land. Daarteenoor maak die rassekwotas vir indiensneming in Suid-Afrika dit uiters moeilik om Afrikaans in die ekonomie te gebruik, en raak Engels daarom selfs die amptelike en saketaal in die Wes-Kaap.

8. Amptelike erkenning en gebruik bepaal taalstatus
Die Grondwet maak teoreties vir die amptelike status van 11 tale voorsiening, maar in die praktyk het Engels die landstaal en die prestigetaal geword. Dit het veral gebeur vanweë die status wat vanaf owerheidsweë aan die taal verleen word, terwyl die ag van Engels as wêreldtaal natuurlik ook grootliks daartoe bygedra het.

Lees gerus die res van die artikel hier: http://maroelamedia.co.za/blog/afrikaans/21-taalwetmatighede-en-die-toekoms-van-afrikaans/

Leave a Reply

%d bloggers like this: