Somervakansie is almal se gunstelingtyd van die jaar, of jy ‘n glanspersoonlikheid is of ’n gewone salaristrekker. In deel drie van ons “vervolg-reeks” hoor ons by drie van ons gunstelingsterre oor hulle vakansie en wat 2015 vir hulle inhou.

Elvis Blue @elvisblue

“Die hoogtepunt van my somervakansie was om tussendeur die musiek maak, ook trampolien te spring en melkskommels te drink saam met my meisies,” vertel sanghartebreker Elvis Blue, ’n gereelde gesig op die Atterbury Teaterverhoog. Hy sit nie spesifiek tyd eenkant om voornemens vir die nuwe jaar te maak nie, want hy glo mens moet maar altyd goeie voornemens hê. “Ek probeer maar altyd ‘n balans handhaaf, vakansie of nie vakansie nie,” meen hy, en dit is ook hoekom hy nie ‘n spesiale nood-dieët of superstrawwe oefeningroetine in Januarie hoef te volg om Desember se partytjiedemone teen te werk nie!

Wat hy wel in 2015 wil doen is om ’n huis te bou, vertel die Rede Om Te Glo sanger. “Ek en my vrou droom nou al vandat ons getrou het dat ons dit sal kan doen! Dit gaan nie groot wees nie maar dit sal ons sin wees!” Dan is daar ook die droom om met ‘n paar goeie vriende te gaan branderplankry in Indonesië…

En wat kan Elvis Blue aanhangers verwag vir 2015? “Ons werk al die laaste jaar en ’n half aan ’n nuwe album, wat in die middel van 2015 vrygestel sal word.” Hou hierdie spasie dop! http://www.elvisblue.co.za/

 

Gert-Johan Coetzee

Gert-Johan Coetzee @gertjohancoetzee on FB @gertjohan on Twitter

Spogontwerper Gert-Johan Coetzee het soos gebruiklik sy Kersvakansie op die familieplaas in Koster, in die Vrystaat deurgebring, maar dié slag was dit die eerste keer as ’n getroude. Gert-Johan en sy man, Vicky Visagie, het verlede Maart na 9 jaar saam die knoop deurgehaak. “My skedule is so besig dat dit soms moeilik is om die hele familie te sien, so die somervakansie was baie kosbare tyd saam,” sê die 27-jarige Johannesburger.

Hy het voorgeneem om in 2015 meer gesond te lewe en meer tyd saam met familie en vriende deur te bring. “En natuurlik om seker te maak dat elke rooi tapyt in Suid-Afrika skitter met Gert-Johan Coetzee uitrustings.” Sover gaan dit goed; hy het koffie en koringprodukte uitgesny, en het weer toegewyd begin oefen by die gym.

In 2015 is wil hy fokus daarop om meer internasionale sterre te wys wat ons Suid-Afrikaanse ontwerpers kan doen, vertel die jong ontwerper wie se rokke al by geleentheid deur ‘n Kardashian asook die sangeres Kelly Rowland op ’n rooi tapyt in Hollywood gesien is. Benewens die glansrokke brei hy ook sy ready-to-wear reeks uit wat in uitgesoekte Edgarswinkels en op die aanlynboetiek Spree te koop is. “Dis vir my ‘n droom om te sorg dat GJC glans vir elke Suid-Afrikaanse vrou beskikbaar moet wees, so ek gee nou baie aandag aan die boetiekreeks.” Hy is juis nou besig om die nuwe somerreeks vir 2015 in produksie te kry, sodat Suid-Afrikaners vir die eerste keer ooit ’n uitrusting wat op die loopplank by South African Fashion Week gemodelleer word, dadelik by http://www.spree.co.za/en/gertjohancoetzee kan bestel en binne dae reeds kan dra.

Sy vakansiedroom is om saam met Vicky Machu Picchu in Peru te besoek, en ook om Indië toe te gaan “om te gaan lap koop”. Hy sien ook uit daarna om in die tweede helfte van 2015 vir die vierde jaar sy suksesvolle beursprogram saam met North West School of Design aan te pak en ’n student te kies wat in sy voetspore kan trap en gaan modeontwerp studeer.

Tussendeur is daar baie glansgeleenthede om by te woon, kliënte om soos prinsesse te laat voel, en lang ure om in die ontwerpateljee saam met sy span die mooiste bruidsrokke en ander droomgewade op te tower. “Ek glo enigiets is moontlik in 2015!” http://gertjohancoetzee.com

 

Heinz Winckler pic

Heinz Winckler @heinzwinckler

Heinz Winckler en sy vrou Alette het verlede jaar Somerset-Wes toe getrek, so elke dag voel soos vakansie vir hulle. Oor die pas afgeloopte feesgety het hulle meestal van die huis af lekker goed gedoen as gesin, maar elke jaar se hoogtepunt, sê Heinz, is Kersfees by sy ouers se huis in Bettiesbaai. “Hierdie keer was ekstraspesiaal, want my suster het die dag ná Kersfees getrou, so dit was behoorlik feestelik!”

Wat nuwejaarsvoornemens betref, vertel Heinz dat hy en Alette 3 Januarie opsygesit het om te bid, te dink en te beplan aan die jaar. “Baie van ons voornemens is vinnig getoets, maar ons staan darem nog! Die een groot ding vir ons was om in die oggende met die kinders tyd deur te bring deur die Kinderbybel te lees en saam te bid. Die gewoonte was voorheen om dadelik die TV aan te sit en vir hulle ontbyt te gee. Maar hierdie nuwe manier werk beter en ons glo dit skep ’n beter roetine.” Die Wincklers het ook soos hulle gewoonte is die jaar met ‘n 21-dae gedeeltelike vas begin. “Ons fokus op groente, vrugte en wit vleis en sny alle rooi vleis, suiker, brood en wyn uit. Die doelwit is nie gewigverlies nie, maar dit gebeur in elk geval,” vertel die Meisie van my Hart sanger.

As hy een droom vir 2015 kon laat waar word, sou dit wees om in Amerika aan The Voice te gaan deelneem, en sy ideale vakansiedestinasie is Hawaii. “Ek en Alette droom al lank oor ’n Hawaii-vakansie!” Dis nou te sê as hy wegkomkans kry tussen al die bedrywighede in sy dagboek… van toneelspeel en liedjieskryf tot optree en boekskryf. “My shows is op my webtuiste, www.heinzwinckler.com, en 2015 is nogal bedrywig ja – ek is eersdaag te siene in ’n rol in Mooirivier, ek stel ’n boek, In Ritme Met God, vry en ek werk aan ’n nuwe album. Ek is ook besig om ’n nuwe Lullabye album vir my vrou en haar beste vriendin te vervaardig en ek werk aan twee ander opkomende sangers se albums.”