Versnit, die jaarlikse Januarie musiekkonsert in die Stellenbosse wynlande, is ’n hoogtepunt op Atterbury Trust se kalender.  Vanjaar was reeds die sewende jaar van hierdie uitmuntende musiekaand wat ten bate van die Trust by Jean Engelbrecht se pragtige Rust en Vrede landgoed gehou word. Die gaste het elkeen as ’n geskenk ’n gedenkboek ontvang wat die hoogtepunte en spesiale oomblikke van die vorige ses jaar in woorde en foto’s vasvang.

“Versnit het ’n wonderlike tradisie geword van heerlike samesyn met mooi musiek en lekker kos en wyn in ’n wonderskone omgewing,” sê uitvoerende trustee, Zahn Hulme. “Maar die heel mooiste hiervan is hoe die gaste hul hande diep in hul sakke steek om die Trust te ondersteun… Ons is elke jaar so oorweldig deur die ruimhartigheid; die gemeenskap van Versnit maak dit vir die Trust moontlik om ’n verskil in soveel behoeftige mense se lewens te maak. Daarvoor wil ons weer vir Jean Engelbrecht met sy groot hart vir liefdadigheid en Afrikaans baie dankie sê dat hy sy pragplaas met ons almal deel. Ook aan Calvyn Hamman van Toyota vir hulle borgskap om die aand moontlik te maak.”

Vanjaar se konsert het soos die tradisie dit wil hê, ’n keur van die beste Afrikaanse musiektalent byeengebring vir ’n uitsonderlike aand teen die agtergrond van die wingerde. Jo Black, Elvis Blue, Coenie de Villiers en Deon Meyer, Riana Nel, Theuns Jordaan en Steve Hofmeyr het die gaste vermaak, onder begeleiding van Matthys Maree en dieselfde talentvolle orkes wat al van Jaar Een af by Versnit optree.

“Ons sê elke jaar dit kan nie nog beter nie, maar dan is dit weer so uitstekend dat dit jou asem wegslaan,” skryf die gereelde gas Leeba Fouche van Windhoek in die gedenkboek. “Versnit het ons ook weer tot die besef gebring hoe talentvol Afrikaanse kunstenaars is.”

Oor die afgelope sewe jaar het bykans elke groot Afrikaanse kunstenaar ’n draai gemaak op die Versnitverhoog, baie van hulle herhaaldelik, en daar is selfs ’n bietjie internasionale Afrikaans-liefde ingemeng in die vorm van die Belgiese sanger Stef Bos. Sedert 2014 word daar ook ’n spesiale Versnittoekenning aan ’n ikoniese Afrikaner oorhandig om hul bydrae tot die Afrikaanse kultuurskat te vier, en vanjaar het Deon Meyer die vyfde ontvanger geword ná PG du Plessis, Laurika Rauch, Coenie de Villiers en Riaan Cruywagen.

Meyer word bestempel as die gewildste romanskrywer in Afrikaans, en het sedert 1994 al 16 boeke geskryf, wat in tientalle tale vertaal en reg oor die wêreld gewild is.  Een van hulle, Jagveld, is selfs in ’n internasionale film verander.  Brittanje se Daily Mail het hom een van die beste misdaadskrywers in die wêreld genoem.

 Dit was soos altyd ’n aand vol hoogtepunte, danksy die briljante leiding van Alexa Strachan en Matthys Maree wat dit as regisseur en musiekleier regkry om elke jaar die vorige konsert te oortref, vertel Zahn Hulme. “Veral Coenie de Villiers se uitvoering van sy liedjie, Plaas, wat hy verlede jaar pas na afloop van die konsert geskryf het, was ’n hoogtepunt,” sê Zahn. “Dit was die eerste keer dat mense dit gehoor het, en dit was ‘n hartroerende oomblik om dit in daardie atmosfeer te hoor. Nog ’n groot hoogtepunt was Coenie en Deon Meyer se uitvoering van die eerste beweging van hulle Karoo Suite…” Baie groot sterk mans het skelm ‘n traan afgevee.

En hoekom die gedenkboek?  Zahn verduidelik dat hulle graag die kosbare herinneringe van ses jaar se konserte wou deel met die gaste, baie van wie al van 2012 af jaarliks die konsert bywoon en met soveel liefde groot bydraes lewer wat die Trust se belangrike werk moontlik maak. “Dit is ’n dankie-sê en ’n terugblik na soveel gelukkige ure. Ons was verlede jaar uitgeboul met die meeste bydraes nóg, en ons hoop om dit vanjaar te oortref! Ons beplanning was juis om mense die kans te gee om dit voor die einde van Februarie te doen sodat hulle nog hul A18 belastingaftrekking vir die finansiële jaar kan doen.”

Wat sê die kunstenaars?

“Dit staan in my top 10 van verhoogervarings”  – Stef Bos

“’n Kokon van gemeensaamheid, samehorigheid, géwendheid en skeppendheid. Hierdie een word veilig bewaar in my herinneringsbank.” – Laurika Rauch

“Op Rust en Vrede, met die samewerking van die Atterbury-groep, het Afrikaans ’n keldervat waarin hy kan verouder tot ’n versnit van voortreflikheid. Om op ’n soel someraand in die lowerryke tuin vereer te word vir my beskeie bydrae tot die Afrikaanse kultuurskat, was ’n belewenis sonder weerga, wat die kroon gespan het op my lang uitsaailoopbaan sedert 1965.” – Riaan Cruywagen op die geleentheid van sy Spesiale Versnittoekenning in 2016

Blaai deur die Versnit Herinneringsboek deur hier te kliek: https://atterburytrust.org/versnit-herinneringe-boek/ . Die lirieke van Coenie de Villiers se “Plaas” is ook hierin te sien.