Foto deur Justin Dingwall

Ter ere van Vrouedag op 9 Augustus, het ons ‘n paar Atterbury staatmakers en ‘n handvol glansmense gevra om ons te vertel van ‘n vrou wat hulle inspireer… soms diep, soms guitig; hier is wat ons mense te sê het!

Zahn Hulme, Atterbury: “Zelda le Grange. Sy het haarself hart en siel in haar rol as Nelson Mandela se PA ingeleef, sy het werklik vir hom omgegee en met oorgawe haar rol in sy lewe vervul. Sy het ook in die proses al haar geleenthede gebruik en al hoe meer as mens ontwikkel. Sy het ‘n hart vir mense en is steeds aktief besig met die Nelson Mandelastigting en ander nuwe inisiatiewe om nasiebou te bevorder.”

Heinz Winckler: “Die vroue naaste aan my inspireer my die meeste: my vrou, my ma en my suster. Maar ek sal my suster uitsonder. Sy inspireer my omdat sy die guts, karakter en geloof gehad het om uit ‘n huwelik te kom waar sy emosioneel en fisies mishandel is.”

Anna Davel: “Vroue deur die eeue heen het te midde van oorloë en depressiejare families bymekaar gehou, kinders grootgemaak en ‘n manier gevind om liggaam en gees aan die gang te hou. Ek haal my hoed af vir elke vrou wat ‘n broodwinner is, wat daagliks ‘n kind, bejaarde of gestremde versorg, en wat ‘n inkomste genereer. Of sy ‘n groot internasionale maatskappy bestuur, en of sy op ‘n straathoek mielies verkoop om aan haar gesin se behoeftes te voorsien, ek eer elkeen van hulle. Ek steek ‘n kers aan vir elke vrou wat ‘n ligdraer is en veg vir die regte van weerloses wat mishandel word in ons geweldadige samelewing. Vrouedag is veral vir julle.”

Ryk Neethling: “Graca Machel. Haar grasie en waardigheid in alle omstandighede is inspirerend.”

Karlien van Jaarsveld: “Karen Zoid inspireer my: ek is mal oor haar gemaklike uitkyk in die lewe en haar humorsin asook haar unieke manier om ‘n briljante vertoning aan te bied!”

Leonie du Preez, Atterbury: “My inspirasie-vrou is my ma, Irma Prinsloo. Sy is nederig en self-verseker. Sy het die lewe met al sy uitdagings vasgevang en werklik ‘n balans gekry om ma van vier kinders, eggenoot en vriendin te wees en terselfdertyd ‘n suksesvolle korporatiewe lewe te lei. Sy is lief vir die Here, sy het groot waardering en respek vir die natuur en is wêreldwys. Sy het ‘n natuurlike aanvoeling vir mense en seën hulle altyd met hoop en vreugde. Haar hande staan vir niks verkeerd nie en haar energie is aansteeklik.”

Bobby van Jaarsveld: “My vrou, Annatjie, inspireer my. Sy is die beste ma en die beste vrou vir wie enige man kan wens.”

Karin Dercksen, Atterbury: “Van nature het ons vroue het ‘n unieke vermoë om te sorg en die wêreld ‘n beter plek te maak. Vroue wat my inspireer is vroue wat ‘n verskil maak, elke vrou het die krag wat almal verstom. Sy hanteer die moeilike tye en dra swaar laste. Sy hou geluk, liefde en menings in haar hart. ‘n Inspirerende vrou is ‘n ma, ‘n vriendin, ‘n suster, ‘n dogter, ‘n vrou na wie almal met liefde kan opkyk. Iemand wat die verandering is wat sy wil sien in die wêreld en nooit moed opgee nie. “

Arno Carstens: “My vrou en bestuurder en die ma van ons seun, Melanie Carstens, is die vrou wat my die meeste inspireer, want sy het ‘n terrible job! “

Margit Meyer Rodenbeck: “My ma, Retha, wat 11 jaar terug oorlede is: ek hoor gereeld hoe sy sê: ‘Daar is nie ‘n woord soos kannie nie.’
Trix Pienaar, my teaterma, wat vir my geleer het daar is rêrige mense ook in die teaterwêreld.
Prof Marie Kruger, hoof van die Universiteit van Stellenbosch se Dramadepartement – my mentor – wat my geleer het om self my werk te skep.”

Danie Niehaus: “Ek stel baie belang in geskiedenis en lees baie op daaroor en daarom is die vrou wat my inspireer ‘n baie sterk en bekende vrou uit die geskiedenis: Florence Nightingale. Sy was ‘n legendariese figuur in verpleging wat onskatbare bydraes gelewer het om nie net die swak beeld van verpleging te verbeter nie, maar ook opleidingsgeriewe te skep, in verskeie oorloë te adviseer en die hospitaalstelsel te help verbeter. Sy het ook die “Nightingale School for Nurses” geopen, die eerste van sy soort in daardie tyd, wat ‘n ongelooflike groot prestasie was vir ‘n vrou. Haar grootste bydrae was seker in die Krimoorlog in Turkye waar sy honderde soldate in swak omstandighede help genees het, terwyl sy self koors opgedoen het en lank daarna bedlêend was. Sy was ook bekend as ‘The Lady with the Lamp’ na aanleiding van haar nagtelike rondtes wat sy gedoen het met haar lampie, om gewonde soldate te besoek.
Dis ongelooflik dat hierdie vrou, wat reeds in 1910 oorlede is, steeds bekend is aan almal van ons vandag. Ek bewonder haar omdat sy uit ‘n ryk familie gekom het en steeds nie omgegee het om ander te dien nie en ook omdat sy so ‘n sterk vrou was, wat geweet het wat sy wil hê en doen en dit gedoen het, nl om ander te dien.

Vrouedag: As jy vir enige vrou in die geskiedenis ‘n vraag kon vra; wie sou dit wees en watter antwoord brand jy om te kry?
Arno Carstens: My vrou, en die vraag is: ‘Waar is my sokkies?’

 

[gdlr_styled_box content_color=”#ffffff” background_color=”#88b9ed” corner_color=”#00438b” ]Zahn gesels met Francois Botha by GrootFM oor hoe die samelewing van vandag skeef is, omdat vroue werk

[/gdlr_styled_box]