Atterbury Trust het verlede jaar ons betrokkenheid by Pretoria se eerste Boekejol- en Filmrolfees terdeë geniet, en is baie trots om vanjaar weer as hoofborg betrokke te wees. Die oogmerk van die fees – om ‘n liefde vir lees aan te wakker en waardering te kweek vir die krag van woorde in Afrikaans – is so reg in ons kraal! Vanjaar se fees, wat van 17 tot 21 Augustus plaasvind is selfs groter en beter, en in lyn met Atterbury se ondersteuning van opvoeding, reël ons dié keer ook spesiale aktiwiteite vir skole. Baie van die aanbiedings gebeur weer by die Atterburyteater, en die hele Lynnwood Bridge sit handjie by met spesiale promosies om die feestyd spesiaal te maak. Ons het die agtergrond gaan kry by die organiseerder en aanbieder, Dia van Staden. Saam met my bekwame bestuurspan wat insluit Graffiti boekwinkel se Sonja van Rensburg, Zahn van Atterbury, Paulette Reyneke van die Atterbury Teater en Yolande Steyn van Citadel, gaan vanjaar se Boekejol een vir die boeke wees!

Wanneer is die besluit geneem om die fees weer vanjaar aan te bied?
Dit was voor 2015 se fees al die plan dat dit ‘n jaarlikse instelling sou word. Ek poog om nooit so iets slegs een keer te doen nie.

Was daar enige spesifieke uitdagings om die fees weer aan te bied? Wat beteken Atterbury se betrokkenheid vir jou?
Daar is altyd uitdagings, en dit laat jou as mens ook groei. Die bou van ‘n nuwe netwerk in ‘n nuwe stad was seker my grootste uitdaging, maar ook my grootste vreugde. Mense is my kos. Atterbury Trust se betrokkenheid verseker dat daar kwaliteit skrywers genooi kan word en Atterbury se trots lê ook in kwaliteit en verskeidenheid opgesluit. Die publiek moet bederf word met die beste wat die skrywerskorps tans kan bied.

Is die program reeds gefinaliseer en kan jy al hoogtepunte met ons deel?
Ja en ja! Daar is baie hoogtepunte waarna die publiek kan uitsien. Die program sluit skrywers soos Deon Meyer, Carla van der Spuy, Bettina Wyngaard, Theuns Eloff, Valda Jansen, Wynand du Toit, Martjie Maré en Danie Marais in. Daar word gedig, gesels, aktueel bespeins en selfs geskryf tydens vanjaar program. Ander hoogtepunte is ‘n digitale fotoaanbieding van uitsoek-fotograwe, ‘n aktuele sportgesprek oor kwotas, ‘n dankdiens wat deur Riekert Botha gehou sal word en ‘n keur van musikante wat die verhoog van die Atterbury Teater, saam met uitmuntende skrywers, sal inkleur. Die musikante sluit Chris Chameleon, Joshua na die Reën, Lize Beekman, Anna Davel, Gisela de Villiers en Robert Brooks in.

Vertel ons meer oor die nuwe skoleprogram wat deel is van die fees?
Ons wil liefde vir lees by kinders aanwakker as deel van Boekejol, en het twee skrywers van kinderboeke, Graham Isaacs en Christien Neser, wat by skole sal besoek aflê en praatjies en voorlesings doen met die spesifieke doel van leesmotivering. Ons het ook aan skole aangebied om ‘n uitstalling van nuwe kinder- en jeugboeke by die skole te hou, waar die skool dan ook ‘n persentasie van die opbrengs van enige verkope sal kry.

Daar is ook ‘n opgewindende nuwe fliek wat vir die eerste keer by die fees gesien kan word. Wat kan jy daaroor met ons deel?
Die enigste rolprent wat vertoon sal word, is ‘n eksklusiewe voorskou van Deon Meyer se film, Dis koue kos, skat, geskryf deur Marita van der Vyver. Die rolprent sal op Vrydag 19 Augustus om 14:30 in die Atterbury Teater gesien kan word. Deon Meyer sal self teenwoordig wees om na die tyd so bietjie te gesels.

Baie van die fees gebeur in en om Lynnwood Bridge. Hoe neem die winkels en restaurante deel?
Lynnwood Bridge se bemarkingspan, Word4Word, is baie behulpsaam met die algemene beplanning voor en tydens die fees. ‘n Paar restaurante het reeds aangebied om geskenkbewyse vir besoekers te gee en selfs van hulp te wees wanneer die skrywers en musikante in die teater in die aande honger en dors word. Die gedrukte program sal reeds op 10 Augustus in die Tswane Beeld ingevoeg word, maar die program sal ook by sekere winkels in die sentrum beskikbaar wees. Atterbury Teater, Citadel en City Lodge is die drie venues waar die meerderheid gesprekke sal plaasvind.

As mens net een dag kan kom fees hou, watter dag stel jy voor?
O aarde! Ek stel voor dat jy weer na jou kalender kyk. Daar is te veel op die boekespyskaart om een dag uit te sonder. Kyk na die program en kyk wanneer jou gunstelinge gesels… Woon daardie geleenthede plus nog drie by. Dit verbreed jou kennis. Saterdagoggend se Sit aan met is ‘n geleentheid wat by Utopia aangebied word en waar ongeveer 30 skrywers saam met die publiek gaan kuier. Kaartjies gaan soos soetkoek verkoop en sal vinnig bekom moet word. Dit gaan ‘n smul-ontbyt, musiek en kletskans wees vir oud en jonk.

Is die program op julle webwerf, of waar kry mense dit?
Gaan gerus na www.boekejol.co.za waar die besonderhede nou stadig maar seker gelaai sal word. Op ons Facebook blad, BoekeJol en FilmRolfees, word daar ook al brokkies interessanthede bekend gemaak.

Hoeveel kos kaartjies vir die verskillende aktiwiteite, en waar koop mens dit?
Kaartjies sal van 17 Junie af by Computicket se kantoor in Lynnwood Bridge beskikbaar wees. Let wel: slegs die aande se geleenthede sal aanlyn gekoop kan word, maar al die ander kaartjies is direk by die kantoor te koop. Geen besprekings sal telefonies hanteer kan word nie. Stuur jou kind, jou tannie, jou ma, maar kry jou kaartjies daar. Kaartjies kos tussen R50 en R150, maar daar is selfs gratis geleenthede ingesluit om die publiek ‘n finansiële blaaskans te gee.