Die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) wat onder meer deur sy webwerf en die nuttige ViVa-app Aanlyn gratis toegang tot woordeboeke bied, het sy databasis onlangs beduidend uitgebrei, skryf Maroela Media op sy webwerf.

Dit beteken dat die databasis met bykans 400 000 inskrywings vergroot is om hierdie wonderlike naslaanbron nog meer te verryk. Gebruikers kry benewens die 17 woordeboeke wat reeds op dié forum beskikbaar is, nou ook gratis toegang tot die volgende bronne:

  • Die drietalige wynbedryf-woordeboek (Suid-Afrikaanse Wynbedryf- Inligting & -Stelsels (SAWIS) en die Netwerk van Kundigheid en Tegnologie vir die Wynbedryf (Winetech))
  • Die Etimologiewoordeboek van Afrikaans (redakteur GJ van Wyk)
  • Fisikawoordeboek (Vaktaalburo, SAAWK)
  • Afrikaanse voëlname, opgestel deur die Afrikaanse Voëlnaamgroep van BirdLifeSA
  • Paramediese vakwoordeboek (Vaktaalburo, SAAWK)
  • Sciwoord (Chemiewoordeboek) Statistiekwoordeboek (HS Schoeman)
  • Sterrekundewoordeboek (redakteur JH de Klerk)
  • Woordeboek van nuttige Afrikaanse kombinasies (Kollokasiewoordeboek) (AN Otto)

Afgesien van hierdie bronne het die Departement van Kuns en Kultuur goedgunstiglik ingestem om sy meertalige terminologielyste, wat oor baie jare deur vak- en taalkundiges opgestel en gestandaardiseer is, aan VivA beskikbaar te stel. Die lyste dek die volgende velde:

  • Inligtings- en kommunikasietegnologie Kuns en kultuur, Intermediêre fase
  • Lewensoriëntering, Intermediêre fase MIV/Vigs
  • Parlementêre/politiese aangeleenthede Sokker Verkiesings Wiskunde, Intermediêre Fase

VivA se fokus bly deurlopend om Afrikaans vir al sy gebruikers toeganklik te maak. Die toevoeging van hierdie vaktaalwoordeboeke en terminologielyste is nog ʼn manier om dit vir vakkundiges, belangstellendes en taalliefhebbers moontlik te maak om Afrikaans ook in hoëtaalfunksies aan te wend.

Die beskikbaarstelling van hierdie woordeboeke op VivA se webwerf (www.viva-afrikaans.org (http://www.viva-afrikaans.org/)) en die aanlyn app (VivA-app Aanlyn) doen nie net die leuse “Afrikaans digitaal” gestand nie, maar plaas keurige Afrikaans binne die bereik van alle taalgebruikers met ‘n slimfoon.

En as mens nie jou taaltameletjie opgelos kry op die databasis nie, kan jy ‘n navraag via die webwerf aan VivA se taaladviseur rig. Nou is daar geen verskonings om verkeerde Afrikaans te skryf of te praat nie!

Hierdie artikel is oorspronklik op www.maroelamedia.co.za gepubliseer.