Kom ons vergeet vir ’n oomblik die verlig-verkramp debat, en kies ’n lewe waar ons self verantwoordelikheid neem, skryf Dirk Hermann, die bestuurshoof van Solidariteit, op Maroela Media se webwerf. Dit, sê hy, is die ingesteldheid agter die nuwe private Afrikaanse universiteit, Akademia…

Wat ʼn vreemde debat! ʼn Handvol kommentators het besluit om 1966 se verlig-verkramp-logika van wyle dr. Willem de Klerk weer af te stof. Vir die kommentators is die regses, ou idioom en idees, wat eintlik nie meer deel van die groter diskoers is nie, die groot gevaar. Hulle blaas nuwe lewe in ʼn ou debat.

Die Afrikaner-gemeenskap word gedwing om tussen hul blokkies te kies, maar die normaalkurwe van Afrikaners is ver verwyder van hul idees oor verlig wees.

Afrikaners staan eintlik buite die debat, want die verlig-verkramp-logika is nie meer nie. Die groot middelgrond voel nie tuis in een van die twee blokkies nie.

Daar is egter ʼn lewe anderkant die verlig-verkramp-debat. By Solidariteit soek ons na daardie lewe – ʼn lewe wat daartoe sal lei dat ons ʼn toekoms hier sal skep waarin ons kinders en hul kinders vry, veilig en voorspoedig sal wees. Dit is ʼn lewe van respek en erkenning; van omgee en uitreik.

Dit is ʼn lewe waar ons nie van die staat afhanklik wil wees nie, maar waar ons selfstandig wil wees. Dit is ʼn lewe van meer sélf en minder stáát. Dit is ʼn lewe van gemeenskappe en respek vir die individu binne die gemeenskap.

Dit is ’n lewe waar ons in Suid-Afrika gaan bly, maar nie gaan stilbly nie. Dit is ʼn lewe wat regte gun, maar ook opneem. Dit is ʼn lewe waarbinne ek trots Afrikaner, Afrikaanse, Suid-Afrikaner en kind van Afrika kan wees.

Dit is ʼn lewe waarvoor ons sal stry. Dit is ʼn lewe waarbinne ons glo dat die grondwetlike demokrasie van jou verwag om grondwetlike regte op te neem; ʼn lewe waarbinne ons burgers, en nie onderdane nie, sal wees. Ons glo dat dit juis patrioties is om ʼn staat uit te daag wat grondwetlike waardes en sy grondwetlike plig ondermyn.

Dit is egter veral ʼn lewe waarvoor ons sal bou. Ons glo dat ons self die verantwoordelikheid moet neem. Ons glo nie dat die toekoms met ons gaan gebeur nie. Ons wil help om ons toekoms te skryf. Ons wil die toekoms skryf deur te bou.

Lees die volledige artikel hier: http://debat.maroelamedia.co.za/2014/11/25/verlig-verkramp-ons-gaan-eerder-n-universiteit-bou/

Atterbury Trust is ’n trotse borg van twee beurse vir twee voornemende Akademia studente wat deel was van Solidariteit se Akademia Sakeplankompetisie.