Plaaslike verkiesings is op talle vlakke van veel groter belang as nasionale verkiesings. Dit hou direkte gevolge vir die lewensgehalte en welvaart van mense in hul plaaslike ruimtes in, skryf Eugene Brink op Maroela Media se webwerf. Hy rig ‘n kritiese oog op die komende munisipale verkiesings…

Hoekom is plaaslike verkiesings so belangrik? Munisipaliteite is immers die naaste en bekendste gesig van regering, want dit is waar mense leef, werk en sake doen. Die gehalte van ʼn munisipaliteit se bestuur en dienslewering kan mense se vooruitsigte verbeter of kelder. In dié opsig troef plaaslike omstandighede meestal nasionale beleid.

Dit is ook daarom dat plaaslike verkiesings veronderstel is om die belangrikste verkiesings in ons demokrasie te wees. Helaas is dit egter nie. Ons stelsel van proporsionele verteenwoordiging het in dié opsig ʼn groot tekortkoming: dat die kies van plaaslike verteenwoordigers oorgelaat word aan politieke partye eerder as die mense self. Selfs die wykskandidate wat veronderstel is om die partye se mag te temper, dans meestal na die partye se pype, veral wanneer daar oor belangrike kwessies besluit moet word.

Dié ongelukkige dominering van politieke partye se belange laat toe dat een van die belangrikste teenwigte vir munisipale wanbestuur en vergrype, naamlik die verantwoordbaarheid van amptenare aan hul plaaslike gemeenskap, grootliks omseil word. Korrupsie, veral in ANC-geledere, vier hoogty omdat betrekkings grootliks op grond van patronaatskap verdeel word en nie altyd op grond van wat die inwoners van ’n munisipale gebied verlang nie.

Dit het daartoe gelei dat mense wat nog nooit deel van ʼn munisipaliteit se gemeenskap was, of eintlik enige belangstelling in die gemeenskap se probleme toon nie, aangestel is om hulle te verteenwoordig. Dit het tot afwesige wykverteenwoordigers, swak dienslewering, betogings en dalende vertroue gelei.
ʼn Aanname onderliggend aan dié gebrekkige stelsel is dat amptenare, ver van die betrokke gebiede af, beter beplanning en ontwikkeling as die inwoners van ʼn munisipale gebied self kan doen.

Amptenare in Pretoria, lede van die provinsiale wetgewers of parlementslede in Kaapstad kan die beste bedoelinge hê om wette en beleid te skep om die mense in byvoorbeeld klein Karoodorpies se lewe ten goede te verander, maar as dit nie met die werklikheid op grondvlak strook nie, is dit as’t ware betekenisloos, of erger, selfs ʼn struikelblok.
Die meeste mense volg nie eens wat in die parlement aangaan nie, omdat dit vir hul daaglikse lewe feitlik irrelevant is. Hulle gee egter wel om as daar straatligte of rioolwerk is wat nie werk nie, as daar slaggate in die paaie is waarop hulle ry, of as hul drinkwater vuil en ondrinkbaar is.

Dit is juis hoekom daar so iets soos munisipaliteite is. Munisipaliteite is veronderstel om magte en besluitneming tot so na moontlik aan die gebiede en mense wat daardeur geraak word, af te wentel.

Paradoksaal is munisipaliteite ook waar die meeste verval plaasgevind het sedert die koms van demokrasie. Met die uitsondering van die Wes-Kaap, Gauteng en dalk ook KwaZulu-Natal is munisipale bestuur in Suid-Afrika op ’n uiters treurige vlak. Verreweg die meeste munisipaliteite in die Vrystaat, Mpumalanga, die Oos-Kaap, Limpopo en Noordwes is disfunksioneel en steier onder diensleweringsprobleme en finansiële probleme.
Die ouditeur-generaal (OG) se laaste ronde van ouditmenings het getoon dat die finansiële bestuur van munisipaliteite in hierdie provinsies, wat al vir ’n geruime tyd swak is, besig is om selfs verder agteruit te gaan. Die meeste het baie lae Bloudruppeltellings (wat die gehalte van drinkwater aandui), hoë misdaadvlakke (selfs op die platteland), baie armoede, lae inkomstevlakke en hoë werkloosheid (veral onder die jeug).

Te oordeel na mediaberigte en die OG se verslae, is daar ook heelwat korrupsie op plaaslike vlak regdeur die land en dit is slegs die ore van die seekoei, omdat die media oor baie gevalle nie berig nie.

Hierdie tendense is kommerwekkend omdat goeie munisipale bestuur kardinaal vir werkskepping, sosiale bestendigheid en sakevertroue is. Sakelui wil nie in dorpe woon of besighede bedryf waar daar grootskaalse munisipale verval, burokratiese rompslomp en onbevoegdheid is nie. Dit bemoeilik handel en sakelui sal migreer na waar die plaaslike omstandighede gunstig is vir handelstoestande om te gedy.

Lees gerus die res van die storie op Maroela Media, http://maroelamedia.co.za/debat/meningsvormers/verkiesingsfokus-inwoners-sakelui-stem-met-hul-voete/