Vroeër vanjaar het ons berig oor hoe twee van Atterbury se beursalumni, susters Chrisna en Rolindi Devenish, ‘n groep behoeftige kinders van die NPO Vastfontein Community Transformation op ‘n seevakansie geneem het. Nou staan Vastfontein ‘n kans om ‘n internasionale skenking van bykans R150 000 te wen, om ‘n mediasentrum vir die kinders in te rig, en al wat hulle nodig het, is soveel aanlyn stemme as moontlik, vertel Chrisna.

Vertel ons meer!
Fluor is ‘n Fortune 500 maatskappy wat wêreldwyd projekte vir diverse kliënte bestuur, en hulle het ‘n globale gemeenskapsprojekfonds waaruit hulle jaarliks 10 projekte van reg oor die wêreld befonds met ‘n skenking van $10 000 elk. Die idee is om behoeftige gemeenskappe internasionaal op te hef, en dit werk op ‘n nominasiebasis. Om ‘n lang storie kort te maak, Vastfontein en die projek wat ons graag sou befonds is genomineer, en toe deur Fluor aangewys as een van die 30 finaliste! Dis is sulke wonderlike nuus, want die Vastfontein Batho Pele Christian School doen ondanks swaarkry sulke wonderlike werk, en met die skenking kan ‘n mediasentrum ingerig word wat die skool en sy leerders vir jare sal baat met topklas opvoedkundige hulpbronne.

Wie is die ander finaliste?
Daar is projekte van regoor die wêreld, maar Vastfontein is die enigste Suid-Afrikaanse projek – daar was 11 inskrywings uit ons land, maar Fluor het ons projek geidentifiseer as die een wat die beste kans staan om ‘n groot verskil te maak.

En hoe word die wenners gekies?
Deur aanlyn stemme wat op die webwerf  gemaak word. Stem is so maklik soos om die “stem” knoppie te kliek; en die 10 finaliste met die meeste stemme, wen die skenkings. Dis so eenvoudig soos dit.

Julle moet net wen! Wat sal die mediasentrum alles behels?
Dit is al ‘n jarelange droom by die skool om so ‘n sentrum te hê om die kinders te help, so ons kon baie presies wees met wat ons voorgelê het. Daar sal ‘n biblioteek en ‘n lees- en studie-area; rekenaar met internettoegang, multimedia-fasiliteite, nuwe boeke, opvoedkundige DVDs, en meer. Die skool het tans 60 preprimêre en 148 laerskoolleerders en daar is planne om mettertyd ook ‘n hoërskool te vestig. Die sentrum sal die onderwysers in staat stel om hul leerprogramme aan te vul sodat die kinders beter kan doen op skool. Laasjaar het 15 van die outjies akademies goed genoeg gevaar om van preprimêr op te skuif na groot skool, so dis vir ons belangrik dat hulle al die geleenthede kry wat hulle verdien.

So ons hoef net aanlyn te gaan en te stem?
Ja! Al die finaliste is op die webwerf, en mens kan selfs sien hoe elkeen doen wat stemme betref. Ons is in die pylvak, en het nog stemme nodig!

Tot wanneer kan ons stem?
Tot  volgende Vrydag, 17 Junie, en mense kan help deur elke dag te stem (en as jy wil, van verskillende “browsers” af, dan kan jy as een keer per dag stem). Die kinders sal so trots wees as hulle skooltjie Suid-Afrika kan verteenwoordig, en wen!

Stem vir Vastfontein, hier: http://community-fund.fluor.com/community-project-detail?pid=627