Atterbury se beursstudente is beslis nie akademiese wrakke nie. Neem nou byvoorbeeld vir tweedejaar Pukkie Ruan Haasbroek – hy skitter in sy B Com Rek-klasse, maar het ook SA kleure in krieket en gaan eersdaags saam met sy spanmaats vir NWU by die Universiteite Wêreldbeker in Sri Lanka verteenwoordig. Die dinamiese 20-jarige vertel ons hoe hy al die spreekwoordelike balle in die lug hou.

Vertel ons bietjie van jou agtergrond.
Ek is gebore in Potchefstroom, het hier grootgeword en by Potchefstroom Gimnasium gematrikuleer in 2015. Ek woon steeds by my ouers; ek is die jongste van twee seuns en ons is ‘n baie hegte gesin. My broer is tans ‘n vierde-jaar ingenieurswesestudent by die Noordwes Universiteit.

Hoekom het jy B Com Rek, en Potch gekies?
Ek geniet syfers al van kleinsaf – syfers is vir my ‘n uitdaging, want elke som is anders. Ek het Potchefstroom gekies, omdat ek glo dat dit die beste Afrikaanse universiteit is en omdat hul krieket baie sterk is. Dit is ook ‘n groot voordeel dat dit so naby ons huis is!

Ja ons hoor jy is ook ‘n kranige sportman wat vir NWU krieket speel. Hoe hou jy al die balle in die lug, so tussen die akademie en die sportveld?
Die enigste manier hoe ek ‘n goeie balans tussen die twee kan handhaaf, is deur goeie beplanning en gebed. My krieket neem ongelooflik baie tyd in beslag – ons oefen omtrent vier uur ure per dag en ek sit bo-op dit nog ekstra kolf-oefening in. Tussen klas en krieket is daar min tyd deur die dag, so ek doen maar ekstra werk in die aande by die huis, om op datum te bly. Gelukkig kan die “liggies” tot laat in die aand brand, soos my oupa altyd sê!

Toe jy klein was, wat wou jy eendag word? Was jy nog altyd ‘n syferkop?
Van ‘n jong ouderdom af was dit my droom om ‘n Protea krieketspeler te word. Soos ek grootgeword het, het ek besef dat mens vir jouself ‘n stabiele agtergrond moet skep, en ek het opgemerk dat die meeste besturende direkteure van maatskappye finansiële kennis het. Dit het my soos ‘n handskoen gepas, want ek het altyd ‘n passie gehad vir syfers, so ek is baie dankbaar dat ek ‘n loopbaan daarvan kan maak.

Vertel ons hoe jy by die Atterburybeurs uitgekom het.
My ma het ‘n paar jaar terug ‘n TV-onderhoud met Mnr. Louis Van der Watt gesien, en so gehoor van die Atterbury Trust. Hy het haar beïndruk omdat hy so suksesvol is, maar tog plat op aarde is en omgee vir sy medemens. Toe die tyd kom het sy navorsing gedoen oor die beurs en ek en my broer het albei by Atterbury aansoek gedoen vir beurshulp. Gelukkig was dit so bestem dat Atterbury Trust die antwoord was en ek is ongelooflik dankbaar daaroor!

Wie is jou rolmodel en hoekom?
Beslis my ouer boetie. Ek sien hoeveel ure hy elke dag insit, en die deursettingsvermoë wat hy deur die jare gehandhaaf het met sy studies is ongelooflik – hy is ‘n groot inspirasie vir my. My sportheld is AB De Villiers; en ek bewonder hom oor manier hoe hy homself op en van die veld af gedra.

Wat is die beste les wat jou ma of pa jou geleer het?
Staan op vir waarin jy glo! My ma sê ook altyd dat die Here my die talent gegee het en ek moet dit gebruik om Sy Woord ook op die sportveld te verkondig, deur altyd my waardes te behou en ‘n voorbeeld te wees.

Wat is jou geheime talent?
Ek is ‘n kranige sanger in die stort.

Wat was vir jou die hoogtepunt van die jaar sover?
Dit was toe ons (PUK) die krieket varsitybeker gewen het – dis te danke daaraan dat ons nou in September aan die Universiteite Wêreldbeker gaan deelneem in Sri Lanka. Persoonlik was dit ook ‘n hoogtepunt toe ek ingesluit is in die SA onder-23 krieketspan.

Wat is jou raad vir studente wat oorweldig voel omdat daar so baie op kampus aangaan wat hulle aandag verg?
Ek sal aanbeveel dat hulle vir hulself moet doelwitte stel en daarvolgens moet beplan en prioritiseer. Die belangrikste natuurlik is om te besef, jou krag en sukses kom van bo af, so bid, en die Here sal leiding gee.

In jou wildste drome, waar is jy oor 10 jaar? Springbok of geoktroieerde rekenmeester? Of albei?
Definitief albei! Ek help ook deurentyd, tussen die studies en krieket, jong spelers met hul krieket en ek sal dit graag wil volhou om ook terug te gee aan die samelewing…

Help ons om nog inspirerende jongmense soos Ruan te help om hul studiedrome waar te maak – kliek hier en skenk aan die Atterbury Trust beursfonds.