Van “probleemkind” tot ster-onderwyser

Van “probleemkind” tot ster-onderwyser

Atterbury Trust se afgestudeerde beursstudente raak sodra hulle die beroepsmark betree in effek skenkers, wanneer hulle as nuwe salaristrekkers hul rentevrye beurslenings begin terugbetaal. Dit hou so ook die wiel aan die draai sodat nuwe studente kan inkom soos vroeëre begunstigdes klaarmaak. ‘n Mens se hart klop warm wanneer die skuld mettertyd afbetaal is en die boodskap dan deurkom: ek sal aanhou skenk, want dis belangrik. Só het ons pas weer gehoor van 35-jarige Etienne de Bruyn, voormalige onderwysstudent, wat pryse wen in sy beroep. As iemand wat op skool ‘n “probleemkind” genoem is, omdat die stelsel nie sy leerprobleme reg gediagnoseer het nie, verstaan hy beter as die meeste mense hoe belangrik die rol van ‘n onderwyser is, en is hybesig om hierdie wonderlike insig dag tot dag uit te leef.

Jy het moeilike kinderjare gehad, en vandag is dit jou passie om kinders met leerprobleme te help. Vertel ons van jou persoonlike reis.
Ek kom uit ‘n baie arm gesin in Danville, waar my ma ons drie kinders basies alleen grootgemaak het. Niemand het my verstaan nie en ek het baie min aandag gekry omdat ek geklassifiseer is as ʼn probleemkind. In die tagtiger en negentigerjare was dit die norm in klaskamers om sogenaamde “probleemkinders” uit ʼn klas te sit of te skors. Daar was nie so iets soos ADHD, hiperaktiwiteit of aggressie nie, net plein stout kinders. Later is daar ontdek dat hormone bepaal hoe jou liggaam reageer op stimuli; en ek is deur sielkundiges met al die bogenoemde toestande gediagnoseer… Ek het al die klassieke simptome gehad: ek kon nie lank sit en luister na ‘n gepratery nie, kon nie goed lees nie en moes op prentjies konsentreer, ek het ook baie vinnig geïrriteerd en kwaad geraak. Ek is uit menige skool geskors. My ouers se skeiding het sake net vererger. Op 12 het ek Taekwondo-vegkuns ontdek, en vir die instrukteur vloere en vensters gewas in ruil vir die geleentheid om daar te oefen. Ek het my hart uitgeoefen en oor ʼn tydperk van 15 jaar het ek aan 10 SA nasionale kompetisies en 12 Noord-Transvaal kompetisies deelgeneem. Ek is met borge se hulp in 2000 Amerika toe waar ek die eerste Suid-Afrikaanse Taekwondo-student geword het om twee eerste plekke te verwerf tussen 150 van die wêreld se bestes.

Op 16 het my ma my uit die nes geskop omdat sy nie meer vir my kon sorg nie. My instrukteur het vir my ‘n heenkome aangebied, en ek het begin om hom te help om kinders Taekwondo te leer. Ek het ook begin om kinders met aggressieprobleme te help, en het besef dat ek goed was daarmee. Toe, in my matriekjaar, is my pa, wat ek nooit regtig geken het nie, weens drankmisbruik oorlede, en dit het my so ontstel dat my lewe heeltemal buite beheer geraak het. My instrukteur het my weggejaag en ek het my eie karateskool in Sinoville by ‘n kerk oopgemaak. Daar het ek tot bekering gekom en ‘n nuwe blaadjie omgeslaan. Ek het ‘n meisie ontmoet, wie se pa, Eugene Abrahams, die skoolhoof van Laerskool Generaal Beyers was, en toe hy my storie hoor het hy my ingeneem as sy seun en belowe hy sal my help solank ek hard werk.

In 2008 het ek by Laerskool Generaal Beyers begin werk as ʼn assistent en ook my matriek by Elandspoort klaargemaak.

Ek woon tans in Mayville, en werk nog al die pad by Laerskool Generaal Beyers; ek het wortel geskiet hier. Ek het ʼn meisie wat ʼn meestersgraad in sielkunde het, en wat my verstaan, glo dit of nie! Ek het my ma opgespoor en ons het dinge uitgewerk, so ons kan as ‘n familie saamkuier.

Hoe het jy destyds by Atterbury Trust uitgekom?
Dit was danksy Mnr Abrahamse dat ek aan Atterbury en Zahn bekendgestel is. Atterbury Trust het nie net my volle studiegeld en boeke betaal nie, maar het ook vir my ekstra geld gegee om te help met kos en huur. Atterbury Trust het in my geglo, en my gewys daar is mense wat omgee en verby ʼn mens se probleme kan kyk. Hulle het my lewe gered… ek raak sommer aan die huil as ek hieraan dink. Ek het myself belowe ek sal nooit in my lewe ʼn kind blameer vir sy probleme nie en alles doen om hulle te help waar ek kan.

Is dit hoe jy op onderwys besluit het?
Ja. Ek het in 2010 by Unisa begin swot en van die begin af baie hard gewerk en goed presteer met Mnr Abrahamse en Atterbury Trust se ondersteuning – ek het onderskeidings in die meeste van my vakke gekry. Dit was ‘n blye dag toe ek my B Ed in 2013 ontvang het; en van daar het ek dadelik ‘n departementele aanstelling gekry danksy al die ondervinding wat ek reeds gehad het. Vanaf 2014 het ek na elke kursus en werkswinkel gegaan wat beskikbaar was. Die skool het my vir opleiding in inligting en kommunikasietegnologie (ICT) gestuur, en ek het geblom daarin. Ek het begin om my eie geld te bestee om my klas “state of the art” in te rig; omdat ek gewoond was om met min oor die weg te kom het dit my glad nie gepla om duisende te belê in tegnologie vir my klas nie. Dit het my leerders se wetenskap-punte so vinnig en hoog laat styg dat die Gauteng Departement van Onderwys kom ondersoek instel het. Ek is gevra om vir onderwysers werkswinkels oor die klaskamergebruik van tegnologie aan te bied, en so het die wiel begin rol. Ek het heelwat suksesvolle projekte voltooi maar my tegnologie en wetenskap is waar ek my merk gemaak het. Ek is aangewys as ons skool se wetenskapvakhoof en ICT-koördineerder, en ons het nou tablette en TV’s in elke klaskamer. Ons tegnologiegebruik by Laerskool Generaal Beyers, in die hartjie van Danville, is uit ‘n ander wêreld.

Jy het reeds twee beroepspryse gewen – vertel ons meer?
Dit was in 2016, deur die Departement van Onderwys – eerste plek vir Gauteng skole in ICT en tweede plek vir inklusiewe onderwys met tegnologie. Ons skool was altyd geklassifiseer as ʼn laag-presterende skool, maar na die tegnologie-ingryp het ons punte geklim tot onder die bestes. Die departement het my ook verlede jaar genomineer vir die National Teachers Awards (NTAs) en ek is deur die verskillende rondtes om op die ou end die derde plek in Gauteng te verwerf. Ek is baie trots dat hulle my pas weer genomineer het vir 2017, en is tans besig met onderhoude.

Wat volgens jou maak van iemand ‘n goeie onderwyser?
Ons kan slegs dinge in die onderwys verander as ons die onderwysers en studente se instelling verander. Ek kom daaglik baie onderwysers tee wat kinders nog met ongelooflik min respek behandel; en dit vat my altyd terug na my skooljare. Onderwysers verstaan nie aldag hoe kinders se huislike omstandighede hulle vorm nie. Baie kinders soek net ʼn rolmodel, so dis vir my baie belangrik om altyd vir my leerders ‘n rolmodel te wees. Ek probeer in ‘n klas elke kind bereik, so ek gebruik baie mediums en hulpmiddels om dit te doen. Ek probeer om onderwysers in my werkswinkels te motiveer en bystand te bied om beter te wees, maar dis moeilik as hulle nie wil verander nie.

Waar sien jy jouself oor 10 jaar?
Ek sou graag nog verder wou studeer, my honneurs en meestersgraad en op die ou end ‘n doktorsgraad in onderwys verwerf. Ek sal graag by ‘n universiteit werk sodat ek vir onderwysstudente kan leer hoe om vir jou leerders om te gee. Die universiteite en handboeke leer studente hoe om klas te gee, maar leer hulle nie die waardes wat hulle nodig het om met kinders te werk nie. Die meeste onderwysers gebruik steeds ou uitgediende metodes, terwyl vandag se tegnologie die wêreld se verskil kan maak, veral vir kinders met leerprobleme. Ek gee reeds orals werkswinkels vir onderwysers oor die gebruik van tegnologie in die klaskamer.

Jy het vir die Trust laat weet dat jy wil aanhou om donasies te maak vir die beursfonds. Hoekom voel jy dit is belangrik? Wat is volgens jou die belang van die Atterbury Trust se beursfonds?
Atterbury Trust is een van daardie maatskappye wat optree soos ʼn belangstellende onderwyser wat vir sy studente al die moontlike hulp en bystand gee wat hulle benodig, en werklik omgee. En die studente kom dit agter; Atterbury hou hulle beloftes. Atterbury neem jou in, en help jou onvoorwaardelik. Ek wens regtig ons kon meer onderwysstudente help om ons kinders die regte waardes te leer. Ek weet dat daar baie kinders is soos wat ek was, wat net hulp nodig het; en met meer onderwysers wat verstaan, sal hierdie kinders ook hul potensiaal kan bereik. Atterbury Trust doen hulle beste, om soveel studente moontlik te help, maar met meer fondse tot hul beskikking, sou hulle nog meer kon doen.

As jy soos Etienne wil bydra tot Atterbury Trust se beursfonds en nog studente bystaan om hul volle potensiaal te bereik, kliek hier vir meer inligting.

Leave a Reply