Een van die lekkerste aspekte van die Atterbury beursprogram is om te sien hoe ons studente goeie besluite vir hul eie toekoms maak, en te weet ons beurse bemagtig hulle om te kan fokus op wat belangrik is sonder daaglikse stres oor studiegeld. Ons is trots op slimkop Lorenza Lombaard wat vanjaar haar BCom (Rek) Honneurs afhandel en volgende jaar haar klerkskap by PricewaterhouseCoopers gaan aanpak. Hier is haar storie.

Vir hoe lank is jy al deel van Atterbury se beursprogram en hoe het jy destyds daarby uitgekom?
Ek is al drie jaar deel van die beursprogram en het Atterbury Trust nogal op ‘n interessante manier gevind. In my matriekjaar het my ma my hope en hope beursaansoeke laat invul en Atterbury se aansoekvorm was onder hulle. Aan die einde van my eerste jaar het Atterbury my gebel en ‘n onderhoud geskeduleer en dit is waar alles begin het!

Wat kan jy ons van jou grootwordjare en jou gesin vertel?
Ek het in Pretoria grootgeword en by Laerskool Tuine skoolgegaan, tot ons na Middelburg verhuis het – ek het by Hoërskool Middelburg gematrikuleer. Ek het ‘n jonger broer wat een besonderse mens is en wat die wêreld vir my beteken; verder is ek altyd die een wat help Sondag kookkos maak en het beslis my kookvaardighede by my pa geërf! My ma is ‘n huisvrou en my pa ‘n tegnikus by Polyoak Packaging.

Hoe het jy by Rekeningkunde uitgekom – was jy van kleinsaf ‘n syferkop? Wat wou jy word toe jy klein was?
Toe ek klein was wou ek ‘n balletjuffrou geword het, maar het sommer vroeg op laerskool al gevind dat ek syfers snap. Dit was eers net wiskunde en toe later op hoërskool  rekeningkunde. Ek kan vandag beslis sê dat ek ‘n syferkop is en dat ek die uitdaging geniet om te sukkel sukkel totdat ek iets verstaan en regkry.

Wat doen Lorenza as sy nie swot nie – wat lê jou na aan die hart in jou vrye tyd?
Ek is immerlief vir die kunste, spesifiek teken en sal so nou en dan nog iets skets, maar gaan na my studies fokus om meer tyd daarin te belê. As ek nie vir ure gesels oor ‘n koppie koffie saam my vriendinne nie, eet ek gewoonlik (ek het nogal ‘n goeie aptyt). Verder is ek nogal ‘n natuurdier – ek het groot waardering vir die buitelewe en staproetes met asemrowende uitsigte.

Wat was Plan B as jy nie die beurs gekry het nie?
Indien ek nie die beurs by Atterbury gekry het nie sou ek beslis my kwalifikasie deeltyds deur Unisa gedoen het en begin werk het by ‘n kleiner firma in Middelburg.

Ons hoor jy gaan by PwC jou klerkskap doen volgende jaar. Hoe het jy by hierdie geleentheid uitgekom?
PwC het altyd op universiteit by die loopbaandag ‘n stalletjie gehad en ek het in my eerstejaar met een van hulle menslike hulpbronne-ouens gesels. Hy het my aangemoedig om aansoek te doen om my klerkskap daar te voltooi. En hoe wonderlik is dit nie dat Atterbury tans besig is om PwC se nuwe Gauteng hoofkantoor by Waterfall City te ontwikkel nie!

Het jy enigiemand wat jy tel as ‘n mentor – indien wel, vertel ons meer van die verhouding?
My koshuisma, Anzel, is definitief een van my grootste mentors. Sy het ook BCom Rek studeer om ‘n GR te word en is die een mens wat nog altyd hard en sag was, sy is steeds die mens wat ek bel of SMS as ek bekommerd is of nie weet hoe om wat aan te pak nie. Sy moedig my altyd aan om hard te werk, maar is ook die sagte skouer as mens net ondersteuning nodig het.

Wat is die belangrikste les wat jy by jou ouer/s geleer het?
Dat as jy liefde het, jy skatryk is.

Wat is jou langtermyn-plan – waar hoop jy om oor 10 jaar te wees?
Oor 10 jaar sal ek graag al wil besig wees met my meestersgraad in belasting en ook my eie praktyk stig of gevestig wees in ‘n maatskappy. Ek hoop ook om dan al met ‘n gesin te begin en ‘n klein koffiewinkel te hê.

As jy op ‘n jeugpaneel kon wees wat raadgee in die parlement, wat sou jy graag op die agenda plaas, en aan watter uitkoms sou jy wou help werk?
Ek sou heel eerste op die agenda stel dat ons moet werk om basiese onderwys van Graad 1 tot Graad 9 gratis te maak. Hoekom? Omdat basiese onderwys aan elke kind die geleentheid sal bied om iets van hul lewe te maak – niemand gaan jou werk gee as jy nie kan lees of skryf nie. Dit sal meer entrepreneurs ontwikkel en ook so tot meer werkskepping lei, daarom moet ‘n gebrek aan geld nie ‘n rede wees waarom iemand nie ‘n basiese onderwys kry nie. Ek het eenkeer die volgende stelling gehoor wat my altyd bybly:

“What if the cure for cancer is trapped inside the mind of a child who can’t afford an education?”

Wat het die Atterburybeurs vir jou beteken?
Die Atterburybeurs het soveel meer as net ‘n graad vir my beteken; dit is ‘n hoopvolle toekoms en die kans om soveel meer lewens te verander as net my eie. Verder het die GRO sessies ‘n groot impak op my lewe gehad, al was daar net ‘n paar. Dit het my karakter help vorm en ook laat besef dat God soveel groot planne met elkeen se lewe het.

Jy kan ons help om nog beginselvaste, positiewe probleemoplossers soos Lorenza ‘n hupstootjie te gee om hul wonderlike potensiaal te bereik. Elke donasie maak die Atterbury Trust beursfonds sterker, en help bou aan ‘n blinker toekoms vir iemand met dryfkrag. Om ‘n donasie te maak, kliek hier.