Toe die jong Vrystater, Mohloki Seng, in 2012 by Wits aankom, het hy nog nooit voorheen ’n rekenaar gebruik nie, maar vir hard werk was hierdie Atterburybeursstudent nog nooit bang nie. Vanjaar is hy in die derde jaar van sy BSC in Meganiese Ingenieurswese, met groot planne vir die toekoms.

 

Hoe het jy van die Atterbury beurs te hore gekom en wat het jou op jou vakrigting laat besluit?
Ek het daarvan gehoor by een van die werkers by Studytrust, Nomoya. Ek wou nog altyd òf ’n meganiese ingenieur òf ’n aktuariële wetenskaplike word, omdat daar so ’n diepgaande toepassing van wiskunde en wetenskap in hierdie twee rigtings is. Toe ek varsity toe kom, moes ek kies tussen die twee, so toe besluit ek op meganiese ingenieurswese omdat ek vroeër blootgestel is aan meganiese ingenieursweseprojekte soos sweiswerk en basiese enjin-diens, en omdat ek oor die algemeen nogal baie geweet het oor hoe motors funksioneer.

Vertel ons ’n bietjie van jou agtergrond?
Ek kom van die Welkom af, maar omdat dit vir my baie belangrik is om die beste meganiese ingenieur te word wat ek kan, kom ek nie baie by die huis nie – ek is van 2012 pal weg. Ek het in skoolvakansies gewerk aan ingenieursprojekte, maar as ek tyd kry om Vrystaat toe te gaan, bestee ek die meeste van my tyd saam met my familie. Ek het ’n ouer suster, Tseleng, en sy en haar twee kinders, agtjarige Reimumetse en driejarige Dimakatso, bly by my ouers in Welkom. My ma is ’n skoonmaker by Bongani Hospitaal en my pa ’n drywer by Best Home and Electric meubelwinkel. Ek het skoolgegaan in Soweto, by Fons Luminis Sekondêre Skool, nadat ek in 2008 geskuif het van Thotagauta Sekondêre Skool in Welkom. Tans bly ek in Barnato Hall, die Wits koshuis.

Wat was vir jou die grootste aanpassing van hoërskool na universiteit?
Dit was om te leer om met rekenaars te werk, want ek het voor varsity nooit een gebruik of een gehad nie. Ek het as gevolg daarvan een van my tweedejaarkursusse – sagtewareontwikkeling – gedruip. Vandag is ek ’n baie beter rekenaarprogrammeerder as die meeste van my klasmaats omdat ek so hard moes werk om aan te pas.

Wat is jou gunsteling trooskos.
Pap en braairibbetjies!

Wat is jou gunsteling kinderherinnering?
’n Gesprek wat ek met my oupa gehad het oor wat ek sou doen as ek baie geld gehad het!

Noem drie historiese figure wie se huisgas jy graag vir ’n week sou wou wees.
Nelson Mandela, omdat ek sy leierskapseienskappe, emosionele intelligensie en sy etiese ingesteldheid so bewonder.

Nicolaus Otto, want ek sou regtig graag wou weet hoe hy die vierslagenjin uitgevind het, en watter ander idees hy ondersoek het, voordat hy by daardie finale konsep van ’n vierslagenjin uitgekom het.

Cristiano Ronaldo, omdat ek glo hy die beste sokkerspeler nog is. Ek bewonder hom, omdat hy so hard werk en altyd die beste vir sy klub wil hê.

Watter tegnologiese ontwikkeling wens jy wil in jou leeftyd gebeur?
Ek wil graag die werklikheid sien van 3D drukkers wat gebruik word om werkende organe vir oorplanting te druk.

Atterbury se beurs gee jou die geleentheid om verder te studeer. As jy enigiemand anders se droom kon laat waar word, wie sou dit wees en wat sou jy doen?
Ek sou graag dieselfde wou doen – belê in die opvoeding van ons volk. Ek sou begin met my neef, Tjhere Tshabalala, wat nou pas sy matriek geskryf het, en hom help om ’n tersiëre opvoeding te begin.

Wat is jou toekomsplanne na jy jou graad gekry het?
Ek wil in Suid-Afrika werk as ’n meganiese ingenieur en my tegniese en leierskapsvaardighede sowel as my kennis van ingenieurswese bydra om beide my maatskappy en die land te bevorder. Ek wil ook graag verder studeer en ’n meestersgraad in besigheidsrekeningkunde by my grade voeg.