Nico Basson se slim mediese patent, CastProtect, is gebore uit sy eie nood, en het die beoordelaars van Akademia se Sakeplankompetisie 2014 so beindruk dat hy die prys ingepalm het vir die beste nuwe besigheid, geborg deur Atterbury Trust…

Hoe het die besigheidsidee ontstaan?
Twee jaar gelede het ek veneuse ulkusse op my bene ontwikkel weens komplikasies van slaap-apnee, ’n slaapstoornis wat ’n hormoonwanbalans veroorsaak het. Ek was vir 16 weke in die hospitaal en met die verbande wat nie mag nat word nie, kon ek nie behoorlik bad of stort nie. Ek het toe 220kg geweeg en om oor ’n bad te hang met daai gewig was nie maklik nie. Dit is ’n aaklige situasie om in te wees. Nadat ek ontslaan is, het ek begin navorsing doen oor oplossings – iets om oor die verbande te dra om dit droog te hou as jy stort. Ek was so verswak na die siekte dat ek beslis nie met my spysenieringsbesigheid sou kon aangaan nie en moes ook ’n ander inkomstestroom vind. Ek het niks in Suid Afrika gekry nie en die produkte uit die VSA was te duur, so toe ontwerp en laat maak ek self iets. Die eerste besending het in Februarie vanjaar gekom en van toe af gaan dit van krag tot krag.

Hoe het jy van die kompetisie te hore gekom?
Ek en my vrou het een aand aan die begin van 2014 daarvan gehoor op eNuus op Kyknet. Ek het vir haar gesê ek gaan inskryf, want ek gaan die kompetisie wen. (Bietjie grootbek as ek nou daaraan dink!) Ek het nog altyd geglo ’n mens kan enigiets bereik as jy regtig met passie daarop fokus.

Vertel ons bietjie van jouself?
Ek is gebore in Welkom in die Vrystaat en ons het later Mosselbaai toe getrek. Na matriek is ek weermag toe. Ek het baie gesukkel om “my plek” in die lewe te kry en het baie dinge probeer. Ek was vir jare in die restaurantbedryf. Ek en my vrou woon in Kenridge in Kaapstad se noordelike voorstede. Ek het ’n paar jaar gelede begin siek word weens komplikasies van die slaap-apnee. My vrou het deur alles by my gestaan en my verpleeg, en swaargekry vir my, so die eer van die Akademia-prys behoort aan haar, want as dit nie vir haar was nie, sou ek nie hier gewees het nie.

Hoe het die produk jou persoonlik gehelp?
Ek is spyt dat ek dit nie vroeër gehad het nie. Ons het maar plastieksakke met waterdigte kleefband gebruik maar dit het nie gewerk nie – die kleefband het my bietjie beenhare uitgetrek en die plakmiddel daarop bevat latex, waarvoor ek, soos soveel ander mense, allergies is. Toe my produk uiteindelik kom, het ek dit gebruik vir stort en swem; ek wou nie weer infeksie in my bene kry nie. CastProtect is ’n eenvoudige oplossing vir ’n eenvoudige probleem. Daar is ander soortgelyke produkte oorsee beskikbaar , maar dis baie duur.  Ek is ook nog nie heeltemal klaar met die ontwikkeling nie, dit word nog afgerond.

Het jy meer as een ontwerp beskikbaar?
Ja, daar is 11 variasies vir arms en bene vir grootmense en kinders en dan vir mense wat so bietjie meer vleis op die been het soos ek.

Vir wie is CastProtect bedoel?
Mense met veneuse ulkusse soos ek gehad het, of diabetiese sere, of mense met gipsverbande om gebreekte arms en bene. Ook mense met kunsledemate (want die kunsledemaat moet afgehaal word om te stort), brandwonde of dermalogiese kondisies – jy kan dit selfs dra as jy ’n nuwe tattoeërmerk het, of enigiets anders aan ’n arm of been wat nie mag nat word nie. Ek het goedkeuring van die Departement van Gesondheid verkry en is geregistreer op die Wes-Kaapse verskaffer databasis, en is ook goedgekeur om aan die weermag te verskaf. Ons onderhandel daar oor ’n ander produk wat dalk in elke weermaglid se noodhulptassie sal wees.

Wat is jou grootste uitdagings as entrepreneur?
Dat ek ’n klein vissie in ’n groot poel met baie haaie is. Die groot maatskappye wil nie aan jou raak nie, want hulle dink jy gaan nie lank daar wees nie.

Watter raad het jy vir iemand wat sy eie besigheid wil begin?
Belangrikste is, ken jou produk. Jy kan nie jou regte mark bepaal of navorsing doen as jy nie jou produk ken nie. Jy moet meer daaroor weet as enigiemand daar buite. Wees baie krities, soek foute en probleme, want alleenlik dan kan jy alle vrae beantwoord en sal jy die selfvertroue hê om met die groot haaie te praat. Ek moes dokters en professore oorreed om CastProtect te koop. My tweede wenk is, moenie opgee nie, hou aan droom, want dan kan jy enigiets regkry.

Wat is die grootste les wat jy geleer het oor die bestuur van jou eie besigheid?
Omring jou met die regte mense. As jy sukkel, kry iemand wat jou kan help of adviseer. Jy is nie alleen nie; daar is mense wat jou wil en sal help. As iemand negatief en afbrekend is oor jou groei, sny hulle uit. Jy het dit nie nodig in jou lewe nie. Die lewe gaan in die eerste plek oor jou oorlewing en slegs daarna kan jy ander help.

Hoeveel geld het jy gewen en wat gaan jy met die prysgeld doen?
Die kontantbedrag van Atterbury Trust was R100 000. Ek wil ’n nuwe rekenaar kry en ’n nuwe CPAP (’n toestel wat help met die slaap-apnee, wat die hoofoorsaak van my siektetoestand is). Ek het ’n lysie van basiese goedjies wat ons nodig het, en dan wil ek my vrou bederf, want sy verdien dit.

Wat is jou droom vir jou besigheid?
My droom is om mense te help. Die besigheid is letterlik deel van my. Ek adverteer dit as ek ’n kortbroek aan het. Die letsels van die sere sal daar wees vir nog baie jare. Ek wil hê CastProtect moet baie groot word, om meer mense te kan help. My dokter spesialiseer in brandwonde en hy wil ’n vel-bank begin in Suid-Afrika waar vel ”gekweek” kan word vir brandslagoffers. Dit word in die VSA gedoen, maar is weereens geweldig duur en ons het hier ’n baie groot behoefte daaraan. Ek sal baie graag betrokke wou wees by die finansiering van so iets.

Wat gebeur volgende? Watter deure het die Akademia Sakeplankompetisie vir jou oopgemaak?
Op persoonlike vlak het die kompetisie my ’n hupstoot gegee wat nie in woorde omgesit kan word nie. My besigheid het so baie gebaat…ek is genader deur beleggers, daar is moontlikhede vir die uitvoer van die produk na die res van die wêreld, asook ’n fabriek in Suid Afrika om dit hier te vervaardig. As deel van die prys het ek ook toegang tot mense wat my en my mentor, Etienne Raymond, help om die besigheid se fondamente stewig te kry sodat ons in 2015 volstoom kan inspring. Ek sal kyk na moontlike vennote en beleggers om die besigheid te help bou. Ek kan nie genoeg dankie se vir die geleentheid wat die Akademia Sakeplankompetisie vir my gebied het nie. Ek het nie besef dat dit so groot sou wees nie. Ek het nie die beleggers verwag wat na my toe gekom het en gevra het hoeveel ek nodig het om my besigheid te verdriedubbel in die volgende jaar nie. Dis fantasties dat ek mense kon oortuig om te glo in my produk soos ek self daarin glo.

Vind uit waar CastProtect beskikbaar is: 078 534 5168, epos [email protected] of besoek www.CastProtect.co.za CastProtect word deur Medihelp gedek en deur Discovery op die spaarplan as dit deur ’n dokter voorgeskryf word.

unnamed-6

unnamed-3 unnamed-4