Atterbury was baie trots om te kon betrokke wees by die uitstalling vroeër vanjaar van Verlore in Stof, die narratiewe reeks van 15 skilderye met die Anglo-Boereoorlog as tema. Ons deel met vergunning van die FAK ’n uittreksel uit ’n onderhoud met die kunstenaar, John Meyer

Hoekom het jy die Anglo-Boereoorlog as tema gekies?
Die oorlog dien as die agtergrond vir die tema waarin ek belanggestel het, en omdat my voorvaders aan albei kante geveg het, het ek gevoel ek kan dit sonder vooroordeel benader.

Hoe het jy die idee gekry om oor die oorlog te skilder?
Ek het gekyk na filmmateriaal oor die lewens van burgerlikes gedurende tye van konflik. Dit het my laat besef dat daar geen wenners in ’n oorlog is nie – almal verloor. So ek wou fiktiewe karakters skep en hulle in ’n oorlogomgewing plaas om dit uit te beeld.

Wat is jou gunsteling aspek van die Anglo-Boereoorlog?
Die moed wat aan albei kante gewys is, deur beide jonk en oud.

Hoekom het jy Afrikaans gekies vir jou werk?
Dis deel van my erfenis. Ek is half Afrikaans.

Waarom die besluit om ’n boek saam met die werk uit te bring?
Die boek is uitgebring deur die eienaars van die versameling. Hulle het gevoel dat dit ’n unieke uitkyk op die konflik bied en dat dit die moeite werd sou wees om dit vir ’n wyer gehoor beskikbaar te maak,omdat nie almal die skilderye te sien sal kry nie.

Hoeveel navorsing het jy gedoen oor die tonele wat jy wou skilder?
Ek moes sekere navorsing doen om seker te maak dat die uitbeeldings die kyker sou oortuig. Maar ek het historiese navorsing vermy, omdat ek so baie stories uitgedink het wat bedoel is om anekdotes uit te beeld.

Waar het jy jou inspirasie gekry?
Die inspirasie vir iets soos hierdie is ’n stadige en evolusionêre proses. Die skilderye is oor ’n drie-jaar periode gedoen en hoe dieper ek daarin betrokke geraak het, hoe meer detail het na my toe gekom. Elke skildery het my na die volgende een gelei. Ek is seker maar geinspireer deur die eindelose moontlikhede.

Hoe voel jy daaroor dat jou werk so ’n goeie ontvangs gekry het?
Ek is natuurlik opgewonde. Wie sal nie wees nie? Dis baie verblydend. Enige twyfel wat ek gedurende daardie drie jaar opgegaar het is weggevee!

Wat is jou gunsteling Afrikaanse uitdrukking?
“Aanhouers wen” en enige vloekwoord waaraan jy kan dink. Hulle is baie meer ekspressief as enigiets in Engels!

Met dank aan die FAK. Vir die volledige onderhoud in die oorspronklike Engels, sien www.fak.org.za/blog/john-meyer-onderhoud/

[gdlr_button href=”https://atterburytrust.org/verlore-stof/” target=”_self” size=”medium” background=”#00438b” color=”#ffffff”]Sien al die skilderye[/gdlr_button]