Die Triomfkliniek het sedert sy opening in 2014 ’n steunpilaar vir die behoeftige gemeenskap van Pretoria-Wes geword, waar pasiënte teen geen of min onkoste uitstekende mediese sorg kan ontvang. Danksy die SA Vrouefederasie wat die spasie in ’n gedeelte van SAVF Margaretha Ackermann beskikbaar gestel het, is ’n kliniek geskep waar vrywilligerdokters hul spesialisdienste gratis lewer. Nou, twee jaar later, maak die SAVF weer so, en gee ruimhartig nóg plek sodat die kliniek kan uitbrei en nog meer mense kan help. Ons hoor meer by SAVF se Marietjie van der Spuy.

Wat ’n pragtige gebaar. Wat gaan die uitbreidings behels?
Ons onderhandel nog oor detail, maar die idee is om nog ’n deel van SAVF Margaretha Ackermann aan Triomf beskikbaar te stel, waar tandheelkundige dienste aangebied kan word, en ook ʼn afdeling wat soos ʼn daghospitaal sal funksioneer, waar kleiner prosedures uitgevoer kan word.

Hoe het die besluit gekom om die kliniek uit te brei?

Dit het duidelik geraak dat daar regtig ’n behoefte is aan ’n ontvangsarea en wagkamer; en toe ons daaroor begin praat het dit aan die lig gekom dat daar ander behoeftes ook is, soos plek vir ’n tandarts.

Is dit deel van ’n groter plan?

Ons voel dis noodsaaklik vir beide die gemeenskap en vir SAVF dat die diens wat Triomf bied kan uitbrei. Ons wil meer mense kan help, en ons kyk ook na die moontlikheid dat daar nog sulke klinieke elders by SAVF-fasiliteite gevestig kan word.

Ons verneem daar is planne om die SAVF se verpleegstersopleiding te betrek by Triomfkliniek… vertel ons meer?

SAVF het n opleidingsentrum vir verpleegkundige en verpleegkundige versorgers, en dié studente werk by ander SAVF fasiliteite om ondervinding op te doen. Die idee is dat hulle ook die kans kan kry om by Triomfkliniek hulle verpleegkundige ure in te werk.

Wanneer maak die nuwe vleuel oop?

Ons het nog nie datums nie, maar hou hierdie spasie dop!

As lede van die publiek of privaatsektor wil bydraes maak tot die uitbreiding, is daar spesifieke behoeftes wat bestaan waarmee mense kan help?

Daar is ’n behoefte aan bemarking van die kliniek; ons vind steeds dat mense nie weet van die bestaan van die kliniek nie omdat die boodskap hulle nie op hul vlak bereik nie. Ons wil ook graag vennootskappe met nog dokters, aptekers en farmaseutiese maatskappye sluit, wat pasiente gratis of teen baie lae koste kan help. Die grootste behoefte wat ons tans ervaar is waarskynlik aan die medikasie vir pasiënte nadat hulle gediagnoseer is. Triomf-pasiënte kan nie duur medisyne bekostig nie. Daar is ook ’n behoefte aan oogkundiges wat oogtoetse kan uitvoer en lense en brilrame kan verskaf.

Wat is nog op die wenslysie vir die toekoms?

Ons sou mettertyd graag sielkundige dienste wou aanbied, met dokters wat geestessiektes kan diagnoseer en ook ’n fasiliteit om pasiënte met geestestoestande te akkommodeer. Ons sou ook SAVF Margaretha Ackermann se Alzheimer afdeling wou uitbrei, en die diens kan uitbrei om meer dae beskikbaar te wees – tans is die kliniek net Dinsdae en Donderdae oop. En eendag wil ons uitbrei tot ’n volledige daghospitaal.

Indien jy ’n bydrae wil maak tot die groei van Triomfkliniek, kontak gerus die SAVF by 012 3253920