’n Nuwe akademiese jaar beteken 65 nuwe Atterbury Trust beursstudente tree aan vir registrasie, en in party gevalle sommer twee boeties uit dieselfde familie! Ruan Haasbroek het pas as eerstejaartjie begin by Noordwes-Universiteit, waar sy broer Lian nou in sy derdejaar in Meganiese Ingenieurswese is…

Gee vir ons ’n kort skets van julle familie en waar julle vandaan kom en skoolgegaan het.
Lian: My ma, pa en Ruan en ek is ’n baie hegte gesin, en ons bly in Potchefstroom. Ek is 20 en Lian 18. My ma-hulle was vier kinders en die hele familie kuier gereeld bymekaar en ondersteun mekaar altyd. Ons geniet veral die jonger niggies en neef. Ons oudste niggie is nou vyfde jaar op die PUK (besig met haar tweede graad) en haar suster is nou tweede jaar en volgende jaar kom hul broer ook – dan is vyf van ons almal gelyktydig op die PUK. Ons is albei baie lief vir sport en visvang.

Hoe het julle deel van die Atterburyfamilie geword?
Lian: Ons ma ken die maatskappy omdat sy ’n klein eiendomsagentskap het, en sy het ’n tyd gelede vir Mnr. Louis Van der Watt op die televisie hoor praat oor die Atterbury Trust se beursgeleenthede. Sy was baie beïndruk met hom, omdat hy so ’n “mense” mens is. Toe het albei ek en Ruan aansoek gedoen, en dis nou ons albei se eerste jaar in die program.

Ruan, wat was jou Plan B as jy nie die beurs sou kry nie? 
Ons het gelyk aansoek gedoen, maar regtig nie gedink, dat ons so bevoorreg sou wees om albei beurse te kry nie. My Plan B was ’n sportbeurs. Dit het ook intussen gerealiseer, maar die sportbeurs betaal slegs ’n deel van my kursus en Atterbury dek die grootste gedeelte.

Hoe het julle op jul afsonderlike studierigtings besluit; en is dit wat julle albei van kleinsaf wou doen?
R: Ek is baie lief vir syfers en streef daarna om eendag ’n hoë posisie in ’n firma te beklee.  Ek het gaan kyk wat die agtergrond van die meeste besturende direkteure van firmas is en hulle kom meestal uit ’n  finansiële agtergrond.
L: Ek wil graag ’n verskil maak in die samelewing.  Ek sukkel self met baie allergieë en het gedink as ek net ’n klein aandeel daarin het om die besoedeling in ons land te kan verbeter, gaan dit baie mense se gesondheid help en ook ons natuur bewaar.

Waar gaan julle tuis noudat jul albei studente is? Doen julle dinge saam, of het elkeen maar sy eie aparte vriendekring? 
L: Ons is in die bevoorregte posisie om nog in ons ouerhuis te woon. Word lekker bederf! Ons ondersteun mekaar en hou baie daarvan om as gesin en ook as groter familie dinge saam te doen.  Ek moes eers ophou krieket speel, omdat ek al my aandag aan my studies gee, maar ek gaan kyk baie gereeld as Ruan krieket speel…Hy gaan weer op sy beurt saam met my visvang. Ons hou daarvan om sommer in die middae, al is dit net vir ’n uur, ’n lyn te gaan natmaak in Potch se dam.

Hoe voel julle daaroor om by dieselfde universiteit te wees, en aan dieselfde beursprogram te behoort?
L & R: Ons albei is baie bevoorreg en baie dankbaar. Ons en ons ouers waardeer julle hulp ongelooflik baie!

Lian, wat is die beste raad wat jy vir jou broer kan gee oor studentwees?
Werk elke dag en probeer jou deelnamepunte goed hou. Dit vergemaklik die eksamen en haal baie druk van jou af. Elke klein opdrag en toets is dus baie belangrik.

Ruan, waarna sien jy die meeste uit in jou eerste universiteitsjaar? Wat dink jy gaan die grootste aanpassing wees?
Ek sien die meeste daarna uit om nuwe mense te ontmoet en veral op ’n hoër vlak met my sport te kompeteer. Die grootste aanpassing sal wees om my sport en akademie te akkommodeer, sodat ek op albei vlakke optimaal kan presteer.

En Lian, jy is nader aan graadkry… wat is jou planne as jy daardie Meganiese Ingenieurswese kwalifikasie agter jou naam kan skryf?
Ek maak einde 2017 klaar, maar ek wil baie graag ook ’n graad in elektriese ingenieurswese voltooi en spesialiseer in hernieubare energie.

Elke bydrae van borge en vriende van Atterbury Trust help ons om jong uitblinkers se universiteitsopleiding te help finansier, om te help bou aan ons land se toekomstige werksmag. Maak só ’n bydrae: https://atterburytrust.org/skenk-nou/