Die Triomfkliniek wil al lankal tandartsdienste aanbied, maar die toerusting is duur en die begroting nie baie groot nie, veral omdat die behoefte aan mediese sorg so groot is. Maar Atterbury se netwerk is wonderlike mense met ruim harte, en mens staan gereeld verstom oor die slim planne wat uitgedink word om ‘n goeie daad te doen. So het een van ons vennote op die idee gekom om ‘n musiekkonsert te hou ten bate van Triomfkliniek. Ons gesels met Dirk Pelser, die man wat die trein op die spoor gehou het.

Waar het die idee van die konsert vandaan gekom, en hoekom juis ‘n musiekkonsert?
Verryn Matlhare Prokureurs is van die begin betrokke as regsadviseur toe die Triomf-projek begin het.  Ek doen al Verryn Matlhare Prokureurs se bemarking en openbare betrekkinge, en dit was ons direkteur, Ferdi Verryn, se blink idee om iets vir Triomfkliniek te doen om bietjie terug te gee. Hy het reeds die mense geken, so dit was ‘n maklike keuse. Omdat ek self ook my voet in die vermaaklikheidsbedryf het, het ons natuurlik gedink kom ons hou ‘n musiekvertoning. En on sweet dat die Atterbury Teater aan die Atterbury Trust behoort, so alles het sin gemaak!

Wat was die oogmerk met die konsert – wat wou julle bereik?
Ons het besluit dat die opbrengs van alle kaartjieverkope aan die Triomfkliniek sal gaan om die kliniek te help.

Hoe het julle op die spesifieke kunstenaars besluit? Het jy al voorheen met Jo Black en die ander saamgewerk?
Omdat ek reeds met baie van hulle te doen het in my persoonlike hoedanigheid, was dit nie te moeilik om met die regte mense te praat nie. Die kunstenaars van die aand (Jo Black, Appel, Lizz Meiring en Jacqueline Tolken) was almal bereid om ons te help en dit het (sonder dat ons dit so beplan het) op ‘n tema uitgeloop van “Nuwe Hoop”.  Ons almal soek tog hoop vir ‘n beter toekoms.

Was daar enige uitdagings wat julle moes oorkom voor die aand van die konsert?
Dit was my eerste keer dat ek so iets aangepak het, so ek moes maar net seker maak ek dink aan alles moontlik.  Gelukkig het die span van die Atterbury Teater, Zahn en Karin van Atterbury Trust en Tiaan Newman van Newbass Productions my lewe makliker gemaak om alles bymekaar te bring.  Ons moes natuurlik die teater ook volmaak sodat dit die opbrengs sou opstoot.

En hoe het die aand verloop? Wat was vir jou persoonlik die hoogtepunte?
Die aand was fantasties!  Die kunstenaars het hul uitstekend van hul taak gekwyt!  Tussen die musikante se musiek rondom die tema van hoop, en Lizz Meiring se humor was die balans uitstekend en die gehoor het dit baie geniet!  Vir my persoonlik was dit ‘n baie groot aand; die Here het my gewys hoe jy in mense se lewens ‘n verskil kan maak en hoe baie ons het om voor dankbaar te wees.  Die hele aand was ‘n sukses en dit het my baie gelukkig in my hart gemaak. Mens is mos altyd bang iets werk nie en toe werk alles. Ek voel bevoorreg, en het baie geleer.

Hoeveel kaartjies is op die ou end verkoop? En hoeveel geld is ingesamel?
Ons het 340 kaartjies verkoop en ongeveeer R53 500 ingesamel!

Was daar verteenwoordigers van die kliniek teenwoordig, en wat is die terugvoer van hulle?
Ja, Dr Marc Roscher en suster Adelene van die Triomfkliniek was in die gehoor en almal was baie beïndruk – almal sal graag meer sulke funksies sien gebeur. Daar is dadelik besluit om dit ‘n jaarlikse instelling te maak.

Weet jy waarvoor die opbrengs spesifiek aangewend gaan word?
Die kliniek wil so graag tandheelkundedienste aanbied, en dit kos vreeslik baie om al die nodige toerusting daarvoor te koop, so die geld sal bydra daartoe.