“Ek het nog nooit ’n vier-maande-oue baba die 100 meter sien hardloop nie, maar hierdie een – Triomf – staan al stewig en gaan nog rekords in-oes.”

So beskryf 70-jarige Frik du Buisson van Pretoria die kliniek waar beide hy en sy vrou in Oktober vir hul skouer en knie-probleme kom aanklop het vir hulp.

Soveel van die pasiënte noem in hul dankiebriewe hoe baie dit vir hul beteken dat hulle met menswaardigheid behandel word by die kliniek, van die vriendelike ontvangsdame Jula van den Broek tot elke dokter en spesialis aan diens. Armoede is wreed, en veral as mens siek voel en moet vra vir hulp, beteken dit so baie as iemand jou laat welkom voel, is ’n alomuitgesproke sentiment.

Dit blyk uit die brief van Wanda Schurtmann, ’n ouma wat nie net vir haar 24-jarige serebraal-gestremde seun sorg nie, maar ook vir drie kleinseuns, ’n skoondogter en kleuter-kleindogter. “Mens voel nie lekker nie en dit laat jou sommer klaar beter voel as jy met menswaardigheid by die kliniek behandel word,” skryf sy. Die moesie aan haar neus het haar bekommer, maar sy kon nie bekostig om dit privaat te laat behandel nie, so sy vertel sy was in haar noppies toe die kliniek vir haar laat weet sy kan vir Dr Mark Roscher kom sien. “Ek was benoud want my pynvlak is maar laag. Maar Dr Roscher het so mooi gewerk en met my gepraat; en verduidelik hoe om die wonde skoon te maak en te versorg,” skryf sy.

Sy het ook al haar gestremde seun en haar kleindogter kliniek toe gebring, waar hulle kwale vinnig en bekostigbaar behandel is. “Die kliniek is die beste ding wat hier in ons omgewing kon gebeur.”

Chantal van Eeden beaam haar woorde. Sy was jare lank op ’n waglys om haar seuntjie Xander en dogtertjie Zanicka se mangels te laat uithaal en het met haar hande in haar hare gesit hieroor. Triomfkliniek het ook vir haar ’n uitkoms gebied.

Triomf is nou ses maande oud, en al was dit ’n klein begin en babatreetjies, sluit die hele span die jaar af met vol harte en sulke opregte getuigskrifte van dankbare Pretorianers wie se lewens hulle reeds verander het.

En dis nie net mense uit Pretoria wat kom hulp soek nie… die kliniek se reputasie het al mense van so ver as Rustenburg, Belfast en Pietersburg gelok. En die span van vrywilliger-dokters en sorgers is trots om te kan sê dat hulle sover almal wat afsprake gemaak het, kon help. Omdat die omliggende skole en kleuterskole weet van die kliniek, was daar al ’n paar oproepe met ’n noodgeval, wat die kliniek verwys het omdat dit nie tans ingerig is om ongevalle te hanteer nie.

’n Totaal van 125 pasiënte is reeds gehelp deur een van die nege dokters en spesialiste wat hul dienste vrywillig en kosteloos aanbied. Dit benewens die ongeveer 52 mense wat Cansa en Specsavers se ope dae by die kliniek bygewoon het. Die pasiente wat aanklop, kan gesien word deur ’n algemene praktisyn, internis, dermatoloog, oor-neus-en-keel spesialis, ginekoloog of deur Cansa, en daar is groot planne om die dienste in die toekoms uit te brei om onder meer gesinsbeplanning, berading, tandheelkunde, fisioterapie en pediatrie aan te bied.

En al is die kliniek se fokus op die weerloosste pasiënte – kinders en bejaardes – gebeur dit ook dat ’n plan gemaak word om siek ouers te help, omdat hulle nie hulle gesinne kan versorg as hul self siek is nie. Tog vra die kliniekpersoneel dat instansies wat die kliniek se dienste wil gebruik, vir Suster Adelene Boshoff sal kontak om te registreer, sodat die nodige verwysingsprotokol gevolg kan word.

Dis ’n ware storie van spanwerk, tussen Atterbury en die deelnemende dokters, tot GrootFM, Transpharm wat medisyne teen afslag verskaf en organisasies soos Specsavers, en Cansa, wat elke maand velkanker-skanderings kom doen waartydens pasiente met verdagte moesies of vratjies ’n Photofinding-skandering ondergaan en indien nodig na die dermatoloog verwys word. Specsavers het in samewerking met Lindie van Eeden van GrootFM ingestem om gratis oogtoetse kom doen op Wêreld Sig Dag, en het selfs ’n aantal pare brille aan behoeftige pasiente geskenk.

In die feesgety waar ’n mens besef hoe gelukkig so baie van ons is terwyl ons landgenote en stadsgenote met so min moet klaarkom, gee Triomfkliniek soos sy leuse sê “Uitnemende sorg met waardigheid. ” Oom Frik du Buisson se woorde weerklink:

“Maar nou die poeding: Ek word ontvang in my moedertaal, Afrikaans, en gratis deur ‘n dokter en spesialis ondersoek. Ek kan moeiteloos my saak stel en uitstekende professionele diens menswaardig kry, in ’n skoon en baie mens-vriendelike omgewing, op afspraak, en sit nie ure lank tussen letterlik honderde siek mense in haglike omstandighede nie.”

“Mense, dit is goud vir die ouer en minder gegoede Afrikaanssprekende en net so goed, indien nie beter nie, as ’n privaatinstansie waar jy soms maande vir ‘n spesialisondersoek moet wag. Afrikaanse groete en die allerbeste wense, julle het die skepper se opdrag gehoor en gehoorsaam en dit in dade en nie met woorde. My geloof in die mensdom is herstel.”

Vir meer details oor Triomfkliniek se verwysingsprotokol, skakel vir Suster Adelene Boshoff op 012 327 7818.

[gdlr_button href=”https://atterburytrust.org/omgeegalery/” target=”_self” size=”medium” background=”#00438b” color=”#ffffff”]Fotos van die jaareind funksie[/gdlr_button]