Die lente is hier en soos die sonlig skerper raak na somer toe, moet ons bewus wees van die gevare van velkanker. Lentedag, 1 September is die eerste nasionale velkankerdag in Suid-Afrika en ook by Triomfkliniek word daar spesiale aandag aan hierdie siekte gegee met gratis velondersoeke vir enigiemand wat ‘n afspraak maak.

Triomfkliniek se eie Dr Marc Roscher, self ‘n dryfveer agter die veldtog as stigterslid van die Skin Cancer Foundation of South Africa (SCFSA), maan dat velkanker al meer en meer voorkom en dat die idee is om Suid-Afrikaners bewus te maak van die gevare van hierdie hoogs voorkombare siekte wat steeds wyd misverstaan word. “Die SCFSA wil alle Suid-Afrikaners aanmoedig om deel te neem aan hierdie belangrike veldtog wat potensieel lewens kan red. Ons doen ook ‘n beroep op dermatoloë om ‘n bietjie van hulle tyd aan hierdie belangrike inisiatief af te staan. Deur net ‘n halwe dag te gee om 20 pasiënte te ondersoek, help ‘n dokter om mense bewus te maak van hierdie hoogs voorkombare siekte wat so misverstaan word.”

Triomf is baie gelukkig om ‘n spesialis van Dr Roscher se kaliber as deel van die span te hê – danksy hom kan pasiënte hier duur behandelings wat glad nie in staatshospitale beskikbaar is nie, gratis kry. Dr Roscher het ‘n toestel geskenk waarmee fotodinamiese terapie gedoen word om pasiënte met erge velkanker te behandel. Privaatpasiente sal tipies R2 800 hiervoor moet betaal, in staatshospitale is hierdie modern tegniek glad nie beskikbaar nie en Triomf pasiënte kry dit verniet. “Die terapie het uitstekende resultate,” vertel Dr Roscher.

Volgens Dr Derek Odendaal, die voorsitter van die SA Vereniging vir Dermatologiese Snykunde, en een van die stigterslede van die SCFSA het Suid-Afrika die tweede meeste velkankergevalle in die wêreld, en net 167 praktiserende dermatoloë. “Nasionale velkankerdag is die Dermatologiese Vereniging van SA se manier om elke dermatoloog in die land te betrek sodat ons so veel Suid-Afrikaners as moontlik kan sien, veral diegene wat gewoonlik nie die geleentheid het om vir velkanker ondersoek te word nie.”

Die SCFSA beplan om hierdie veldtog op ‘n jaarlikse basis te voer, met die oogmerk om die publiek in Suid-Afrika op te voed en in te lig oor die gevare van velkanker en hoe om dit te voorkom. Op www.skincancer.org.za kan mense uitvind watter klinieke almal Maandag hierdie diens aanbied. By Triomfkliniek sal daar van 13h00 met ‘n masjien wat Cansa vir die doel leen, gratis velondersoeke gedoen word. Om ‘n afspraak te maak, skakel 012 327-7818.

Wat is velkanker?

Vel kankerVelkanker kan in twee kategoriëe verdeel word: melanoma en nie-melanoma.

Melanoma is ‘n aggressiewe kanker wat potensieel lewensgevaarlik is. Gelukkig kan dit genees word as dit vroegtydig gediagnoseer en behandel word, maar dit versprei ook vinniger as ander soorte kanker, en beweeg in ander organe soos been of die brein in. Dit is hoekom dit so belangrik is om baie oplettend te wees oor enige veranderinge in die vel, en om jaarliks ‘n dermatologiese ondersoek te ondergaan.

Melanoma kan begin in vel met normale pigmentasie of in areas met hoë pigmentasie, soos geboortevlekke. Hoewel dit mees algemeen op die bors of rug voorkom, kan dit ook op die handpalm, voetsool, onder ‘n vinger of toonnael, die slymvliese binne die mond, vagina of anus en in die oë voorkom.

Ongereelde, erge blootstelling aan die son wat ernstige sonbrand veroorsaak kan lei tot melanoma. Een keer se blase brand as kind verdubbel die risiko dat jy later in sy lewe melanoma kan ontwikkel. By swartmense is die mees algemene plek waar melanoma voorkom die voetsool of handpalm, so enige donker kolletjie daar wat enigsins verander, moet deur ‘n dermatoloog ondersoek word.

Volg die ABCDE reëls en beskerm jou en jou familie:

Hou ‘n oog op enige gepigmenteerde plekkies op die vel vir gevaartekens.

Gaan sien jou dermatoloog dadelik as enige van jou moesies of donker kolletjies die volgende eienskappe toon:

A Asimmetrie – een helfte lyk anders as die ander

B Buitelyne – Oneweredige buitelyne

C Colour – Die kleur is oneweredig, donkerder aan die een kant as die ander, verskillende skakerings van bruin, swart, soms selfs wit, rooi of blou.

D – Diameter – die omtrek van ‘n melanoma is gewoonlik groter as 6mm (die grootte van ‘n potlooduitveër) as dit gediagnoseer word, maar dit kan ook kleiner wees. As jy ‘n moesie sien wat anders as die ander lyk, of wat verander, jeuk of bloei – selfs al is dit klein – gaan sien jou dermatoloog.

E Ewolusie – Die ewolusie van jou moesies is die belangrikste faktor om in ag te neem wat melanoma betref. Dis baie belangrik om jou vel gereeld te ondersoek sodat jy weet waar jou moesies is en hoe hulle lyk. Dit sal jou help om ‘n nuwe moesie wat nie voorheen daar was nie te herken, en om op te let as ‘n bestaande moesie enigsins van kleur of vorm verander. In so ‘n geval moet jy reguit dermatoloog toe gaan.