In 2017 is die lewens van sewe Triomfkliniek pasiënte deur die liefdadigheidsinisiatief Operation Healing Hands verander. En al is ons nog nie halfpad deur die jaar nie is daardie getal reeds oortref…

Leonard van Rhyn is een van 10 pasiënte wat reeds vroeg vanjaar deur Healing Hands gehelp is. In Februarie is kwaadaardige gewasse van sy oor en gesig verwyder. Die lang en moeilike operasie is by Zuid Afrikaans Hospitaal (ZAH) uitgevoer, waar hy op die hande gedra en top-klas mediese diens ontvang het. ‘n Maand later is hy besig om mooi aan te sterk.

Ook in Februarie het Operation Healing Hands ‘n volle tien operasies op een dag vir liefdadigheid gedoen, en nege hiervan was vir Triomfkliniekpasiënte. Christiaan de Beer en Desré Vorster is albei by ZAH geopereer deur die Healing Hands-span, en in albei se geval is kommerwekkende gewasse verwyder.

Op dieselfde dag is nog ses Triomfkliniekpasiënte by die Centurion Day Hospital behandel vir ‘n verskeidenheid prosedures, van mangelverwydering tot dreineringspypies in die ore en sjirurgie van die frenulum. Christa van den Berg, Chantal van Eeden, en boeties en sussies Amoré en Jeandere van den Broek en Evander en Elri Janse van Rensburg is almal huis toe na suksesvolle operasies.

Evander het sommer vier verskillende prosedures ondergaan en sy geval was so interessant en uniek, dat Jacaranda 94.2 se “Good Morning Angels” daarvan te hore gekom het en sy storie op die ontbytprogram gaan uitsaai.

 Vir meer inligting oor Operation Healing Hands en die werk wat hulle saam met inisiatiewe soos Atterbury Trust se Triomfkliniek doen, besoek https://www.ohhsa.net.