Triomfkliniek bied dokter ’n nuwe begin

Triomfkliniek bied dokter ’n nuwe begin

Skaars ’n jaar gelede is Dr Hannelie Groenewald se lewe brutaal verander toe haar man en kinders in hul huis in Afganistan deur ’n Taliban moordbende uitgewis is. Die familie het vir 12 jaar in die hoofstad, Kaboel, gewoon, en sy het die aanslag slegs oorleef omdat sy by die werk was en nie tuis waar haar man ook sy kantoor gehad het nie.  Sy het haar geliefdes huis toe gebring en in Pretoria begrawe, en in die afgelope jaar stadig begin om weer haar voete te vind. Atterbury is geweldig trots om haar te verwelkom by die Triomfkliniek, waar sy nou elke twee weke diens lewer as algemene praktisyn.

Dit was op 29 November ’n jaar sedert jou groot verlies. Hoe oorleef ’n mens so ’n verskriklike trauma?
Jy weet, ek glo die Here bring niks op ’n mens se pad wat jy nie kan hanteer nie. Daar is ’n rede hoekom ek oorleef het, en ek glo ek moet my getuienis deel en uitleef. Hoewel dit baie swaar is, het ek geweldige vertroosting in die Here gevind. En wat ek hiervan oorgehou het is ’n ontsettende nou band met die Here, en ’n verdieping van my geloof, wat my daagliks dra en wat ek vir niks sal verruil nie.

Wat het die afgelope jaar in jou lewe beteken?
Dit was chaoties en oorweldigend, om terug te kom en weer gewoond te raak aan hoe dinge hier werk, en om alleen te wees. Alles is nog steeds nie uitgesorteer nie – ek was nou juis besig om ’n gat te boor hier in die meenthuis in Moreletapark waar ek nou woon – maar met genade van Bo kom dit stadig aan. Ek het in die afgelope jaar baie getuienis gelewer by kerke – hier en in Namibië en Brasilië – so ek het baie gereis. Maar toe die eerste herdenking nou op 29 November gebeur, het ek vir myself gesê ek gaan dit nou begin afskaal, want nou moet ek aangaan met my lewe. Ek sal nog as motiveringspreker optree gee as ek gevra word, maar ek wil fokus op my getuienis. En ek wil stadig weer begin inkom in die mediese veld, so dit is hoe ek by Triomfkliniek uitgekom het.

Hoe het jou paadjie met die kliniek s’n gekruis?
Ek het vir Alicia de Lange, die bestuurder van Solidariteit se Mpumalanga-tak , raakgeloop en sy het my van Triomfkliniek vertel. Dis ideaal omdat dit my die kans gee om informeel weer te begin werk en omdat dit juis gaan oor dit wat my so na aan die hart lê:  naastediens, met liefde, vir mense wat dit so nodig het maar dit nie kan bekostig nie. Mediese werk het vir my sin en gee betekenis aan my lewe.

Hoekom dink jy het die Taliban jou gesin aangeval?
Ons is geteiken omdat ons Christene is, en omdat ons die Here met hand en voet gedien het. My man was voor ons Afghanistan toe is, predikant by NG Kerk Moreletapark, en in Kaboel het hy onderrig gegee.

Voor die tragedie gebeur het, was jy gelukkig in Afganistan? Hoe was dit om as Westerling  vir so lank te woon in ’n land met soveel beperkings?
Wel, jy voel maar altyd soos ’n inkommer; almal weet jy is ’n Westerling.  Die Westerlinge wat daar woon, bly tipies in hoë-sekuriteit-komplekse en ry gepantserde motors, en ry in konvooi as daar iewers heen gegaan moet word. Vroue word min vryheid toegelaat, maar as ’n Westerling kon ek darem meer doen as die Afghaanse vroue, hoewel mens buite jou huis leef met respek vir die kultuur. Ek het my eie motor gehad en self bestuur, self gaan inkopies doen. En binne ons huis het ons so normal moontlik geleef. Ons het kosgemaak soos ons in Suid-Afrika sou; ek het wors gestop, bobotie gemaak, ons het vleisgebraai. Dit was natuurlik moeilik vir die kinders, vriende was min en mense bly nie lank nie, so jy kon nie te geheg raak aan enigiemand nie. Dit was    moeiliker vir Rodé, as ’n meisie, omdat vroue so ingeperk word. Dit was makliker vir Jean-Pierre, omdat hy kon kom en gaan. Maar as jou ouers en jou lewe tuis gelukkig is, is kinders gelukkig, so oor die algemeen was daar nie probleme nie. Ek het hulle tuisonderrig gegee.

Het julle ooit in die tyd daar huistoe gekom vir vakansies?
Ja elke jaar, gewoonlik rondom Kersfees, en dan moes ons inkopies doen vir die hele jaar; dit was omtrent ’n storie. Kos wat mens nie daar kry nie, en klere vir beide somer en winter, omdat niks in Afghanistan mens pas nie – hulle is baie klein mense. In 2008/2009 het ons vir ’n jaar huistoe gekom. Die kinders moes toe natuurlik hier skoolgaan, en hulle kon nie aanpas nie! Die baie sekulêre leefwyse, en al die dinge wat tieners hier tipies aanvang, was vir hulle te vreemd. Hulle was verlig om terug Kaboel toe te gaan.

Hoe was dit om as dokter te werk in Kaboel?
Ek het nie voltyds medies gepraktiseer nie, maar ek het altyd ’n spreekkamer by ons huis gehad, en daar het ek beide Westerse en Afghaanse pasiënte gesien; tipiese spreekkamer-konsultasies, kleiner prosedures, voorskrifte, en so aan. Mense daar is maar baie arm, so die behoefte is baie groot, en ek het nie ’n inkomste daaruit verdien nie. Ek moes soms selfs vir mense medisyne gee uit my eie sak. In die laaste jaar het ek gewerk by ’n Afghaanse mediese kliniek – anders as Afghaanse vrouedokters kon ek as Westerling darem manspasiënte ook behandel.

En wat is jou plan vorentoe?
Vir eers sal ek saam met my ouers en my suster Kersfees vier… dit sal natuurlik hartseer wees, maar dit sal darem beter wees as verlede jaar. En dan vorentoe wil ek weer my voete vind in die mediese wêreld. Ek wil ook my geloof uitleef in my beroep, so ek wil werk daar waar sekulêr en die geestelike mekaar ontmoet. Dit kry ek by die Triomfkliniek; dis medies maar dit gaan ook oor uitreik na mense wat dit nie kan bekostig nie. Daar is so baie hartseer daar buite; dit maak regtig mens se oë oop vir al jou seëninge.

Atterbury Trust help elke jaar studente wat dit nie kan bekostig nie, om verder te studeer. Gestel jy het ’n blanko tjek gehad waarmee jy mense se lewens kon verbeter, hoe sou jy dit aanwend?
Ek sou ’n skenking gee vir die sending. Afghanistan is in my hart, so dit is waarheen ek dit sal stuur. Die behoefte is so groot.

1 Response

  1. Mari snyman

    Op Cullinan staan n hospitaal leeg, wil u nie oorweeg om die hospitaal aan te koop en weer in gebruik te bring nie? Soveel kan baat vind daarby.

Leave a Reply

%d bloggers like this: