27 September, 19:00 – 21:00

R175

Ons hou konsert op 27 September om fondse vir die Triomfkliniek in te samel. Die Triomfkliniek is in 2014 met die hulp van Atterbury Trust en ’n paar vrywilligerdokters op die perseel van die Suid-Afrikaanse Vroufederasie (SAVF) in die weste van Pretoria geopen om finansieel behoeftige pasiënte met waardigheid te versorg.

Vir hierdie fondsinsamelingskonsert vir die Triomfkliniek, het die immerveelsydige Lizz Meiring aangebied om as seremoniemeester op te tree. Kunstenaars wat op die verhoog te siene sal wees, is Jo Black, Appel en Jacqueline Tolken.

Jo Black is ’n nuwe sangsensasie in Suid-Afrika wat sy eerste liedjie, “Skepe” op 25 November 2016 as enkelsnit bekendgestel het. Volgens Netwerk24 het dié einste liedjie selfs die gewilde Karen Zoid op iTunes geklop! Jo se eie storie van verslawing en die pad wat jy gestap het, is aangrypend en inspirerend.

Skepe is deur Jo self geskryf en is in sy eie woorde “’n Lied wat ek hoop mense sal inspireer om aan te gaan, op te staan en ’n verskil te gaan maak. Dit maak nie saak waar jy in jou lewe is nie, dis nooit te laat om jou kop op te tel en vorentoe te gaan nie. Dis ’n lied wat met jou siel moet praat meer as wat dit vir jou ore bedoel is. Hopelik kry elkeen ’n stukkie hoop hieruit.”

Appel het naam gemaak as liedjieskrywer vir Afrikaanse sangers soos Jan Blohm, Theuns Jordaan en Karlien van Jaarsveld. Hy bring in 2017 die eerste keer sy eie album, Lei my na die water, uit.

Jacqueline Tolken het bekendheid verwerf as een van die Voice finaliste

Die Triomf kliniek is ’n plek van hoop, sorg en omgee en met die opbrengs van hierdie konsert, word daar beoog om die tandartskamer by Triomf in werking te stel.

Verryn Mathlare Inc en Atterbury Trust is die hoofborge van die geleentheid in die Atterbury Teater.

 

27 September, 19:00 – 21:00 Atterburyteater