Dit is ‘n maand sedert die Triomfkliniek sy deure vir Pretoria-Wes se behoeftiges oopgemaak het, en Atterbury Trust is geweldig trots om te sien hoe hierdie baken van hoop sy voete vind in die landskap. Almal wat kom aanklop vir hulp is beindruk deur die netheid van die fasiliteit en die empatie van die versorgers.

Daar is natuurlik nog groeipyne, bevestig Dr Marc Roscher, een van die medici wat pa staan vir die oorspronklike idee wat gelei het tot die kliniek, maar daar is reeds sowat 40 pasiënte gehelp. Die suster wat die kliniek daagliks gaan beman, kon nog nie haar pos inneem nie, maar ‘n tydelike werker is aangestel om te help met die administratiewe lading tot tyd en wyl.

Dr Roscher laat hom nie keer deur afstand nie. Hoewel sy dermatologiepraktyk in KwaZulu/Natal gebaseer is, het hy reeds een velkliniek kom aanbied en agt pasiënte op die een dag gesien. “Hulle was almal puik verwysings – twee kankeroperasies ook – ek is seker ons ingryp daar gaan ‘n groot verskil aan mense se lewens maak,” vertel Dr Roscher. “Verder gaan ons ‘n teledermatologie-kliniek op die been bring, waardeur ons internetkonsultasies en voorskrifte kan doen – dis uniek tot dermatologie en ‘n internasionaal-aanvaarbare tegniek wat goed werk,” verduidelik hy.

Daar is reeds een ander dermatoloog gevind wat kan hand bysit, en hoe meer dokters op die rooster kan kom, hoe meer mense sal die kliniek natuurlik kan help, aldus Dr Roscher. “Ons het veral algemene praktisyns vir die oggendsessies nodig. Ons hoop veral dat ons binnekort gekwalifiseerde dokters van die Universiteit van Pretoria se departement van Huisartskunde kan betrek – dit gaan baie help.”

Sy kollega, Dr Steve Rossouw, wat vandeesmaand ‘n paar keer pasiënte by Triomf Kliniek gesien het, stem saam. “Tuksstudente kan enige tyd kom kyk wat daar gebeur, maar ons kan hulle beslis nog nie op ‘n vaste roosterprogram laat kom as daar nie elke dag ‘n dokter is nie. My ervaring is dat die studente dié tipe blootstelling baie geniet: hulle kan self diagnoseer en medisyne voorskryf, maar die dokter aan diens moet dit mede-onderteken.” Volgens Dr Rossouw het die meeste pasiënte wat hy in maand een gesien het, nie mediese fondse nie, of net minimale dekking. “Heelwat van hulle het net ‘n hernuwing van ‘n voorskrif nodig, maar in privaatpraktyk beteken dit telkens ‘n volle konsultasiefooi wat hulle nie kan bekostig nie. Ek moes ‘n paar mense ondersoek wat aansoek gedoen het om in ‘n versorgingseenheid opgeneem te word. Blykbaar is die private fooi vir die invul van die vorms by die R500 elk, so ek is bly ons kan mense help wat andersins dalk nie hulp sou kry nie omdat daar nie geld is nie…”

Tipiese kwale waarmee mense by die kliniek opgedaag het in die eerste maand sluit in hipertensie, diabetes, artritis, mantelvliesbreuk, maagsere, hardlywigheid, was in die ore, chroniese brongitis, ekseem, epilepsie… dit wat dokters in algemene praktyk ook tipies teëkom, sê Dr Rossouw. “Hier en daar moes ek mense verwys na staatshospitale om byvoorbeeld duur medisyne te kry en een pasiënt wat beslis gloukoom het en wat redelik haastig by ‘n oogarts moes uitkom.”

So behalwe nog ekstra gekwalifiseerde hande, wat is nou die nodigste by die Triomfkliniek? Eerstens die suster wat tussen 8vm en 4nm kan afsprake maak wat die dokters en pasiënte pas, en ‘n interkomverbinding, dalk met geslote-kringtelevisie en afstandbeheer met die buitehek om toegangsbeheer te vergemaklik, noem Dr Rossouw op. ‘n Badkamerskaal, ‘n babaskaal, ‘n MIMs medisyne-naslaanboek en ‘n ligkas om X-strale mee te lees – “selfs ‘n oue wat reg is om afgeskryf te word” – is ook op sy behoeftelysie, saam met ‘n rubberstempel met die kliniekbesonderhede op vir verwyingsbriewe en voorskrifte. “Op die oomblik gebruik private dokters hul eie gedrukte voorskrifboekies en as ons van die voltydse dokters en spesialiste van Kalafong gebruik, het meeste nie hul eie voorskrifboekies nie.”

Intussen is die kliniek se naambord voor die hek verlede week gesteel, waarskynlik vir die staal, en die foonlyne was weens kabeldiefstal tydelik af. Armoede knyp hard in Pretoria-Wes. Die mense van Triomfkliniek en die Atterbury Trust het geen illusies oor die harde werk wat voorlê nie. Maar daar is geen tekort aan gewilligheid en talent en suiwer goeie bedoelinge nie. Kyk maar na Iris Roscher, die afgetrede voormalige voorsitter van die verpleegsustervereniging, wat op 83 waar sy kan hand bysit met die daaglikse funksies by die kliniek. Goeie harte doen goeie dade. En met die hulp van ruimhartige skenkers sal die Triomf Kliniek groei tot ‘n fasiliteit wat die droom van mediese sorg met waardigheid kan bied aan almal wat kom aanklop om hulp. En soos Louis van der Watt, Atterbury Trust se medestigter by die opening beloof het, Triomf Kliniek is net die eerste van baie soortgelyke klinieke.

 

Raak betrokke by Triomfkliniek

Die donasiedoelwit vir die Triomf Kliniek is R1 miljoen. Daar is nog heelwat toerusting wat aangekoop moet word en die bedryfskostes van die kliniek, wat medisyne, elektrisiteit, die suster se salaris en kantooronkostes insluit, sal ‘n gereelde inkomstestroom benodig. Skenkings is baie welkom. Vind hier uit hoe om by te dra:

[gdlr_styled_box content_color=”#ffffff” background_color=”#88b9ed” corner_color=”#00438b” ]

Bankbesonderhede vir skenkings

Rekening Atterbury Trust
Nedbank 1497004187
Takkode 149745

’n Artikel 18 A-sertifikaat sal aan jou uitgereik word vir die belastingvoordele van ’n skenking.[/gdlr_styled_box]