Die Varsgebek-kompetisie is weer in volle swang, en VivA se senior taaladviseur Sophia Kapp van VivA verduidelik op Maroela Media se webwerf waarom jy ook moet deelneem en Afrikaans se idiome-skat verbreed.

Onlangs besoek ek die Kaap en ’n kollega in die onderwys vertel dat haar seun hierdie jaar met sy honneurs klaarmaak. Laaste kind se laaste jaar op universiteit. Sy en haar man het betaal, harde kontant, vir die twee seuns se opleiding, maar dis nou verby. Toe nommer twee sê hy wil verder leer, het sy vir hom gesê: “Dis reg so, maar dan gaan werk jy sodat jy self betaal. Ek het nou lank genoeg vir jou langs my skoene geloop.”

Ek hoor die uitdrukking en verwonder my aan die mooi daarvan. Ek weet waarvan sy praat (ek het self ’n eerstejaar in die huis wat met harde kontant deur universiteit gesit moet word, en ek weet goed hoe smaak brood en swart koffie), maar ek het nog nooit gehoor dat dit so verwoord word nie en ek weet nie hoekom dié mooie taaldingetjie nie opgeteken is nie.

So hier en daar is daar ’n organisasie of ’n liggaam of ’n individu wat al opgemerk het hoeveel nuwe idiome, spreekwoorde, vergelykings en gesegdes in Afrikaans ontspring, en wat dit probeer versamel. Daar is ’n paar lyste op die internet, en daar is groepe op Facebook wat dit deel, maar dis selde dat dié uitdrukkings formeel opgeteken word. Dalk is een van die redes daarvoor dat sulke taalbousels dikwels streeks- of groepsgebonde is en dit dus nie algemeen bekend is nie. Dalk besef mense nie hoe kosbaar dié eiesoortighede in hulle taal is nie en stuur hulle dit nie aan vir woordeboekmakers nie.

Dalk is dit omdat idiome uit die aard van hulle syn versiersels is en mettertyd hulle trefkrag (en gevolglik hulle nut) verloor. Mense hoor dit gewoon nie meer raak nie. (Sien jy werklik nog in jou geestesoog hoe dit lyk as iemand se bont varkies die wêreld vol hol, of knik jy maar net jou kop en dink die arme drommel is wel effe eienaardig.)
Dit sal jammer wees as hierdie skatte onerken verdwyn. Jy ken waarskynlik kosbaarhede soos hierdie wat uit alle uithoeke van die land kom, maar is jy reken seker dit is iewers opgeteken:

• ’n Mank esel se agterpoot af praat (baie en aanhoudend praat)
• Slaan my met ’n pap snoek (dieselfde as “nou toe nou”)
• Ankers uitgooi (vinnig stop)
• Op iemand se battery piepie (iemand se entoesiasme demp)
• Soos ’n ou vrou met ’n nat broek (al kermende)
• Hand om die blaas wees (dik vriende wees)
• Iemand in die oë sit (iemand in die verleentheid stel)
• Nie buskruit uitgedink nie (nie slim nie)
• Die hoofseun/hoofmeisie van iets wees (die beste daarin wees, byvoorbeeld: “Sy is die hoofmeisie van skinder.”)
• Voor in die koor (eerste; voor op die wa)
• Soos iemand met ’n broer in die tronk (weet daarvan, maar praat nie daaroor nie)

By VivA gee ons kompetisie Varsgebek (http://www.viva-afrikaans.org/varsgebek/), alle sprekers van Afrikaans ’n geleentheid om hierdie mooigoed, ougoed en hougoed in te skryf sodat dit in ons databasis opgeneem kan word. Op dié manier word dit deel van Woordeboekportaal, en is dit vir almal in die taalgemeenskap toeganklik.

Verlede jaar se kompetisie het ’n paar baie oulike inskrywings opgelewer:
• Jy kan jou nie ryk koop nie (vertaling vir: “keeping up with the Joneses”)
• Nie ligte musiek nie (moeilik; ingewikkeld)
• Jou kuite styf trek (jou vererg)
• ’n Satelliet sonder sein wees (hoor, maar nie verstaan nie)
• Klein klippies rondskop (jou besig hou met beuselagtighede)

Die weninskrywing (bepaal deur VivA-gebruikers) was “elke moer wil ’n ertappel wees” (elkeen wil belangrik wees), en is ingeskryf deur André Oberholzer. Daarmee het hy ’n gesonde R7 500 losgeslaan – ’n lekker gelukkie hier kort voor die Desembervakansie.

As jy so ’n onopgetekende sêding ken, skryf dit gerus in by varsgebek.org (http://www.viva-afrikaans.org/varsgebek/). Daar is elke maand ’n wenner en die sluitingsdatum is 30 November 2017. Ja, jy kan lekker pryse wen, maar jy kan jou ook daarin verlustig en daaroor verwonder dat die taal wat jy sommer so elke dag praat nou vir die nageslag opgeteken staan. So bou jy saam aan die erfenis wat ons kinders by ons moet oorneem.

Hierdie storie het oorspronklik op www.maroelamedia.co.za verskyn. Besoek gerus die VivA-webblad (http://www.viva-afrikaans.org/) of laai die gebruikersvriendelike slimfoon-app af.