Die natuur in die stad… dit was die inspirasie agter Hoërskool Garsfontein se manjifieke mosaïek wat as deel van Atterbury se Cool Capital Hoërskoolkunsprojek geskep is. Ons het die storie agter die storie gaan haal by die twee kunsonderwyseresse, Annie van Tonder en Olga van der Merwe.

Wat beeld julle Cool Capital kunsprojek uit? Hoe het julle op die tema en medium besluit?
Die gebou waarin ons klasgee word die kunsteblok genoem en hier word die Departement Kuns en Kultuur gehuisves. Drama, Ontwerp, Visuele Kuns asook die kunsvakke vir die juniors word hier aangebied. Voor hierdie gebou is die kunstevierkant wat afgewerk is met beton. Ons het besluit om een muur in hierdie vierkant te versier met kleurvolle mosaїekwerk. As tema is die plante, insekte en voëllewe in die Nood-Gautengstreek gekies. Die leerders is stedelinge en ons wou hulle bewusmaak van die natuur in die stad. Elkeen moes ‘n paneel ontwerp waarin ‘n plant en/of ‘n voël en insek uitgebeeld word. Hulle moes ook navorsing doen oor die volksname vir die plante, voëls en insekte en die woord inkorporeer in hulle ontwerpe. Dit was vir almal ‘n lekker afwisseling om met so ‘n positiewe tema te werk en hulle het dit geniet om ‘n vrolike, kleurryke kunswerk met ‘n sterk dekoratiewe element te skep. Dit het hulle ook bewus gemaak van die kosbaarheid van die natuur in die stad.

Wie was julle kunstenaar-medewerker en hoe groot was haar rol?
Ons het saam met Tineke Meijer gewerk. Sy het op ‘n later stadium by ons aangesluit en het baie gehelp met tegniese advies, veral omdat nie een van die twee onderwyseresse ondervinding van so ‘n groot mosaїekwerk het nie. Die deelnemers het hulle mosaїekpanele individueel op net en hardebord uitgelê in die klas. Eers later is die panele in kleiner stukke gesny en aan die muur vasgeheg. Tineke het dikwels kom saamwerk in die klas en ‘n verhouding met ons almal opgebou – dit was pure plesier en inspirasie om haar daar te hê. Sy het ook heelwat materiaal geskenk.

Wie van die skool het almal saamgewerk – hoeveel kinders in totaal?
Daar was 36 van die leerders in die Graad 11 Ontwerp- en Visuele Kuns-klasse – en diegene wat albei vakke neem het twee panele gemaak. Dan was daar twee onderwysers, Annie van Tonder van Ontwerp en Olga van der Merwe van Visuele Kuns. Tineke en Annie het elk self ‘n paneel geskep, en Bets Honeybourne van die Engelse department ook.

Hoe lank het die projek geneem van begin tot voltooiing?
Ons het agt weke hieraan gewerk. Vier weke is spandeer aan die navorsing- en beplanningsfase en vier vir die uitleg van die finale mosaїekpanele asook vir die hegting en afwerking aan die muur. Dit is nou permanent deel van die skoolargitektuur. Die leerders wat meegewerk het, het almal ‘n nuwe vaardigheid aangeleer.

Wat was die grootste uitdaging omtrent die projek?
Die grootste uitdaging was om so ‘n groot projek met soveel deelnemers te koördineer. Almal het geweet die publiek gaan die werk sien, en dit het almal aangespoor om hulle bes te lewer. Aan die einde het ons besef watter oneindige waarde so ‘n kollektiewe kunswerk het en dat nuwe bande gevorm is.

As julle as skool ‘n kommissie sou kry van Atterbury om ‘n openbare kunswerk vir Pretoria te skep, wat sou julle maak, en waar sou julle dit wou uitstal?
Ons sou graag saam met ‘n ander kultuurgemeenskap in Pretoria ‘n projek in hulle gemeenskap aanpak. Ons leef leef te geїsoleerd van mekaar in Pretoria, so dit sou lekker wees om deur ‘n gesamentlike kunsprojek ‘n ontmoetingsgeleentheid te skep. Ons sou selfs ‘n gemeenskaplike kunswerk in die virtuele ruimte kon skep, wat uiteindelik kan uitloop op ‘n werklike ontmoeting en ‘n tasbare produk.

Wat is julle gevoel oor die Cool Capital Biënnale – wat beteken dit vir Pretoria?
Dis ‘n opwindende geleentheid vir die kunsgemeenskap in Pretoria om mekaar te leer ken en ook vir die publiek om die kunsgemeenskap te ontdek. Die projek het die leerders laat besef dat hulle identiteit gekoppel is aan hulle omgewing en dat selfrespek en positiwiteit geskep kan word deur kuns. Die Cool Capital aktiwiteite in die stad het ook die leerders blootgestel aan ‘n groter wêreld en gewys daar is beroepsgeleenthede in die kunste. Ons is baie dankbaar dat die Atterbury Trust dit vir ons moontlik gemaak het met hulle finansiële bydrae.

garsfontein02_neilhuman

garsfontein-2_olga-van-der-merwe