Triomfkliniek se nuwe vleuel is amper-amper reg om betrek te word, met die laaste afrondingswerk wat vandeesweek gedoen word, en nou span Atterbury en ons gewaardeerde mediavennoot GROOTfm saam om die tandarts-spreekkamer ook finaal reg te kry vir pasiënte.

Die nuwe vleuel het benewens die tandarts-spreekkamer nog drie ander splinternuwe konsultasiekamers: een vir oogkundige dienste en twee algemene konsultasievertrekke. Daar is nuwe lugversorging, behoorlike sekuriteit en ook telefoontoerusting geinstalleer, al die nodige meubels is afgelewer en volgens Suster Adelene Boshoff wat die kliniek daagliks beman, heers daar groot opgewondenheid om die nuwe, groter kliniek se deure oop te gooi.

“Ons is geweldig dankbaar vir die anonieme donateur wat vir ons ’n splinternuwe tandartsstoel geskenk het – ons is halfpad daar om vir die mense van Danville behoorlike, moderne tandheelkundedienste te kan aanbied,” sê Atterbury se Karin Dercksen. “Ons het ook reeds twee tandartse wat goedgunstiglik hul dienste gratis beskikbaar gestel het. Maar ’n tandarts het meer as net ‘n stoel nodig, en dis hier waar ons nou die hand uitreik en vra vir hulp om daardie laaste elemente in plek te kan stel.”

Lede van die publiek word gevra om borg te staan vir individuele toerusting, en die hoop is dat die veldtog ’n tandarts of twee sal bereik wat besig is met opgradering van hul eie spreekkamers, en bereid sal wees om ou toerusting wat steeds in goeie werkende toestand is, te skenk aan die kliniek. “Ons het beslis nie deur die bank splinternuwe toerusting nodig om vir Triomfkliniek se mense uitstekende sorg te kan lewer nie en sal dankbaar wees vir enige gepaste toerusting wat steeds werk. Boonop dra elke bydrae, al is dit R100, by sodat ons die materiaal en toerusting kan koop wat die tandartse nodig het om pasiënte te kan ontvang,” verduidelik Karin. Dit sluit in boor- en stoptoerusting, ’n spoelfasiliteit, ’n X-straalmasjien en tandsement, tandartsgereedskap en meer.

Triomfkliniek sê dankie

Talle insette en bydraes van goedgunstige skenkers het dit reeds vir Triomfkliniek moontlik gemaak om sowat 800 behoeftige pasiënte met uitstekende mediese sorg te help. Ons wil baie dankie sê aan die volgende mense wat onlangs ’n wye verskeidentheid van benodigdhede en dienste geskenk het, van apparaat en sonskerm-materiaal, tot skoonmaakdienste en tuindwergies!

Phillip Fouché – Akacia Medical

Quinton Verloop – Lycoderm

Karien van Staden – Dischem

Yvette van Dyk – Van Dyk Pharmaceutical Products

Pam Lambrecht – Kuipers Group

Elsa Meyer

Charlene –Zuid-Afrikaanse Hospitaal

Dr C van Wyk

Veronica Sterley en Anton Geyer – Supacare

 Skakel in op Riva van GROOTfm se middag-program (Dinsdag, 30 Mei om 14:30) om meer te hoor. As jy kan help tot Triomfkliniek se tandartsspreekkamer toe te rus, kontak asb vir Karin Dercksen op [email protected] of 012 4711600, of maak ’n skenking hier.