Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) het Saterdag 10 Oktober sy 40ste verjaarsdag gehou met ’n partytjie vir almal wat die taal liefhet. Die tema was 40 jaar oud, 40 jaar jonk, skryf Maroela Media op hulle webwerf.

Die gratis Verjaardagfees is in ’n groot tent by die monument aangebied met ’n opwindende program wat optredes deur kunstenaars, ’n fakkelloop, tradisionele kosstalletjies, kinderaktwiteite én die opening van twee nuwe uitstallings ingesluit het. Ivan Botha en Donnalee Roberts van Pad Na Jou Hart-faam was die seremoniemeesters en die program het ingesluit klopse van die Drakenstein Jeug Ontwikkelingsgroep, rieldansers Die Boland Vastrappers, die bekroonde plaaslike mannekoor Adagio en die musikante Willim Welsyn en Ryno Velvet.

’n Hoogtepunt was die bekendstelling van Groen: Tuin van Digters waartydens die digter Marius Titus ’n voorlesing gedoen het van sy gedig, wat ingesluit is in dié uitstalling van 12 gedigte wat vir ses maande in die Taalmonument-tuin vertoon sal word. Gedigte deur mense soos onder meer Breyten Breytenbach, Adam Small, Carina Stander, Marlise Joubert, Marius Titus, Diana Ferrus, Stef Bos, en Koos Kombuis vorm deel van die uitstalling wat in samewerking met die Breytenbach Sentrum op Wellington aangebied word.

Die bedrywighede het behoorlik afgeskop met ’n kanonafvuring in die Tuinteater, met vier skote ter viering van die vier dekades. Kort daarna het die Voortrekkers via ’n 8km-fakkelloop vanaf die Taalmuseum in Pastorielaan opgedaag, waarna die groot fakkel binne die Besoekersentrum aangesteek is.

“Ons is baie opgewonde – dit is die eerste keer dat ’n permanente uitstalling by die Taalmonument aangebied word,” het Jack Louw, direkteur van die ATM, gesê. “Die eerste fase van die uitstalling fokus op die bou en simboliek van die monument, asook op die plek van Afrikaans in die wêreld.”

Die fees het ander aktiwiteite ingesluit soos die oorhandiging van 100 Afrikaanse boodskappe deur Kraal Uitgewers, die bekendstelling van ’n nuwe dokumentêre flim Die Wonder van ’n Nuwe Taal in Afrika, die oorhandiging van ’n Afrikaanse roos deur die FAK, en ’n bekendstelling van die Paarl se nuwe Boomroete, wat by die Taalmonument begin.

’n Hoogtepunt was die aanwysing Saterdagaand van die wenners van die Taalmonument en -museum se eerste Neville Alexander-prestigetoekenning. Alexander (1936-2012) was ’n bekroonde linguis, opvoedkundige en akademikus, wat hom sterk beywer het vir veeltaligheid en moedertaalonderrig in Suid-Afrika. Volgens Jack Louw, Direkteur van die ATM, is die publiek genooi om geskikte kandidate te nomineer as ’n inisiatief om Afrikaans op die voorgrond te bring.

10 Okt Taalmonument 40 amptelike viering 2b

Die Neville Alexanderprys is vir die eerste keer oorhandig. Van links: medewenner Johan Anker (Assistentdekaan van Onderwys, KSUT Wellington), Mashudu Mashige (voorsitter van die ATM-Raad), Isabeau Botha (ATM Bemarkingsbestuurder), medewenner Sabina Dumas en Robyn Dumas.

“Die toekenning is vir  ʼn individu of instelling wat op enige gebied van Afrikaans ’n beduidende bydrae op voetsoolvlak maak,” sê Louw.
“Die ATM wil hierdie toekenning graag ’n jaarlikse geleentheid maak. Ons beroep ons graag op maatskappye en individue wat Afrikaans goedgesind is om hierdie inisiatief van die ATM te ondersteun deur ’n finansiële bydrae te maak.”

Die eerste prys is gedeel deur Sabina Dumas, opvoeder aan New Orleans Sekondêre Skool in die Paarl, en die fakulteit onderwys van die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (KSUT) in Wellington. Die voorsitter van die raad, prof Mashudu Mashige, het ’n sertifikaat en ’n tjek vir R10 000 aan Dumas en aan prof Johan Anker, assistentdekaan van onderwys aan KSUT Wellington, oorhandig.

Foto’s van die dag is op die Taalmonument se Facebook-blad (https://www.facebook.com/afrikaansetaalmonument)

Vir nuus, debatte en meer in Afrikaans, besoek www.maroelamedia.co.za

10 Oktober Carol Botha (8)