_CSC5930-2André Breet, ‘n eerstejaarmusiekstudent aan Tukkies, het skoonskip gemaak by vanjaar se Atterbury Nasionale Klavierkompetisie. Ons het met hom gesels oor sy liefde vir musiek.

Eerstens, baie geluk! Jy het sommer ‘n klomp pryse ingesamel op die aand; noem bietjie vir ons op?
Baie dankie! Ek was die algehele wenner en het ook die prys gewen in die ouderdomskategorie 19 en onder, die prys vir beste uitvoering van ‘n Barokstuk en die een vir beste uitvoering van ‘n Romantiese stuk…

Sjoe! Wat het die eerste plek vir jou beteken?
Dit was ‘n eer om net aan die kompetisie te kon deelneem.  Ek was baie dankbaar om vir al my werk beloon te kon word.

Wat is die hoogtepunte van jou musiekloopbaan tot dusver, voor jy hierdie prys gewen het?
Beslis toe ek aangewys is as die wenner van die 2014 Unisa-musiekbeurskompetisie. En voor dit toe ek in 2012 as solis saam met die Johannesburgse Simfonie-orkes kon optree.

Wie is André Breet as hy by die huis is?
Ek is 19, in my eerste jaar by die Universiteit van Pretoria, en die jongste van twee kinders. Ek woon saam met my pa, André, en my ma, Monica, ‘n hond en twee katte.  Ek probeer soveel as moontlik oefen en in my vrye tyd lees ek graag en speel ook tjello.

Presies hoeveel prysgeld het jy gewen, en het jy al besluit wat jy met die prys gaan doen?
Ek het R45 000 gewen; en ek gaan dit spaar en gebruik vir verdere musiekstudies.

As jy glad nie hoef te gespaar het nie, waarop sou jy jou prysgeld uitgegee het?
Ek sou graag op ‘n toer deur Europa gegaan het.

Wat is jou gunsteling kos?
‘n Bord van my ma se spaghetti bolognaise.

Waar sal jy die heel graagste wil gaan vakansie hou?
Beslis Europa…

Noem drie bekendes, lewend of nie, by wie jy graag vir ‘n week ‘n huisgas sou wou wees; en hoekom?
Mmm. Johann Sebastian Bach, Ludwig van Beethoven en Franz Liszt. Ek sou hoop ek kon by hulle meestersklasse neem, want hulle was bekend vir hul uitvoerings, en komposisielesse. Hulle is die komponiste wie se musiek ek die meeste geniet.

Watter tegnologiese uitvinding wens jy wil in jou leeftyd gebeur?
‘n Kar wat self kan bestuur, want ek haat bestuur!

Jy speel klassieke musiek, maar hou jy van ander musiek ook? Wat is die laaste musiek wat jy gekoop het?
Ek luister net na klassieke musiek.  Die laaste CD wat ek gekoop het was ‘n versameling Bach-kantates.

As jy enige kunstenaar van alle tye sou kon sien speel, wie sou dit wees?
Franz Liszt

Terug by  Atterbury. Behalwe om te wen, wat was die lekkerste aspek die kompetisie en watter raad het jy vir kinders wat volgende jaar wil inskryf?
Om my passie uit te leef en om ander mense te ontmoet wat dieselfde voel oor musiek as ek.  My raad vir toekomstige deelnemers is om hard te werk en die belewenis te geniet.

Att Groepsfoto 2014-2