Soms is daar ‘n vlietende oomblik in ‘n mens se lewe wat jy nooit gaan vergeet nie, skryf Zahn Hulme

“Die afgelope Saterdag se drie-uur-lange Manna vir die Boere-konsert is afgesluit met ‘Stuur groete aan Mannetjies Roux’. Toe Laurika Rauch se fluweelstem die tweede versie se refrein “O stuur ons net ons ‘n bietjie reën” inlei, voel ek die eerste fyn reëndruppels op my skouers, en weet dat God ons hoor. En help.

“Ek was gelukkig om ‘n Oupa en Ouma Bosveld en ook ‘n Oupa en Ouma Vrystaat te gehad het. Soos baie van my landgenote het ek kosbare herinneringe van grootwordjare se vakansietye op die plaas – van Brahmanbeeste, skape, geil koringlande en sonneblomme. Van water – ‘n groot Vrystaatse plaasdam en ‘n vol Pongolarivier. Baie van ons het ‘n prentjie van ‘n plaas iewers op ons lewenspad. Ek dink dis een van die redes waarom die huidige droogte ons almal so aan die siel raak.

“Op die lang pad Kaap toe en terug tydens die afgelope Desembervakansie deur die Vrystaat, die Karoo, Noord-Kaap, Noord-Wes en Natal, was dit duidelik dat ons boere swaar kry. ‘n Landskap van leë geploegde lande, bloedrooi droë grond, maer diere en verskroeide mielies.

“Gelukkig is daar altyd Suid-Afrikaners wat planne maak.

“Adam Tas is een van daardie mense. Die droogte het hom so aangegryp dat hy besluit het om ‘n konsert te hou vir die boere. Caring Daisies het daad by die woord gevoeg en begin voer bymekaarmaak. Tonele van die eerste konvooi trokke met 496 bale voer uit Standerton na Schweizer-Reineke op 17 Januarie het baie mense se harte aangegryp.

“Groot borge het aan boord gekom – Wildswinkel, Toyota, Hinterland Vleishandelaars, Atterbury.  Ons wou dié konsert ‘n grote maak. Atterbury Teater se Matthys Maree en Alexa Strachan het met die groot name in die bedryf gaan praat en binne dae het 12 van Suid-Afrika se topkunstenaars aangebied om gratis op te tree. Hulle wou help om manna vir die boere los te sing by die Voortrekkermonument se Amfiteater.

“GROOTfm90.5, Media24, kykNET, RSG en KingPrice het met bemarking gehelp. Meer borge het aangesluit:  John Deere en Pilanesberg Game Breeders. By Piet du Toit Wildbedryf se onlangse veiling is die R800 000 opbrengs uit die verkoop van ‘n swart impala ook aan Manna geskenk. Bakkies Botha en ’n paar van sy wildsboervriende het op die dag ’n tjek vir R400 000 uitgeskryf.

“Maar dis die ondersteuning van ‘gewone mense’ wat my sal bybly. Dié wat van ver af gekom het. Elkeen van die ongeveer 8 000 Suid-Afrikaners wat ‘n kaartjie gekoop het om ons boere te ondersteun. Manna bymekaar te maak. Want daar is ‘n lang winter wat nog voorlê. Mag Saterdag se Manna hoop gee. En geloof. En nog ‘n bietjie reën.”

Die nood bly hoog en donasies is steeds welkom. Vir meer inligting, kontak Anria van Heerden van Caring Daisies, [email protected]. of skenk aan Caring Daisies by Rand Merchant Bank (FNB), Takkode: 222-026, rekeningnommer: 62321551906, Verwysing: Manna