Atterbury se borgskap van die Akademia Sakeplankompetisie bring ons elke jaar in kontak met wonderlike verhale van entrepreneurskap. Vanjaar se pryswenner vir die beste nuwe besigheid is Jaco Ferreira, ’n boerseun uit die Vrystaat wat sy passie vir sport omskep het in ’n florerende fiksheidsonderneming, Revolutionfit. Jaco het ons vertel hoe alles begin het.

Was jy nog altyd fiksheidsgerig?
Ek was van kleinsaf ’n sportfanatikus wat meeste sporte gedoen en baie tennis gespeel en bergfiets gery het. Fietsry is vandag nog my hoofsport. Ek was vir twee jaar in Londen ’n persoonlike afrigter, waar ek met top atlete ook gewerk het. Een van my kliënte is die huidige wêreldrekordhouer vir die vinnigste solo-oorsteek van Atlantiese Oseaan in ’n solo roeiboot. Ek het daarna verskeie entrepreneuriese projekte aangepak, waarvan meestal nie suksesvol was nie maar ek het baie daaruit geleer. Ek was ook al ’n ski- en snowboard-instrukteur by Afriski in Lesotho, en ek vat nou nog gereeld atlete soontoe vir “high-altitude” afrigting.

En hoe het die besigheidsidee vir Revolutionfit ontstaan?
Ek is ’n Crossfit Vlak 1 en ook ’n Crossfit Endurance afrigter, en ek het gesoek na oplossings om endurance-atlete meer effektief te kondisioneer om prestasie te verbeter. Dis juis omdat ek self my ideale kliënt is dat ek gesien het daar is ’n navraag vir oplossings wat rêrig uitstekende resultate gee in ’n kort tydperk, wat nie net ’n “quick fix” is nie, maar gebaseer is op wetenskaplike navorsing en resultate. Ek het op tegnologie afgekom wat ek sien werk het saam met die Crossfit endurance metodiek. Daarvandaan is Revolutionfit in November 2014 gebore.

Is Revolutionfit net vir ernstige atlete?
Nee, glad nie. Ons help ook mense wat net wil gesond wees en gewig verloor, maar wat net nie tyd kry daarvoor nie. Vir sulke ouens leer ons dieëtoplossings aan, sodat hulle verstaan hoe om hulle liggaamsvet te gebruik as ’n energiebron sodat hulle regdeur die dag vet verbrand. Dit, saam met ons baie effektiewe elektroniese spierstimulasie-oefening, beteken dat een 20-minute sessie by Revolutionfit gelykstaande is aan drie ure se normale oefensessie in die gim. Mense spaar dus geld en tyd en kry resultate.

Waar kom die naam vandaan?
Ek het dit Revolutionfit genoem juis omdat ek mense se lewens wil revolusioneer met al die oplossings wat ek hulle bied – dis letterlik die beste van die beste op elke gebied. Ek haal die probeer en misluk uit die proses, sodat my kliënt tyd en geld spaar – jy doen bloot wat ek voorskryf, en jou lewe word gerevolusioneer.

Wat presies het die Sakeplanprys ingesluit?
Dit is R100 000 kontant wat jy in jou besigheid moet aanwend en jy besluit hoe saam met jou sake-mentor (ook deel van die prys –12 maande se individuele konsultasie-sessies, wat ek baie geniet). Ook ’n Nikon J1 kamera, ’n webwerf en bemarkingshulp tot die waarde van R55 000, kommersiele regsadvies vir 12 maande tot ’n waarde van R75 000, individuele konsultasie op besigheidsbestuur en belastingbeplanning tot ’n waarde van R50 000 en die maak van ’n bemarkingsvideo tot ’n waarde van R28 000. Dis ’n uitstekende pakket om jou besigheid ’n goeie hupstoot te gee.

Waar hoop jy sal Revolutionfit oor vyf jaar wees?
Daar sal ’n tak in elke groot stad in die land wees, ook in buurlande in Suider-Afrika. En ons sal ons eerste tak in Londen hê, danksy my kontakte daar, met ’n droom om daarvandaan verder uit te brei.

Hoekom dink jy het jy gewen?
Almal weet mens moet passievol wees oor jou besigheid, maar hierdie val so presies in my “sweet spot”! Dit is waar passie, geleentheid en kapasiteit bymekaarkom; ek het lankal die kapasiteit geskep deur myself op te voed en ervaring op te doen in verskeie velde sodat ek uiteindelik die geleentheid kon raaksien. Die passie vir die bedryf het ek al van kleinsaf, en die geleentheid was voor die hand liggend: mense is nou optimaal bewus van gesondheid te midde van ’n skaarste aan tyd weens ons besige leefstyl. Ek dink ek kon daardie kombinasie aan die beoordelaars oordra, wat my ’n kandidaat vir die prys gemaak het.

Wat gaan jy met die prysgeld doen?
Dit word aangewend in die oprigting van my splinternuwe “flagship” tak in die nuwe Shere-sentrum op Grahamweg, Silverlakes. Alles word daar ingestoot en daardie ateljee gaan al ons oplossings hê. Kom kuier en kyk!

Revolutionfit bied tans vir ’n beperkte tyd ’n spesiale gratis toetssessie aan, so gaan kyk gerus hoe hulle werk en vind uit wat hulle vir jou kan doen. Bespreek by 083 245 4412, of deur ’n epos te stuur na [email protected]. Vir meer, besoek www.revolutionfit.co.za