St Alban’s College het besluit op ‘n muurskildery vir hulle inskrywing in die Atterbury Trust se Cool Capital Hoërskoolkunsprojek. Ons het met die projekleier, graad 11-leerling Selwyn Steyn, gesels oor die proses.

Waar is die muur? Hoekom ‘n muurskildery?

Die muur is oorkant die skool se kapel. St Alban’s College is oorspronklik op ‘n melkplaas gebou, en hierdie muur was altyd deel van die koeiskuur. Ons het daarop besluit omdat baie mense hier verbystap en omdat dit deel van die oorspronklike plaasgebou is.

Wat beeld die muurskildery uit?

Dit is die gesig van Biskop Timothy Bavin, een van die stigters van St Alban’s College. Die fokus is nie eintlik op “wie” dit is nie, maar wie hy verteenwoordig – alle individue wat ‘n impak op ons samelewing het. Aan die regterkant sien jy die woorde “past” en “future”, tussen die twee is ‘n dun blou streep wat die hede verteenwoordig. My inspirasie het gekom van ‘n onderhoud met mediamagnaat Koos Bekker van Naspers wat ek gelees het, waarin hy gesê het: “Mens kan nie die toekoms voorspel deur dit met die verlede te vergelyk nie, mens kan net wag vir die toekoms om te gebeur, en dan daarby aanpas.” Vir my gaan dit oor die mens se impak op die wêreld en die vasvang van die hede.

Hoe het julle besluit op die onderwerp; vertel ons van die proses.

Ons is geinspireer deur die werk van die Portugese graffiti/straatkunstenaar Alexandre Farto. Hy gebruik hierdie beitel-tegniek in al sy werk. Die pleister word van die muur afgebeitel sodat die rou muur gesien kan word en sodoende ‘n prent vorm. Ons het vir twee dae lank aan die muur gekap. Dit was veral moeilik om die proporsies van die gesig reg te kry, omdat dit moeiliker raak hoe groter mens gaan. Wat ook ‘n uitdaging was is die feit dat mens nie juis skakerings en nuanse in die pleister kan maak nie. So waar ons byvoorbeeld skadus gesoek het, het ons krapmerke in die pleister gemaak om die grys baksteen onder te laat wys.

Wat is die naam van die werk?

Past/future

Hoeveel leerlinge het deelgeneem aan die projek? Het dit deel van julle kurrikulum gevorm; kry julle skoolkrediete vir die werk?

Daar was drie van ons en ons het dit in die skoolvakansie gedoen. Dit is nie deel van ons kurrikulum nie, maar ek het die geleentheid aangegryp omdat ek graag in die toekoms ‘n beroep uit kuns wil maak. Dit is ‘n ongelooflik kompeterende bedryf en enige vorm van blootstelling tel in jou guns. Ons al drie geniet kuns so dit was ‘n wonderlike uitdaging en geleentheid om iets “anders” te skep.

Hoe lank het dit geneem om te voltooi en wie het wat gedoen?

Omtrent twee dae, so vyf ure per dag (met Chinese kitskos tussenin!). Ek het gefokus op die proporsies, skadus en algehele estetika van die kunswerk. Ek en Henk Vryenhoek het om die beurt die kapwerk gedoen, terwyl die ander een van ‘n entjie weg perspektief kon gee, mens kan nie van so naby altyd sien of jy die ontwerp reg volg nie. Mark Verryn het die hele proses op video vasgelê en maak ‘n video daarvan wat ons binnekort op Youtube gaan vrystel.

Watter professionele kunstenaar het saam met julle hieraan gewerk?

Die kunstenaar wat aan ons toegeken is, was Diek Grobler, maar hy was in die buiteland ten tyde van die proses het daarom nie deelgeneem nie. Ons sal hom wel nooi om later ‘n moontlike kritsessie te kom gee.

Wat dink julle as kunsleerlinge van die biennale?

Dis ‘n ongelooflike inisiatief wat onsettend baie vir ons stad kan doen. Pretoria is op baie maniere nog kultureel agter ander Suid-Afrikaanse stede. Die meeste mense het nie regtig waardering vir die kunste nie of is nie baie ingelig is oor visuele kuns nie, so die biennale sal dit hopelik verander.

Wat dink julle van openbare kuns?

Openbare kuns is uiters belangrik is, want dit is die enigste vorm van visuele kuns wat na jou toe kom (jy hoef nie ‘n gallery of museum te besoek om dit te sien nie). Die teenwoordigheid van kuns is ‘n bewys van ‘n gesonde, liberale, volwasse samelewing. Daar is ‘n aanhaling wat sê dat kuns nie ‘n vorm van plesier is nie, maar ‘n voorvereiste vir lewe op aarde. Dan moet mens ook nooit die sielkundige waarde van jou omgewing onderskat nie. Die teenwoordigheid van kuns beïnvloed meeste mense.

Kom ons droom bietjie: gestel Atterbury huur julle as skoolkunsdepartement om enige plek in Pretoria openbare kuns op te rig, wat sal dit wees en waar sal julle dit Installeer?

‘n Massiewe, helder spuitverf muurskildery in die middestad – iets wat maklik verstaanbaar is met ‘n positiewe boodskap.

Al die deelnemende skole se werk vir die Cool Capital Hoërskoolkunsprojek sal vanaf Vrydag 3 Oktober tot Donderdag 16 November oop wees vir die publiek.