As mens dalk voel die toekoms van die land is bleek en grimmig, hoef jy nie verder as Atterbury se beursfamilie te kyk om weer van vooraf hoop te kry nie. Neem nou maar ‘n student soos Liezel Coetzee, wat pas aan haar graad in Spraak-Taal en Gehoorterapie aan die Universiteit van Stellenbosch gecum het – die enigste een in haar klas! Die Vrystatertjie het boonop die prys as beste algehele finalejaarstudent in haar kursus gewen, en het ook die pryse vir beste akademiese én praktiese finalejaarstudent ingepalm. Volgende jaar gaan die gelukkige mense van Heilbron baat vind by haar entoesiasme terwyl sy haar gemeenskapsjaar daar deurbring.  Wat ‘n inspirasie!

Vertel ons bietjie van jou agtergrond…
My tuisdorp is ‘n klein dorpie in die Oos-Vrystaat: Bethlehem, waar ek en my ouer boetie en sussie grootgeword het – ek is die laatlammetjie!  My ma is ‘n onderwyseres en sy het ons drie alleen grootgemaak nadat my pa oorlede is toe ek vier was. Dit was nie vir enige een van ons maklik nie, maar ons almal het sterker aan die ander kant uitgekom!

Baie geluk met al jou pryse, jy is behoorlik ‘n slimkop! Waarop is jy die heel trotsste?
Baie dankie!  Ek dink ek is die heel trotsste op die feit dat ek net my beste gegee het, en niks terug verwag het nie. Ek het regtig nie een van die pryse wat ek ontvang het, verwag nie!  Ek het vir myself ‘n reël gestel dat ek my persoonlike beste gaan gee tydens my studies. Die doel was nooit om vir onderskeidings te werk of om myself met ander studente te vergelyk nie.  Dit was wel ‘n baie lekker gevoel om te weet dat my harde werk beloon is.

Hoe het jou paadjie met dié van Atterbury Trust gekruis?
Ek was in die helfte van my eerste jaar toe my Afrikaans-onderwyseres van hoërskool my van Atterbury Trust se beursprogram vertel het. Ek het navorsing gedoen en besef dat ek moontlik ‘n kandidaat kan wees. Ek is toe van 2015 (my tweede jaar) ‘n beurshouer. Ek het soveel wonderlike mense ontmoet en werklik deel geword van die Atterbury-familie.

Hoe het jy besluit op jou kursus – is dit iets wat jy nog altyd wou doen?
Ek het altyd geweet dat ek met mense wil werk en op ‘n manier ‘n verskil in hulle lewens wil maak, maar was al in Graad 11 toe weet ek nog nie presies hoe nie. My sussie het op daardie stadium dieëtkunde geswot en ‘n spraakterapeut het hulle kom toespreek as deel van ‘n inligtingsprogram oor hoe die verskillende gesondheidsprofessies saamwerk om kliënte te rehabiliteer. Sy het my daarvan vertel, maar ek was eers skepties omdat ek gedink het dat spraakterapeute mense net help om klanke reg te sê! Groot was my verbasing toe ek uitvind dat dit slegs een element van die werk is. Min mense weet byvoorbeeld dat ons ook sluk-en voedingsafwykings behandel. Ek het dadelik belanggestel en geweet dat dit is wat ek wil doen.

Wat was vir jou die beste deel van die kursus?
Wat ek die meeste geniet het, is om mense se dankbaarheid eerstehands te ervaar nadat hulle hulp ontvang het. Dis wonderlik om te weet jy maak werklik ‘n verskil.

Hoe gaan jy jou uitstekende eindresultaat opvolg in 2018?
Ons word verplig om ‘n gemeenskapsjaar te doen voordat ons kan praktiseer. Ek is in Heilbron in die Vrystaat geplaas, en ek sien baie uit, omdat ek weet dat ek werklik ‘n verskil kan maak in die gemeenskap. Ek sien ook baie daarna uit om weer ‘n Vrystater te word!

Het jy iemand wat jy as ‘n mentor beskou, en wat beteken hierdie persoon in jou lewe?
Ek het baie sulke mense, maar my ma staan beslis bo-aan. Ek het soveel keer die foon al huilende opgetel omdat dinge partykeer net te moeilik was. As ek klaar met haar gepraat het, voel ek altyd beter en weet presies wat om te doen. Sy is so ‘n wyse vrou, met soveel lewenservaring.  Sy is werklik my steunpilaar.

Hoe lyk jou toekomsdrome?
Na afloop van my gemeenskapsjaar trek ek Pretoria toe. Ek is nog nie seker of ek vir die staat of in ‘n privaat-praktyk wil werk, of selfs my eie praktyk wil begin nie!  Ek beplan ook om my meestersgraad te doen binne die volgende drie jaar. Langtermyn hoop ek dat ek ‘n terapeut kan word na wie mense kan opkyk!

Hoekom dink jy is Atterbury se beursfonds so belangrik; hoekom moet mense skenkers word?
Atterbury se beursfonds is werklik uniek. Wat wonderlik is, is dat jy nie net finansiële hulp ontvang nie, maar dat die Atterbury-familie konstant wil weet hoe dit met jou gaan.  Studente van hierdie beursfonds word ook aangeraai om GRO-sessies by te woon, sodat jy as mens kan groei.  Dit is ‘n ondersteuningsraamwerk wat jy nie op ‘n ander plek sal kry nie.  Atterbury se beursfonds het werklik ‘n verskil gemaak in my lewe. Mense moet skenkers word om ook ‘n verskil in ander se lewens te maak!

Vertrou jou donasie aan Atterbury Trust toe, en ons wend dit aan om nog sulke inspirerende jongmense te help om hul toekomsdrome waar te maak. Kliek hier en vind uit hoe maklik dit is om te skenk.