Johann Joubert (ons hoor sy bynaam op Paul Roos se rugbyveld was “Vlam”), is een van Atterbury se splinternuwe beursstudente, wat pas sy eerstejaar in bedryfsingenieurswese aan Stellenbosch Universiteit begin het. Ons het met die sportmal 18-jarige gesels oor sy eerste indrukke van die studentelewe

Vertel ons meer oor jou agtergrond.
Ek is in Durbanville gebore en was daar op skool tot Graad 7. Toe is ek Paul Roos Gimnasium toe waar ek ook in die koshuis gebly het. Ek is van kleinsaf mal oor sport… ek speel rugby, waterpolo en onderwater-hokkie en op skool het ek ook nog aan atletiek en tweekamp deelgeneem. Die see is die enigste ding waarvan ek meer hou as sport – enigiets wat met die see te doen het! Ek ry branderplank, ek “kite surf”, ek duik kreef en ek hou selfs my lyf lewensredder as ek enige tyd afkry.

Hoe het jy by die Atterburybeurs uitgekom?
My ma het by ’n kollega van julle beurse gehoor en my toe daarvan vertel.

Wat was jou plan B as jy nie die beurs gekry het nie?
Ek het nie werklik ’n plan B vir finansies gehad nie; ’n beurs was my enigste opsie en daarsonder sou ek nie kon gaan studeer nie. So ek is ongelooflik dankbaar vir die Atterburybeurs.

Hoekom bedryfsingenieurswese – is dit ’n veld wat jou van kleinsaf geinteresseer het?
Ek het ingenieurswese gekies, omdat ek goed is in wiskunde en omdat ek daarvan hou om probleme op te los. Ek is ook goed daarin om te werk met mense; en bedryfsingenieurswese bied die meeste geleenthede binne die veld om suiwer probleemoplossingsvaardighede saam met menseverhoudings toe te pas.

Waar gaan jy tuis op Stellenbosch?
Ek bly tans in Eendrag manskoshuis wat ’n ongelooflike lekker ervaring is. As ek huis toe gaan, is dit na my ma toe, wat in Somerset-Wes woon.

Wat is jou eerste indrukke van die studentelewe? Wat dink jy gaan jou grootste uitdaging wees op universiteit?
Die hoeveelheid vryheid wat jy op universiteit het, is opvallend. Tydsbestuur gaan duidelik noodsaaklik wees om my graad te kry, aangesien daar so baie aktiwiteite is waarby ek wil betrokke wees…

As jy jouself enige plek in die wêreld kan sien oor 10 jaar, waar sal dit wees?
Ek is baie oop oor wat die toekoms vir my inhou. Ek glo alles gebeur met ’n rede en solank ek myself reg toerus, sal ek in die regte rigting gaan. Ek is dus baie opgewonde oor die toekoms, want ek weet my graad gaan vir my baie geleenthede gee, hoewel ek nog nie weet presies watter daarvan ek gaan aangryp nie!

Atterbury bied aan weldoeners die geleentheid om ’n spesifieke student te borg, of by te dra tot die beursfonds, wat ons administreer om meer talentvolle leiers van die toekoms te kan help met hul studies. Om meer uit te vind, stuur ’n e-pos aan Zahn Hulme by [email protected], en om te skenk, kliek hier.