Om met woorde te speel, is nie almal beskore nie. As jy dus dink jy het digtalent, skryf in vir vanjaar se BoekeJol-digkunskompetisie, nooi Maroela Media op hul webwerf.

Dit maak nie saak hoe oud jy is nie, en jy word ook
nie in ʼn boksie geplaas wanneer dit kom by die tema nie. Die tema vanjaar is “Kom ons gesels”. Waaroor gesels jy en jou mense? Vertel ons in digvorm; takel nou pen en papier of jou sleutelbord, en wys ons jou talent. Dit is die tweede jaar wat Maroela Media en BoekeJol dié digkunskompetisie aanbied.

Om jou te inspireer, hier is 2017 se wengedig, deur die digter Alida Marais:

 

Midde (ons) winter

hiér waar jy donkerkolle gelos ’t

en soveel nikssê’s tussen ons

bid ek vir son oor jou skouers

want jy raak my steeds

jy raak my soos stiltes en stukkendwees

en selfs tussen vlae verkluim

bly ek dink aan jou soos vlamme en fynhout

en die kleur van somers

want jy roer my nog

jy roer my soos iets wat opwel en oorloop

en van vooraf neig na die flonker van vergifnis

 

“In ʼn gedig kan iemand uiting gee aan hul eiesoortige gevoelens, gedagtes en leefwêreld,” sê Dia van Staden, organiseerder van BoekeJol. Die wenner van die kompetisie ontvang R3 000, die naaswenner R2 000 en daar is ook ’n derde prys R1 000.

Klik hier om jou gedig in te skryf (https://maroelamedia.co.za/kompetisies/inskrywing- digkunskompetisie). Die sluitingsdatum is Vrydag 10 Augustus 2018.

 

Hierdie storie het oorspronklik op www.maroelamedia.co.za verskyn.