Mens gee jou ouderdom lelik weg as jy nostalgies raak oor desjare toe toneelgeselskappe gereeld deur Suid-Afrika getoer het om opvoerings na klein dorpies op die platteland te neem… maar enigeen wat al die towerkrag van daardie aande van konserte in stowwerige skoolsale en stywerige kerksale beleef het, sal dit altyd onthou. So hou vas en raak opgewonde… die konsep van die rondreisende konsert het pas ’n moderne baadjie aangetrek, en kom na jou dorp in 2019, danksy Atterbury Trust en sy medewerker in die kunste, Matthys Maree. Ons het die details van die opwindende Optog! konserte eerstehands gaan uitsnuffel by Matthys homself…

Hoe opwindend! Presies hoe gaan Optog! 2019 werk?
Die beginsel is dat ons sowat 20 kunstenaars/produksies kies om in meer as 30 bestaande teaters en lokale regoor die land konsert te hou, met Nataniël as die gesig van die projek. Ons onderhandel met die kunstenaars en organiseer die konserte in die gekose dorpe. Gemeenskappe kan dan deur die loop van die jaar ’n keur van vertonings in hul eie omgewing sien. Ons beoog om ook met plaaslike feeste, organiseerders, sakelui en media hande te vat.

Waar kom die idee vandaan?
Veral Afrikaanse kunste kry nie meer enige regeringsondersteuning nie, en oorleef bloot danksy ingrype deur die private sektor en weldoeners. Dink maar aan KKNK, Aardklop, Innibos, Skouspel, Afrikaans is Groot, ensomeer – hul voortbestaan hang grootliks af van finansiële steun deur korporatiewe instansies, omdat kaartjieverkope alleen nie produksiekostes dek nie. Vele feeste het reeds skipbreuk gelei, dink maar aan die Kolligfees in Durban en Gariepfees wat in Kimberly gehou was. Die Optog! model bring die feeskonsep op kleiner skaal na verskillende dorpe, met ondersteuning deur nasionale en plaaslike borge, wat beteken dat aktiveringsmoontlikhede aangepas kan word by die streek op ’n manier wat gesentraliseerde produksies nie kan nadoen nie. Ons probeer dus kyk hoe aanloklik ons die bemarkingsmoontlikhede kan maak vir ons sakevennote, om die kunste weer voete te gee regoor Suid Afrika en Namibië. Verder sny ons kostes deur eenvoudig vroegtydig te beplan en reisreëlings so doeltreffend en ekonomies moontlik te skeduleer.

Is die dorpe al vasgestel?
Die lys is gefinaliseer, maar ons moes reeds by geleentheid of twee ruimte maak vir nog ’n lokaal êrens. Die voordeel van hierdie model is dat dit vloeibaar is en dat niks ons verhoed om in die toekoms nuwe opsies te oorweeg of huidiges weg te laat nie.

En die kunstenaars? Watter kriteria gebruik julle om te kies wie mense op die verhoog gaan sien?
Ons liefde is vir die teater, maar formele teater gaan nie noodwendig lewe terugblaas in die platteland nie, bloot net as gevolg van die jarelange afwesigheid daarvan. Musiek is die waarskynlike voertuig wat weer ouers en kinders gaan motiveer om die tablette en fone eenkant toe te skuif en mooi aan te trek om te gaan konsert kyk. Buiten vir musiek van alle genres is daar wel ’n seleksie van enkele teaterstukke wat op die planke gebring gaan word. Ons probeer nie die huidige feesmodel nadoen nie; ons bring kwaliteit kunstenaars met ’n liefde vir die teater na die uithoeke van die land om sodoende weer in Afrikaans vermaak te kan word daar waar ons bly. Tydens ons media-vrystelling op 17 September by die Atterbury Teater word die name bekend gemaak! Natuurlik is Nataniël een van die vele name op die lys.

Ons hoor dat daar ook ’n element van terugploeg in die plaaslike gemeenskappe is?
Waar nodig, het ons ’n geldjie weggesit om die plaaslike, dikwels dormante teaters/stadsale wat deel vorm van die projek, op te gradeer – ’n nuwe laag verf, verhooggordyne of beligting wat daarna natuurlik tot voordeel van die hele gemeenskap is.

Wanneer sal dit afskop en hoeveel vertonings gaan daar in totaal wees?
Ons beplan bykans 250 vertonings wat tussen Februarie en November 2019 sal plaasvind. Die plan is om Optog! na 2019 ’n jaarlikse instelling te maak. Ons bereken dat meer as 100 000 kaartjies verkoop sal word teen pryse wat wissel tussen R160 en R250.

Vir meer inligting oor Optog!, besoek www.optog.co.za, of stuur epos na [email protected]. Volg Optog! op Twitter, Instagram of Facebook vir die nuutste inligting. Die hele program word 17 September bekend gemaak met ’n volledige lys van produksies en lokale regoor SA en Namibië. Plaaslike besighede is welkom om betrokke te raak as mede-borge/ambassadeurs van Optog!