McLaren-sirkus is nie net die grootste sirkus in Afrika nie, maar vier ook in 2015 hul tiende bestaansjaar. Die sirkus het die mylpaal saam met Atterbury se medewerkers, die gemeenskapsradiostasie GrootFM, gevier deur onlangs ‘n gratis vertoning aan te bied vir 600 behoeftige Pretorianers, skryf Esté Meyer Jansen on Maroela Media se webwerf.

Van die organisasies wat die sirkusvertoning bygewoon het, was onder andere Choc House, Reach for a Dream, die SAVF, Helpende Hand, Hospice, Eljada Huis, Moeggesukkel, Jakob se Put, Uncle Ben’s Den, Feed a Child, PEN, SA Cares for Life en verskeie behoeftige kleuterskole, kinderhuise, huise vir mense met gestremdhede en ouetehuise.

Volgens Lindie Strydom van GrootFM is dié sirkusvertoning net die regte medisyne om die lang, koue wintervakansie vrolik in te kleur. “Een van ons gaste hier vandag is die kankervegtertjie, Ruben Scharneck en sy gesin. Hy het 10 van sy beste maats genooi om ook die sirkus te ervaar,” sê Lindie

Sy het haar dank teenoor die McLaren-sirkus uitgespreek: “David McLaren en die span van die sirkus is die sterre van die dag. Hulle het hul harte vir die behoeftige gemeenskap van Pretoria oopgegooi en kon die vreugde van vandag se sirkusvertoning ervaar.”

Oud en jonk is vermaak deur akrobate van regoor die wêreld, hansworse en allerlei dieretoertjies deur ‘n wit tier, leeus en perde, ponies en Franse poedels.

David, die eienaar van die MacLaren-sirkus, het die oggend se vertoning afgesluit deur almal te herinner dat kinderdrome waar kan word: “Ek het op vierjarige ouderdom vir die eerste keer die sirkus bygewoon en toe vir my ma-hulle gesê ek wil eendag my eie sirkus hê. Op 21 het ek my eerste sirkus in Kaapstad geopen. Dit is net nog ‘n bewys dat jou kinderdrome bewaarheid kan word.”

Die MacLaren-sirkus is tot Sondag 19 Julie in Pretoria in Hatfield op die hoeke van Stanza Bopape- en Endstraat. Vir meer inligting oor die vertonings besoek www.mclarencircus.co.za (http://www.mclarencircus.co.za)

Die artikel het oorspronklik op Maroela Media verskryn: http://maroelamedia.co.za/blog/goeiegoed/goeie-nuus/goeie-nuus-groot-bederf-by-sirkus-vir-behoeftige-mense/

Luister na die podcast hier: http://maroelamedia.co.za/?powerpress_pinw=150935-podcast