Ouderdom is bloot ‘n getal vir twee bejaardes wat self ‘n verskil maak aan ander se lot. Burger Meyer het vir Maroela Media se webwerf met Dollie Smith gesels oor die goeie werk wat sy en haar en man, Gert, doen.

Podsending: Speel in ‘n nuwe venster:
http://solmediafiles.co.za/radio/2015-onderhoude/dollie-smith-2015-07-21.mp3

Meer as 26 jaar terug het Dollie (81) en Gert (83) Smith begin om na ʼn paar mense om te sien wat in hul huis kom woon het. Vandag sorg hulle vir meer as 40 bejaardes in hul huis wat nou ook twee siekeboeë en ʼn paar voltydse versorgers het. Die tehuis ontvang geen staatshulp nie en maak staat op skenkings van die gemeenskap.

Burger Meyer het met Dollie gesels oor hul Silwerkroon-nominasie en hoekom sy op 81 jaar nog steeds wil uithelp.

“Die lekkerste deel van wat ons doen,” sê Dollie, “is om mense om jou te hê; veral dankbare mense. Dis lekker as mense vir ons dankie sê vir wat ons doen, of as iemand se kinders dankie sê vir wat ons vir hul ouers doen.”

Dollie en Gert is een van die top-6 Silwerkroon-finaliste, in Solidariteit Helpende Hand se jaarlikste toekennings om mense te vereer wat moontlik oud in jare is, maar steeds jonk van gees en goud van hart. Jy kan vir die Smiths stem deur “Kroon 1” te SMS na 38969. SMS’e kos R10 en die opbrengs sal ten bate van jou gekose finalis se projekte aangewend word. ʼn Lys met inligting oor die finaliste se projekte en prestasies is beskikbaar op silwerkroon.co.za (http://www.silwerkroon.co.za/). Die Silwerkroon-wenner sal in September aangekondig word.

Die ander topraakvatters is:

Mercia Ruthenberg (72) van Brackenfell in Kaapstad; Felicity Combrinck (66) van Kroonstad in die Vrystaat; Erik Bekker (74) van Polokwane in die Limpopo-provinsie; Willie Massyn (66) van Dominionville in Noordwes; Kalvyn Olivier (82) van Sabie in Mpumalanga.

Luister na meer onderhoude van vanjaar se Silwerkroon-finaliste deur hier te klik: http://maroelamedia.co.za/blog/tag/silwerkroon/