Dertig jaar nadat Shaleen Surtie Richards vir die eerste keer haar lyf Fiela Komoetie gehou het, is sy terug om dié geliefde rol weer ’n keer te laat herleef, en die produksie kom ook in Augustus na die Atterbury Teater, skryf Maroela Media op hul webwerf.

Aan die een kant van die berg, in die Lange Kloof, woon Fiela Komoetie, verknog aan haar hanskind; deur die Here aan haar “toebetrou” een nag toe sy hom as driejarige gekry het waar hy voor haar deur staan en huil, ’n weggooilam. Aan die ander kant van die berg, in die bos, woon die houtkapper Elias van Rooyen en sy vrou, Barta, wie se driejarige kind weggeraak het.

Die een kind is Benjamin Komoetie, die ander Lukas van Rooyen. Is dit dieselfde mens? Kon ’n klein kind so ver geloop het, uit die bos tot in die Lange Kloof? Dié vraag word nege jaar later oopgekrap deur twee sensusmanne wat deur die Lange Kloof reis en die wit kind met die blou oë tussen die bruinmense kry.

En jare later is dit die vraag wat Benjamin/Lukas self vra: Wie is ek? Hy móét weet, anders kan die vrou wat hy liefgekry het nooit syne wees nie. Die antwoord is daar, weet hy: iewers in homself, diep verskuil in die verlede, bly dit hom ontwyk.

Dié verhaal van Dalene Matthee wat in 1985 as roman lesers se verbeelding aangegryp het, is verwerk vir die verhoog en was vandeesweek op die US Woordfees in Stellenbosch te sien.

ʼn Landswye soektog na akteurs om die rolle van Benjamin en die jong Nina te vertolk is vroeër vanjaar van stapel gestuur. Frans Swart, regisseur en vervaardiger van Fiela se Kind, meen dié rolle pas die jong akteurs wat die oudisies suksesvol afgelê het, soos ʼn handskoen. “Nadat ons regoor die land meer as 300 kinders gesien het, het ons uiteindelik ons nuwe Benjamin (Vian Singleton van Meyerton) en Nina (Jaime du Toit van Vereeniging) gevind,” sê hy.

“Hierdie twee is ongelooflik talentvol en staan beslis die baie belangrike rolle van die jong Nina en Benjamin vol. Ek is net so opgewonde oor Shaleen Surtie-Richards, die oorspronklike Fiela, wat terug is vir die opvoering. Ons het ook twee wonderlike jong akteurs as die ouer Nina (Marissa Claasen) en die ouer Lukas (Phillru van Achterbergh).”

Dit is vanjaar presies 30 jaar gelede wat Surtie-Richards die rol van Fiela in die fliekweergawe vertolk het. “Ná al die jare geniet ek dit vreeslik om weer die karakter van Fiela te speel – dis so ‘n lekker rol om op die verhoog te vertolk,” vertel sy.

Dit is die derde keer wat dié produksie deur Lefra na die verhoog gebring word, en na afloop van Woordfees sal dit toer na die volgende plekke:

30 April tot 5 Mei 2017: Oppiwater Kunstefees, MSC Sinfonia

9 Junie tot 2 Julie 2017: Marcellus-teater, Emperors Palace, Kempton Park

5 tot 8 Julie 2017: Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees, Nelspruit

18 tot 22 Julie 2017: Vrystaat Kunstefees, Bloemfontein

21 tot 27 Augustus 2017: Baxterteater, Kaapstad

28 Augustus tot 3 September 2017: Atterbury Teater, Pretoria

3 tot 8 Oktober 2017: Aardklop Nasionale Kunstefees, Potchefstroom

Hierdie storie het oorspronklik op www.maroelamedia.co.za verskyn.