Schalk Bezuidenhout het in Mei vanjaar saam met Casper de Vries en Hannes Brümmer in die 3-in-1 vertoning by die Atterburyteater opgetree. Hy het die Atterbury só geniet dat hy besluit het om tydens hierdie vertoning sy eerste DVD op te neem. Kom deel in die ervaring van ’n DVD-opname!

Schalk steek graag die draak met alles van verhoudings tot skolerugby, Afrikaanse radio en ’n gewilde sepie. ’n Vertoning deur hierdie opwindende 24-jarige skerpskertser is ’n moet-sien! Hy gaan jou mis as jy hom mis, so moet hom nie mis nie.

Hy het vinnig vir homself begin naammaak met die 2015 Slurpie Kanna vir Beste Opkomende Kunstenaar (KKNK), die 2015 Comics Choice Award vir Best Intermediate Comedian, asook optredes saam met Trevor Noah. As aanbieder van die program Die Kliek op die DStv-kanaal Via en akteur in die kykNET-reeks Hotel is Schalk ook deesdae ’n bekende op die kassie. Sy Afrikaanse komedievertonings het vanjaar behoorlik begin posvat met optredes by onder meer die kykNET Fiëstas, Woordfees, KKNK en Innibos.