Saadjies – Piepklein kuns gaan groot

Saadjies – Piepklein kuns gaan groot

Mikrokuns wat die wêreld vol reis en kreatiwiteit op speelse wyse uit die formele opset van ’n galery haal… dit was die inspirasie agter die Saadjies-projek, een van die Cool Capital biënnale se mees opwindende kunsgrepe. Ons kry die storie agter die storie van Pieter Mathews, argitek en die vader van Cool Capital.

Vertel ons meer van die Saadjies.
Ons het as deel van Cool Capital 2016, Klein is Groot, ’n oop uitnodiging gerig aan beeldhouers om werke wat niks groter as 180 x 180 x 180mm is nie, in te skryf as deel van die “Saadjies” projek. Daar was geen voorskrif anders as die grootte nie, en dit was bloot omdat dit vervoer moes word. Die reaksie het ons wildste drome oortref –75 kunstenaars het ingeskryf, met meer as 80 werke, van gevestigde beeldhouers soos Sybrand Wiechers, Angus Taylor, Daniel Mosako en Gordon Froud, tot studente en kunsliefhebbers.

Waar het die idee vandaan gekom?
Nadat ek in 2012 van die Venesiese biënnale teruggekom het, het ek gedink hoe koel dit sou wees om die volgende Biënnale in 2016 te ‘sculpture bomb’ met werk uit Suid-Afrika. Die Biënnale is so oorgereguleer en daar is soveel burokratiese rompslomp, so my plan was om ’n paar beeldhouers se werk saam te neem en in protes hierteen te wys wat kan gedoen word as kreatiwiteit gedemokratiseer word. Ek wou die kurator van die 2016 Suid-Afrikaanse pawiljoen aanvat hiermee… en min het ek toé geweet dit sou ek wees!

So dit was regtig die geboorte van die “guerrilla” idee wat jy toe met Cool Capital gevestig het?
Ja! Ons wou die stowwerige ou tradisie bietjie omdop deur miniatuur-kunswerkies te plaas in hierdie gewyde omgewing, en af te neem vir foto’s wat soos ’n “photobomb” tong uitsteek na die formele manier van doen. Die idee was om kuns uit die elitistiese omgewing van die galery te haal en eerder in die strate en op sosiale platforms soos Instagram en Facebook uit te stal. En dis presies wat Cool Capital ook doen.

En waar kom die naam “Saadjies” vandaan?
Daarvoor moet ek my ou vriend Sybrand Wiechers, die beeldhouer, bedank. Ons het baie hieroor gesels, en sy idee vir die naam is gevorm uit ’n kombinasie van letterlike saadjies wat oor die wêreld heen gesaai kan word, en sy disleksiese spelling van psyche. Hy’t vertel hoe hy as eerstejaarstudent in sy notas oor “Cupid and Psyche” gesukkel het om reg te spel, en toe kom “Psyche” uit as “Saadjie”.  Ek was mal oor die idee van die siel van die kunstenaar as ’n klein saadjie, vasgevang in ’n klein kunswerkie wat gesaai kan word. Dit het ook so goed gepas by die tema van Cool Capital 2016, Klein is Groot, want hierdie beeldjies het gewys dat beeldhouwerk nie groot en swaar hoef te wees om groot impak te hê nie.

Hoekom spesifiek beeldhouwerk, en nie byvoorbeeld klein skilderye nie?
Soos ek sê was Sybrand van die begin af betrokke, en dit het organies gebeur. Pretoria is trots om die stad met die meeste gieterye in Suid-Afrika te wees, en baie van ons land se voorste beeldhouers woon en werk hier. Reeds van die begin van Cool Capital af, wou ons die stad se beeldhougeskiedenis vier en bou aan ’n erfenis van openbare beelhouwerke.

Hoeveel van die beeldjies het toe op die ou end Venesië toe saamgereis?
Wel, my idee om die volgende kurator se lewe te versuur draai toe om en byt my, want agt weke voor die 2016 Venesiese Biënnale gee die Departement van Kuns en Kultuur my toe die werk as kurator van die Suid-Afrikaanse pawiljoen… Dit was omtrent ’n geskarrel om binne ’n paar weke ’n uitstalling bymekaar te kry, en ek het toe drie Saadjies saamgeneem. En toe word een van hulle, Sybrand Wiechers se “Brick Psyche”, uit die pawiljoen in die Arsenale gegaps, waar dit op ’n vensterbank uitgestal was. Hy het nogal gevlei gevoel en geniet dit om daarna te verwys as internasionale kunsdiefstal!

En na die Biënnale? Wat word toe van die Saadjies?
Hulle is regtig soos saadjies reg oor die wêreld gesaai – van Kyoto in Japan en Beijing in China, tot Amsterdam, Berlyn, Spanje en Griekeland. En natuurlik ook plaaslik – van die Saadjies is by Richmond in die Karoo uitgestal, in die botaniese tuine op Stellenbosch, by Durbanville Hills in die wynlande en natuurlik in hul tuisstad, Pretoria. Die kunstenaars en hul kontakte het bygedra en aangebied om Saadjies in die mees ongewone plekke af te neem. Ek glo nie daar was al ooit “sculpture bombing” op hierdie skaal enige plek ter wêreld nie. Van die werk het agtergebly in hulle nuwe tuistes, maar die projek het aanhou ontwikkel en soos sekere Saadjies die projek verlaat het, het ander bygekom. Saadjies het wyd getoer, en het deel gevorm van verskeie plaaslike gemeenskapsprojekte en uitstallings. Ons idee met die Saadjies was dat hulle soos regte saadjies wat gesaai word, sal versprei, maar ek het tog ’n droom dat ’n groep Saadjies huis toe sal kom en in Pretoria se nuwe Javett: UP Kunssentrum by Tukkies, wat ons by Mathews and Associates Architects ontwerp het, ’n nuwe tydelike tuiste sal vind.

Waar kan ons die Saadjies sien?
’n Dokumentêre rolprent wat die hele storie van die Saadjies-projek in groot detail vertel, is deur Neil Human vervaardig en word later vanjaar uitgereik. Neil was die amptelike videograaf vir die projek en het geweldig baie materiaal geskiet en bymekaargemaak deur die loop van die projek. Die prent sal beide ’n oorsig wees van die projek en ook vir mense wat nooit die fisiese beeldhouwerke kon sien nie, die kans gee om die Saadjies te ervaar. En intussen reis hulle nog rond, van uitstalling tot uitstalling, so mense moet maar die pers, en sosiale media dophou.

Soek gerus vir #Saadjies op Twitter en Instagram. Lees ook Johan Myburg se artikel “Saadjies” in die Cool Capital Guerrilla Design Magazine

Leave a Reply