Dit was altyd vir Iris Roscher ’n hartsaak om pasiënte met deernis te behandel, veral diegene wat nie duur mediese dienste kon bekostig nie. Dit was tot ’n groot mate danksy haar dat die Triomfkliniek twee jaar gelede gestig is om juis vir Pretoria se behoeftiges “Uitnemende sorg met waardigheid” te verskaf. Ons neem vandeesweek met hartseer afskeid van hierdie wonderlike vrou, wat verlede naweek in die ouderdom van 84 oorlede is.

Iris Roscher het haar loopbaan aan die gesondheidsdienste gewy en was vroeër die direkteur van verpleegdienste van die Departement van Gesondheid en Welsyn, asook die president van die Suid-Afrikaanse Raad op Verpleging. As die tante van Dr Marc Roscher, die dryfveer agter die stigting van Triomfkliniek, was sy van die begin af baie betrokke by die kliniek, en het gereeld ’n draai kom maak, of gebel om te hoor hoe dit gaan, vertel Adelene Boshoff, die klinieksuster by Triomf.

“Ek gaan haar regtig mis. Sy het so baie omgegee, en het altyd reggestaan om te help, of raad te gee, of ’n hand vas te hou as iemand bietjie bang was.” Adelene vertel watter verrassing dit vir haar was toe sy in Oktober 2014 by Triomfkliniek begin werk het, om vir Iris raak te loop. “Sy was ons hoof toe ek destyds in die Sewentigerjare my verplegingsopleiding gedoen het, en omdat my pa hier in Pretoria ’n sjirurg was het hulle in baie dieselfde kringe beweeg. So toe ek en sy begin gesels het, het dit duidelik geraak dat ons so baie van dieselfde mense geken het. Dit was so lekker om haar weer te leer ken en al haar stories te hoor van haar verplegingsdae.”

Iris het gereeld kom kuier by die kliniek, en het elke week gebel om te hoor hoe dit gaan, en of daar enigiets was waarmee sy kon help, vertel Adelene. “En al was dit soveel jare sedert sy aktief in verpleegkunde gewerk het, het sy my geleer hoe om boek te hou van die statistieke van die kliniek, sodat ek aan die einde van elke maand ’n grafiek kon maak wat die werksaamheid en die groei aangedui het.”

Wanneer haar broerskind sy besige driemaandelikse dermatologieklinieke kom hou het, was Iris altyd byderhand om hande vas te hou as pasiënte bietjie bang was as moesietjies uitgesny is. “Sy het altyd gesorg dat daar ‘n teetjie en ‘n beskuitjie was, sy was ‘n regte vertrooster,” sê Adelene. Eerskomende Donderdag, wanneer Dr Marc sy volgende kliniek vir pasiënte met velkwale aanbied, gaan die leemte van Triomfkliniek se engel swaar gevoel word.