Een aspek wat alle Atterburybeursstudente in gemeen het, is dat hulle wyer kyk as akademie, en almal besig is om hul ook voor te berei vir ’n lewe waar hulle diens kan lewer aan ander en ’n impak kan maak in hulle gemeenskap. Ons gesels met Oelof Stander, nou in sy finale jaar van LLB aan NWU Potchefstroom, waar hy in Veritas Manskoshuis woon en ook in die studenteraad dien.

Waar kom jy vandaan, en hoe het jou pad destyds met Atterbury s’n gekruis?
Ek is gebore en getoë in Riversdal in die Wes-Kaap. Ons het later Vrystaat toe getrek waar ek in Bethlehem op hoërskool was en matriek geskryf het. Ek het ook ‘n sussie, Mariska, wat ’n tweede-jaar rekeningkunde student is. Wat die beurs betref, ek het deur ons studenteraadsvoorsitter, Paul Maritz, daarvan gehoor, en ek is bevoorreg om nou al vir twee jaar ‘n Atterburystudent te wees.

Wat beteken die Atterburybeurs vir jou?
Die beurs het dit vir my moontlik gemaak om my LLB-graad te voltooi sonder enige probleme of stres, en my die kans gegee om te groei en deel te neem die studentelewe wat Potch bied, met al die voordele soos die student-leierskapstrukture en die koshuislewe saam met al die sport.

Wat wou jy geword het toe jy klein was?
Soos elke seun wou ek ‘n rugbyspeler word, of iets in die lyn van Batman! Op ‘n ernstiger noot, ek het daaraan gedink om ’n fisioterapeut te word of iets anders sportverwant.

Hoekom het jy regte gekies?
Ek wou nog altyd mense help en ek het gevoel dit is ’n goeie rigting wat mens in staat stel om werklik ‘n verskil te maak in mense se lewens en ook ‘n impak te maak in die gemeenskap. Ek is van plan om my studies in Forensies voort te sit wat sal beteken dat ek ‘n positiewe bydrae sal kan lewer in die korporatiewe gemeenskap ook. Ek is ‘n regverdige mens en ek voel indien die reg regverdig en korrek toegepas word, kan ‘n mens werklik ‘n verskil maak.

Wat geniet jy die meeste omtrent jou pos as SR-lid? Was jy nog maar altyd ‘n natuurlike leier?
Ek geniet dit dat ek die studente wat vir ons stem, kan dien. Dis ‘n voorreg om so jonk blootgestel word aan strukture waar jy self ‘n portefeulje bestuur, kompleet met die bestuur van finansies en die groep mense wat onder jou werk. Ek glo ek is ‘n natuurlike leier. Ek het die voorreg gehad om op die uitvoerende komitee van Sport en Rekreasie te wees, daarna was ek Huiskomiteelid vir sport by Veritas en daarna is ek verkies tot Primarius van die koshuis. Nou is ek so gelukkig om my studentelewe af te sluit met ‘n termyn op die studenteraad met die portefeulje Sport en Rekreasie. Daar is so baie om te leer, en dis lekker om daagliks te groei.

Wat vind jy is die grootste uitdaging op kampus wat studenteleiers se aandag nodig het?
Ek dink een van die grootste uitdagings is dat baie studente nie genoeg geld het om te studeer of selfs om kos te koop nie; mens kan nie honger swot nie. Ek glo op Potch spreek ons die probleem daadwerklik aan en daar word baie geld bestee om te help. Ons SJGD en Jool samel jaarliks baie geld in vir gemeenskapdiens en dié jaar het SJGD meer as ‘n miljoen rand geskenk vir studente in nood.

Wat is jou beste raad vir nuwelinge op kampus om die beste studentelewe te hê?
Neem deel aan alles wat jy kan; moenie later spyt wees nie. Ja, ons is hier om te studeer, maar daar is so baie geleenthede op kampus en op universiteit wat jou kan laat groei as mens en vorm tot die persoon wat die werkplek eendag wil hê. Gebruik elke geleentheid wat daar is om iets nuuts te leer en geniet elke oomblik van die studentelewe, want dit is n voorreg om te kan studeer en deel te wees van so studentelewe.

Wat is jou wens vir die toekoms?
Ek dink almal wil graag baie geld maak en ‘n groot huis en ‘n mooi kar hê! Maar soos ek reeds genoem het, sal ek graag my studies wil voortsit in Forensies. Ek wil my raamwerk verbreed sodat ek in verskeie velde ‘n aanwins kan wees. Ek wil eendag ‘n gesin hê vir wie ek sal moet sorg, so ek wil ‘n goeie werk hê en myself in ‘n posisie plaas waar ek suksesvol kan wees. Ek hoop ook dat wat ek tot hier toe en vorentoe leer, my in staat sal stel om ander te help en in die gemeenskap en in die werkplek ‘n leier te wees.

Dra by tot die Atterbury Trust se beursfonds en stel ons in staat om meer studente soos Oelof te help. Hulle is ons belegging in ons land se toekoms. Om maklik ‘n donasie te maak, kliek hier.