Meer as 5 000 leerders sal weer vanjaar aan Afrikaanse teaterproduksies blootgestel word wanneer Andre Stolz Produksies vir die tiende jaar na Afrikaanse huistaal-skole met drie Afrikaanse produksies toer, skryf Janie Monsieur op Maroela Media se webwerf.

Andre Stolz Produksies bied al sedert 2009 hierdie soort produksies aan met die betrokkenheid van veteraanakteurs soos Bettie Kemp, Isadora Verwey, Riana Wilkens, Amor Tredoux, Elma Potgieter en Karin Retief.

Onderwêreld van Fanie Viljoen, Mis van Reza de Wet en My Japan van Schalk Schoombie is die drie produksies wat dié jaar op toer opgevoer sal word.

“Die geselskappe bly deurgaans dieselfde buiten vir Tessa Denton
wat oorneem by Karin Retief as Gertie in Mis. Onderwêreld kry ook die akteur Danie Putter by. Hy gaan in die rol van Greg afwissel aangesien ons drie optredes per dag in die Wes-Kaap het. Ons toer ook na skole in die Vrystaat, die Oos-Kaap, die Noord-Kaap, Noord-Wes, Mpumalanga en Gauteng,” het Stolz gesê.

Altesaam 7 249 leerders in 114 skole het die opvoerings van Mis in 2017 bygewoon. Dié produksie is ook in 2016 benoem as beste jeugproduksie in die Naledi-teaterpryse.

Stolz het gesê die produksies word aangebied om die leerders ’n beter begrip te gee van die letterkunde wat hul lees én om liefde vir teater te kweek.

“In die eerste plek is die produksie ’n hulpmiddel vir die leerder om die karakters en die storie in die boeke beter te verstaan. Dit vergemaklik ook die onderwyser se taak. Die leerders doen sonder enige twyfel beter as in vorige jare, danksy die produksies,” het Stolz gesê.

“Tweedens het ons hiermee die kans om teater as ’n kunsvorm en ’n loopbaanmoontlikheid aan jong mense te wys wat nog nooit teater ervaar het nie, en wat dit moontlik nooit weer sal ervaar nie. Dit het al gebeur dat leerders later besluit om drama te gaan studeer of om skrywers te word. Ons kan hul hiermee ook net die magic van teater wys,” het hy gesê.

Die produksies word tydens skoolure aangebied en die Afrikaanse departementshoofde van die onderskeie skole tref die reëlings. Leerders van deelnemende skole in ’n spesifieke area kom dan byeen op een plek om na die produksie te kyk.

“Ons begin met Onderwêreld en toer van 19 April tot 30 Mei daarmee. Mis is van 2 tot 23 Mei aan die beurt en My Japan speel middel Julie tot middel Augustus,” het Stolz gesê.

Onderwêreld sal vir altesaam 5 332 leerders in 94 skole in Gauteng, Mpumalanga, Vrystaat, Noord-Kaap en Noord-Wes aangebied word.

Aanbiedings van My Japan is beskikbaar teen R70 per persoon vir Graad 11’s, terwyl Mis en Onderwêreld teen R80 per persoon opgevoer word vir Graad 12’s.

Vir meer inligting besoek die Facebook-blad www.facebook.com/andrestolzproductions/

Die storie het oorspronklik op Maroela Media se webwerf verskyn, www.maroelamedia.co.za