Om na die Venesiese Argitektuur Biennale genooi te word is soos om te hoor jy gaan Oscars toe, en om boonop gevra te word om Suid-Afrika te gaan verteenwoordig met jou uitstalling, voel soos om self die Oscar te wen! As hoofborg van die oorspronklike 2014 Cool Capital in Pretoria was Atterbury Cool Capital se trotse “plus een” by die amptelike opening in Venesië op 27 Mei. Ons gesels met die kurator, Pieter Mathews, oor hierdie groot eer wat Pretoria te beurt geval het.

Wanneer het julle gehoor julle is aangestel as die kurators vir die Suid-Afrikaanse pawiljoen by die Venesiese Argitektuur Biennale, en wat was jou eerste reaksie?
Ons is op 22 Maart 2016 amptelik aangestel. So is ons dus net meer as agt weke gegee om te ontwerp en vervaardig, en vervoer, doeane, verskeping, verblyf en nog vele meer reëlings te tref! Om die tydsfaktor in perspektief te plaas: normaalweg het kurators meer as ‘n jaar-en-‘n-half tyd om te beplan. Ek was in Botswana toe die nuus kom en die kantoor moes my naarstiglik probeer opspoor. My eerste opdrag was dat hulle die Stigting in Venesië moet bel en oortuig om Suid-Afrika in die internasionale katalogus te kry. Dit is dus die eerste keer dat ons in hierdie gesogte publikasie opgeneem is.

Wat presies gebeur by die Biennale en hoekom is dit so ‘n groot eer om as kurator gekies te word?
Die Venesiese Biennale is waar die beste idees van regoor die planeet ten toon gestel word. Dit is ook die mees gesogte Biennale, of skouspel van idees; deels vanweë die groot en langdurige nalatenskap en ook vanweë die plek waar die stigting geleë is. Elke land het die voorreg om hul kurator of kurators te kies om die spesifieke land op die wêreldverhoog te verteenwoordig. Dit het my die geleentheid gegee om van die wêreld se beste argitekte te ontmoet, insluitende meeste van my argitektuur-ikone. Die Biennale fokus afwisselend een jaar op kuns en die daaropvolgende jaar op argitektuur.

Is Cool Capital die enigste Suid-Afrikaanse teenwoordigheid by die Biennale?
Cool Capital was Suid-Afrika se amptelike pawiljoen, geborg en befonds deur die Departement van Kuns en Kultuur. Daar was ook ander argitekte verteenwoordig in die saamgestelde uitstalling in die Arsenale.

Wat het dit behels om Cool Capital daar uit te stal in terme van logistiek? Hoe lank het dit geneem om alles daar te kry en op te stel?
Baie senuwees en ‘n baie effektiewe en goeie span, asook baie hulp van die konsulaat in Milaan. Weens die min tyd en doeanekwessies het ons die meeste van die meubels in Italië laat vervaardig. Carla Taljaard, my regterhand, het meeste van die logistiek hanteer, Jan Hugo die tegniese korrespondensie met die vervaardigers en Chenette Swanepoel die grafika en drukwerk. Jana Kruger se afdeling was korrspondensie en help waar sy kon. Die hele kantoor het ingespring soos ‘n Formule Eenspan wat elkeen presies geweet het wat om te doen. Daar was baie bespreking en dinkskrums waaruit die beste idees na vore gekom het.

Watter elemente van die openbare kuns het julle gekies om saam te neem en hoekom?
Dit was baie maklik – dit wat kon vervoer en beskikbaar was. Gelukkig het Hoërskool Garsfontein ‘n stoelprojek gehad wat besoekers fassineer en betower. Rina Stutzer se Beeld: Vasgevangde Vervlietentheid se armatuur of struktuur was beskikbaar. Die stadsplan deur Eric Duplan is ‘n unieke kunswerk en bevestig Pretoria se statuur. Die pienk Voortrekkermonument was een van ons ikoniese projekte en dui op ons dinamika. Ons ander groot borg was PPC sement, maar omdat dit te duur sou wees om sementbankies te verskeep het ons toe maar twee uit karton gemaak – die Koeksister en die Stadskaartbankie wat by Pretoria se Gautrainstasie staan.

Wat ervaar besoekers aan die Cool Capital uitstalling?
Die idee was om die guerilla, “pop-up” aard van die Cool Capitalbeweging op ‘n opwindende ad hoc manier weer te gee, so ons het tydelike kartonmeubels en kuns-installasies uitgestal. Die amptelike Cool Capitalembleem wat deur die kaart van Pretoria geïnspireer is, word op vele maniere vertoon, onder andere as ‘n grafiese uitbeelding op die bemarkingsmateriaal en ‘n bankie in die vorm van die embleem. Daar is groot foto’s van sekere van die beduidende projekte. Sestien stoele wat skoolkinders onder leiding van die kunstenaar Jan van der Merwe gemaak het as deel van die skolekunsprojek wat Atterbury geborg het, verteenwoordig die eenvoudige en voyeuristiese element van die lewe in die stad.  Die stoele is uitgestal as ‘n kollektiewe teater, maar elke stoel is ook ‘n klein teater op sigself. Besoekers kan in hierdie teater sit en DorpStad, die dokumentêre film oor Cool Capital kyk. Ek moet ook byvoeg dat DorpStad as een van die 60 beste dokumentêre films ter wêreld gekies is om by die SCENECS filmfees in Hilversum, Nederland, vertoon te word.

Wat gebeur nou tussen openingsdag totdat die Biennale in November vanjaar sluit – wie beman dit, en hoeveel mense word verwag?
Die getalle wissel, maar die besoekerssyfers is elke jaar in die honderde duisende. Ons het nie bemanning nie en alles is selfverduidelikend. Om te beman is duur, maar ons het darem ‘n skoonmaakdiens sodat dit altyd netjies en agtermekaar lyk en so `n goeie indruk skep.

Wat was die hoogtepunt van die hele ervaring sover?
Ek het tot dusver so rondgehardloop dat daar nie tyd was om te reflekteer nie, maar vir my was die ongelooflike positiewe ervaring van die hele Suid-Afrikaanse afvaardiging vanuit Milaan wat die opening bygewoon het, en die feit dat ons dit suksesvol in so ‘n kort tyd bymekaargetrek het.  O ja, en beslis dat ek my ster-argitekte of “starchitects” kon ontmoet…

Wat reken jy beteken dit vir Cool Capital se toekoms?
Dit is nou vir die mense van Pretoria om in te spring en ‘n bydrae te maak. So dit lê in die hande van die algemene publiek. Ons het net die vuur aan die brand gesteek. Vanjaar se Cool Capital word van 23 September tot 31 Oktober aangebied. Ek weet dat Atterbury Trust se skoleprojek reeds volstoom aan die gang is!

Nou dat Cool Capital Venesiese Biennale toe is, gaan ons enigiets van Venesië sien by Cool Capital 2016?
Beslis ons 2016 Saadjies projek. Ons het klein beeldhouwerke saamgeneem om Venesië mee te ”sculpture bomb”. Volg die hutsmerke #coolcapital en #saadjies… En daarmee saam bring ons hope inspirasie!

Die Suid-Afrikaanse pawiljoen, in die Arsenale uitstallingsruimte by die Venesiese Argitektuur Biennale, is oop vir die publiek tot en met 28 November 2016. Kaartjies kan aanlyn gekoop word: http://www.labiennale.org/en/architecture/tickets/ Vir meer inligting oor die uitstalling, asook die digitale katalogus en ander memorabilia is op die pawiljoen se webwerf te koop: http://www.southafrican2016pavilion.co.za/