Te midde van die landwye gewelddadige student-onrus, het ’n groep hoërskool-leerders van Pretoria hul stemme op Maandag 31 Oktober op ’n ander manier laat hoor. Die skool se kunsklas het die standbeelde van 55 “struggle”-helde by die Nasionale Erfenismonument in die Groenkloof-natuurreservaat geblinddoek as ’n tydelike installasie.

Die projek is gereël onder die vaandel van die Cool Capital Hoërskoolkunsprojek, wat deur Atterbury geborg is as deel van die biënnale. ’n Professionele kunstenaar is vir elke deelnemende skool toegewys om leiding te neem en saam het die kunsklas dan ’n openbare kunswerk geskep wat as deel van Cool Capital uitgestal word. Die tema vir Cool Capital 2016 is “Klein is Groot” en deelnemers is aangemoedig om werke te skep wat wys hoe klein ingrype ’n sterk boodskap kan oordra. Die betrokke skool, wat saam met die kunstenaar Diane Victor gewerk het, het besluit dat hulle projek die gewelddadige protesaksie sal teenwerk met ’n subtiele boodskap van hoop.

’n Kort, maar kragtige boodskap is in al 11 Suid-Afrikaanse ampstale vertaal, in lino gekerf en op stroke material gedruk, wat toe as blinddoeke gebruik is. Die blinddoeke is bedoel as ’n metaforiese manier om hierdie gerespekteerde helde, wat so baie vir die land en sy mense gedoen het, die huidige onrus, spanning en verwoesting in Suid-Afrika te spaar.

Die blinddoeke dra ’n boodskap van hoop in al die ampstale, en daar is ook gesinspeel op die konsep dat “hoop” soms beteken om blindelings te vertrou in iets groter as die huidige situasie en omstandighede.
Volgens die leerders was hulle boodskap met die installasie dat die standbeelde – en alle Suid-Afrikaners – verby die huidige omstandighede moet kyk en hul vertroue moet plaas in dit wat nog nie sigbaar is nie. Die werk vra dat alle Suid-Afrikaners moet blind staan teenoor ons verskille en eerder fokus op dít waarvoor ons helde geveg het. Deur in hoop saam te werk, werk ons vir verandering en ’n voorspoedige, verenigde toekoms.