Foto: Lindie, Lucinda, Mariana en Zahn

Atterbury Trust se beursprogram bring ons in kontak met baie voornemende studente wat dit swaar het, maar die storie van Lucinda Kruger, wat ons danksy Lindie Strydom van Grootfm 90.5 ontmoet het, het ons hartsnare geroer.

Lucinda het geweet dat haar ouers sou sukkel om haar universiteit toe te kan stuur so sy het in haar matriekjaar ontsaglik hard gewerk om die beste moontlike uitslae te kry. Maar in haar matriekvakansie in Desember 2013, terwyl sy nog gewag het vir haar uitslae, is albei haar ouers tragies in ’n motorfietsongeluk oorlede. Toe die wonderlike nuus van haar agt onderskeidings kom, was dit net sy en haar ouer broer Gustav…

Anders as haar mede-eerstejaartjies daardie Januarie, moes Lucinda sonder die ondersteuning van haar ouers haar studies by Tukkies aanpak. Sy het ingeskryf vir ’n graad in Geo-informatika en danksy haar goeie matrieksimbole het sy vir die eerste jaar ’n beurs gehad. Sy en haar broer en oupa het in die familiehuis in Moreletapark aangebly vir ’n ruk, maar daar was heelwat skuld en uiters beperkte inkomste, en deur die verloop van verlede jaar het beide haar broer en oupa uitgetrek, en Lucinda is toe deur ’n oud-skoolmaat se familie ingeneem. Ondanks al die swaarkry het sy positief gebly en hard gewerk, en einde verlede jaar haar eerste jaar met 15 vakke en ’n gemiddeld van 77% geslaag. Maar die beurs was op, en dit is toe dat sy deur Grootfm 90.5 van Atterbury se beursprogram te hore gekom het… en hoe bly is ons dat ons paaie met hierdie merkwaardige 19-jarige gekruis het!

Welkom by die Atterburyfamilie! Ons hoor ons moet jou musiekonderwyseres bedank dat ons jou leer ken het?
Ja, dit was my hoërskool musiekjuffrou, Mariana du Toit, wat my aan Grootfm 90.5 voorgestel het en my soontoe geneem het vir ’n onderhoud. Die Atterburybeurs was die verrassing aan die einde…as dit nie hiervoor was nie, sou ek dalk nie my studies kon klaarmaak nie, want die finansies was nie daar nie.

Jou vakrigting klink ingewikkeld! Waaroor gaan Geo-informatika en hoe het jy daarby uitgekom?
’n Mens leer hoe om met inligting te werk wat te doen het met die aarde; en deur die inligting en die fisiese voorkoms van die aarde te kombineer met inligtingstegnologie kan ’n mens nie net sien hoe die aarde lyk nie, maar ook hoe dit werk. Ons rigting is byvoorbeeld toepaslik by die programmering van geografiese sagteware, GPS en Google Earth. Ek het in graad 11 ’n Geo-informatikataak gedoen in Geografie, waar ons die skool en al die paaie en geriewe daarrondom moes karteer. Ek het redelik goed gedoen, want ek het dit so geniet, en my juffrou het my aangemoedig om meer te gaan lees daaroor. Van daar het ek besluit dis wat ek wil doen.

Is dit ’n mansgedomineerde studierigting, of klink dit net so?
Nee, ons is eintlik meer meisies in my tweedejaarsklas; ek dink die wêreld het soveel verander wat mansgedomineerde rigtings betref… Dit is lekker om te weet dat ek as vrou met gemak in hierdie rigting kan instap, veral omdat ek uit ’n meisieshoërskool kom.

Ondanks al die hartseer wat jy beleef het, kry jy dit reg om uitstekende uitslae te kry. Hoe motiveer jy jouself deur die donker tye?
Ek glo regtig dat my geloof my dryf en ek is regtig dankbaar vir my ma-hulle wat hul alles ingestoot het in my skoolloopbaan. Ek weet ook ek is die gawe gegee om hard te werk. Ten spyte van die moeilikste tyd in my lewe, wil ek steeds graag my beste doen met wat ek nog het.

En hoe lyk jou ondersteuningsnetwerk nou – wie is jou steunpilare?
Ek het so baie mense wat my emosioneel ondersteun, van om net ’n koffie saam te drink tot om ’n bord kos in die aand te kry. Laasjaar was baie deurmekaar; ek het tussendeur ingetrek by mense wat regtig al soos my familie is en dit help my verskriklik baie. Ek het my boetie en sy verloofde, my oupa en familie. Hoërskoolvriende en nuwes wat ek op universiteit ontmoet het is almal net so dierbaar.

Dit moet baie ure se harde werk verg om so goed te doen. Wat doen jy vir ontspanning?
Ek hou daarvan om musiek te luister of in die natuur te wees, om net bietjie weg te kom van die stad en al daardie dinge. Ek hou ook baie daarvan om met my familie en vriende te kuier, of dit nou ’n vinnige koffie tussen klasse of ’n fliek by Brooklyn Mall is.

Is daar enige aspek van studentelewe wat anders is as wat jy verwag het?
Ek het regtig nie geweet daar sou so baie groepstake wees nie, veral in groot groepe. Dis baie moeilik om almal bymekaar te kry, terwyl mens in hoërskool alles op jou eie gedoen het. Jy kon jou punte bepaal. Maar ’n mens moet ook leer dat jy eendag saam baie mense gaan werk, en die universiteit is ’n goeie leerskool daarvoor.

As jy by enige maatskappy ’n vakansie internskap kon gaan deurbring, watter een sou dit wees?

O, definitief Nasa (National Aeronautics and Space Administration) of Sansa (South African Space Agency)!

En as jy absoluut enigiemand kon kies as ’n mentor, wie sou jy graag op “speed dial” wou hê?
Sjoe, dis ’n moeilike een want ek sien almal in my lewe as ’n mentor, al my ma se vriendinne en die ouers van my vriende. Maar dit sou baie spesiaal gewees het as ek my pa hier kon gehad het as my mentor, om my te help met struikelblokke. Hy was ’n elektroniese ingenieur wat baie met mense in die geografiese inligting-stelsels rigting gewerk het…

En op ligte noot: Kom ons kyk in ’n kristalbal… as jy groot droom, waarvoor sal jy eendag onthou wou word? Watter soort navorsing sou gedoen word in die Lucinda Kruger-vleuel van ’n beroemde universiteit van die toekoms?
Dit sou navorsing wees oor die potensiële gebruik van geoinformatika om die effek op die mens en die omgewing van natuurlike rampe en epidemies te beperk, of te voorkom. Hulle sou werk aan maniere waarop inligting en waarskuwings oor dreigende en ontwikkelende rampe wyd, vinnig en effektief versprei kon word sodat die menslike tol beperk kon word.