Die Pretorianer Thomas Dreyer en sy vrou, Retha, het (met ʼn baie beperkte begroting) deur Europa gereis… hy deel op Maroela Media se webwerf een van die inskrywings in sy reis-dagboek

In die ou terme was sy net 4 voet 8 duim lank. Haar lewe was net so kort, net 47 jaar. Maar sy het die toon aangegee in die wêreld van kabaretmusiek. Edith Piaf, gebore Gassion, “die Swaeltjie van Parys”.

Ons stap af in Rue Belleville in die Chinese distrik van Parys. Die strate is mooi skoon en die geboue modern. Orals is Chinese winkeltjies wat Chinese kruideniersware, klere en allerhande benodigdhede verkoop.

By Rue de Belleville Nr. 72 is ʼn30 cm x 40 cm inskripsie teen die muur. Dit lees: Edith Piaf. Onder langs die deur is ʼn klein blou keramiekteël met die treurige gesiggie van Edith op. Bietjie hoër op ʼn effens groter blou plakkaat met ʼn afdruk van haar gesig.

Voor die deur is ʼn groen plastiekasblik. Ek haal my selfoon uit en speel een van haar mees bekende liedjies, “No regrets”. Voetgangers loop verby en kyk na die deur. Een ouerige dame vra ons of ons weet wat daar gebeur het. “Dit is waar Edith Piaf gebly het,” antwoord ons.

“Nee,” verduidelik sy, “dit is waar sy gebore is. Haar ma was op pad hospitaal toe, maar het nie verder as die trappe gekom nie, toe word Edith gebore. Op hierdie trappe. Sy het nie hier gebly nie.”

“Waar is sy begrawe?” wil ek weet. “Net hier naby in die Père Plaichir begraafplaas,” kom die antwoord. Sy haal ʼn metrokaart uit en verduidelik ons hoe om daar te kom. Ons groet haar vriendelik. “Merci beaucoup.”

Nodeloos om te sê, ons is toe reguit na Père Plaichir. Dit is een van Parys se grootste begraafplase en is al in 1804 begin. Dit lê skuins teen ʼn heuwel en kyk uit oor die stad. Dit is soos ʼn voorstad van Parys, met sy eie klipsteenstrate en straatname.

By die ingang is ʼn groot bord met ʼn kaart van die begraafplaas wat die strate en die verskillende “voorstede” aandui. Langsaan is ʼn bord met ʼn lang lys name en “adresse” van belangrike of bekende mense wat daar begrawe is.

Kyk jy deur die lys val ʼn klompie name jou dadelik op: Jim Morrison, musikant; Frederic Chopin,  Honore Balzac, skrywer; en, natuurlik Edith Piaf.

Ons stap deur die boomryke begraafplaas. Dit is stil, al is daar ander besoekers. Ons stap verby die 19de eeuse krematorium wat nou nie meer in gebruik is nie. Ons stap verby oorlogsmonumente ter herinnering aan soldate wat in die Frans-Pruisiese oorlog van 1870-1871 gesterf het. En die grafte van generaals wat in die Franse oorloë geveg het.

Die meeste grafte is familiegrafkelders waar verkillende familielede saam begrawe is. Sommiges het mooi beeldhouwerke op die grafte, van treurende vroue en imposante mans tot gekruisigde Christusfigure.

Ons gaan soek spesiaal Honore Balzac se graf op. Die beeldhouer Rodin het ʼn imposante standbeeld van hom gemaak waarvan ʼn kopie op een van die metrostasies staan.

Ons gaan soek ook Frederic Chopin se graf op. Klein en eenvoudig met ʼn gesigsrelief van Chopin voorop. Plastiek- en vars blomme is voor sy graf deur bewonderaars neergesit. In die Luxemburg-tuine het ons ʼn standbeeld van Chopin raakgeloop. Nou kan ons die verbindingslyne begin trek.

Uiteindelik kom ons by die verste deel van Père Plaichir uit. Dit is hier waar Edith Piaf begrawe is. Hierdie gedeelte van die begraafplaas het verskeie monumente ter ere aan dié wat in die Duitse konsentrasiekampe gesterf het tydens die Tweede Wêreldoorlog.

Die beelde wat dié monumente versier is aangrypend. Kaal, vel-en-been-figure wat met hulle hande in die lug gryp. Of geboë, moeë mense wat struikelend voortbeur. Dachau, Auschwitz. Die Europeërs wil nie vergeet nie.

Uiteindelik kry ons die Gassion-Piaf familiegraf. Dit is ʼn gewone graf van swart graniet. ʼn Beeldjie lê bo-op die graf. Die name van die familielede wat hier begrawe is, is in goue letters op die swart graniet uitgekerf. Haar dogtertjie wat op twee jaar dood is. Haar pa. En haar man met wie sy ʼn paar jaar voor haar dood getrou het. En natuurlik die “Swaeltjie van Parys”.

Hierdie reisverhaal het oorspronklik op www.maroelamedia.co.za verskyn.