Dis nou maar een ding van ons Atterburybeursstudente – hulle gryp geleenthede aan en blink uit in meer as net hulle studies. Neem byvoorbeeld vir 21-jarige Hanru de Vos. Nie net skitter hy in sy derde jaar van BCom Forensiese Rekeningkunde nie, maar hy is ook die voorsitter van die NWU se PUK koor!

Wie is Hanru as jy by die huis is?
Ek het vir 11 jaar by my ma, ’n onderwyseres, in Pretoria gebly. In Graad 6 het ek en my broer by my pa in Naboomspruit gaan bly, waar ek my hele hoërskoolloopbaan in Hoërskool Hans Strijdom was. Ons het op ’n plaas net buite Naboomspruit gebly – my pa het op daardie stadium ’n wildsplaas bestuur. Ek sal daardie dae vir niks verruil nie. Ons is altesaam vyf kinders; ek het 25-jarige tweeling stiefsusters; ’n 24-jarige broer en my jonger halfbroer wat 17 is. Ons is ’n baie hegte familie; hulle is vir my baie belangrik.

Hoe het jy by die Atterburybeurs uitgekom?
’n Kennis van my ma het ook ’n beurs by Atterbury gehad. Sy het vertel hoe die proses werk en dat sy baie dankbaar was vir die geleentheid wat haar kind gehad het.

Wat was plan B as jy nie die beurs gekry het nie?
Eerlikwaar weet ek nie. My eerstejaar was nog hanteerbaar omdat ek met goeie matriekpunte ’n 100% merietebeurs by die universiteit gekry het wat klasgelde gedek het. Toe was dit maar net koshuis en etes, en tog was die finansiële druk steeds swaar. Maar die universiteit gee nie volle merietebeurse vir seniors nie, en nóg die National Student Financial Aid Scheme nóg banke kon ons help. Dit is verseker net genade dat ek by Atterbury kon inkom.

Hoe het jy by PUK se koor betrokke geraak?
Dit was nog altyd ’n droom van my om in die PUK koor te sing – hulle sang gee mens behoorlik hoendervleis! Ek het in my eerstejaar aangesluit en die impak wat die koor op my lewe gehad het van toe af, het regtig my asem weggeslaan. Ek was vir die termyn 2015/2016 ook op die bestuur met Borge en Lokaal as portefeuljes. Dit was nogals ’n uitdaging, maar ongelooflik bevredigend. Ek wil graag my groot passie vir die kunste, en veral vir die koor uitleef en deel, so toe het ek myself einde verlede jaar verkiesbaar gestel as voorsitter. Ek is dus voorsitter vir 2016/2017, en watter voorreg is dit nie!

Het jy van kleinsaf ’n liefde vir musiek gehad?
Ja ek het. My ma het ook musiek op die PUK geswot, so sy het altyd toe ons klein was vir ons klavier gespeel. Sy het my probeer leer, maar ek was te lui daarvoor (en nou is ek baie spyt). Maar ek sing nog my lewe lank. ’n Stem is immers die liggaam se natuurlike instrument.

Het jy ’n gunsteling slagspreuk waarvolgens jy leef?
“Daar waar die Here jou boom plant, daar sal jy groei” en “Ek het jou op die naam geroep. Jy is Myne.”

Waarheen hoop jy sal jou graad jou lei, en waar wil jy graag oor 10 jaar wees?
Ek hoop my graad lei my na ’n goeie en standvastige werk sodat ek eendag vir my gesin kan sorg. Oor 10 jaar sou ek graag al die korporatiewe leer geklim het na ’n goeie bestuurspos by ’n maatskappy; maar eintlik, as ek net gelukkig is, is dit genoeg vir my.

Wat is jou raad vir vanjaar se eerstejaars? Wat weet jy nou wat jy wens jy het geweet toe jy die eerste keer op kampus aangeland het?
Neem self inisiatief en raak betrokke by alles waarby jy moontlik kan. Niemand gaan oor jou skouer loer en sê jy moet deelneem nie.  Die een ding wat jy kan kry wat jou eendag in die werkplek gaan onderskei van ander, is ondervinding. Op universiteit is daar eindelose geleenthede om ervaring op te doen, veral in kampusstrukture t.o.v. leierskap. Jy moet net proaktief wees en betrokke raak.

Atterbury se beursfonds is afhanklik van ruimhartige skenkers. Jy kan donasies maak, of selfs ’n student in ’n spesifieke studierigting borg. Skakel gerus vir Zahn Hulme vir meer inligting by 082 325 9225, stuur ’n epos na [email protected], of kliek hier om een-twee-drie te skenk. Alle skenkings is belastingaftrekbaar.